Strandkrans

JY HET NODIG 

  • Draad-klerehanger 
  • Slangbos, dodder of bobbejaantou van die bloemiste
  • String skulpies en fyn tou
  • Droë plante soos saadhuisies van die groot wilde-iris (Dietes grandiflora)
  • Tang
  • Tuinskêr
  • Stewige lint

MAAK SO

STAP 1: Buig met die tang die draadhanger in die vorm van ’n groot sirkel soos op die foto’s onder. Die sirkel hoef nie perfek te wees nie, want dit word deur die plante bedek. Maak seker jy draai die draad goed oor mekaar vas sodat die sirkel toe bly. 

STAP 2: Neem ’n klein hoeveelheid dodder (of watter plantmateriaal jy ook al gebruik) en begin om dit om die draadvorm te vou soos op die foto’s onder. Vleg die dodder sodat dit stewig sit. Voeg nog stukke dodder by en hou aan om dit om en om die krans te vleg. Druk los punte na agter.

STAP 3: Knip los stukke af wat te lank is. Onthou dat die finale produk nie baie netjies hoef te wees nie. Fraiings is mooi en jy wil hê dit moet natuurlik lyk. 

STAP 4: Maak versigtig gaatjies in die skulpe of optel-plantmateriaal sodat jy dit met tou aan die krans kan vasbind.

STAP 5: Versier die krans net aan die een kant soos op die foto links. Jy kan self besluit hoeveel skulp- en plant­stukke jy wil gebruik. 

STAP 6: Hang die voltooide krans met ’n groot, stewige lint teen die deur.

Maak só jou strandkrans.
Maak só jou strandkrans.

Kersboomversierings 

JY HET NODIG

  • Droë seepampoentjies en skulpe (soek dié wat reeds gaatjies het of gebruik ’n klein boor om versigtig gaatjies te maak) 
  • Verskillende krale in kleure wat by die skulpe pas, asook metaal­kleu­rige krale
  • Kraalgare
  • Knope (groter as die boonste gat van die seepampoentjies, maar klein genoeg om deur die onderste opening te pas)
  • Dik borduurgare in ’n neutrale kleur
  • Kraalnaald
  • Skêr

MAAK SO

1. Werk voor die tyd min of meer uit hoeveel krale en skulpe jy per versiering wil gebruik. 

2. Steek die kraalgare deur die oog van die kraalnaald en sny tot ’n lengte wat jou pas, plus ’n bietjie ekstra waarmee jy ’n lus kan vorm en afeindig. Ryg dan die krale om die gare te versterk en te versier. Maak individuele versierings deur verskillende kombinasies van skulpe, seepampoentjies, saadkrale en kleiner krale in te span. Gebruik die knope as onderste ankers sodat die seepampoentjies nie deurglip nie. Onthou om ’n lus bo te skep sodat jy die versiering aan die boom of tak kan hang. 

Versier die Kersboom of ’n venster met stringe sku
Versier die Kersboom of ’n venster met stringe skulpe en krale.

Strandloper-toedraaikuns

JY HET NODIG

  • Mooi gedrukte papier in skakerings van blou of groen
  • Kleeflint 
  • Wit sneespapier (beskikbaar by kunsvlytwinkels of bloemiste)
  • Skêr
  • Tou
  • Kraalnaald en -gare
  • Krale in die vorm van metaalkleurige sade, foppêrels en glas 
  • Dryfhout, vere en skulpe wat julle op die strand optel
  • Wit verf
  • Verfkwas
  • Gomgeweer

MAAK SO

STAP 1: Draai die geskenk toe met ’n laag gedrukte papier. Volg met ’n laag sneespapier. Die kleur wat deurskyn gee die geskenk ’n uitgewaste seeglas-voorkoms. As die kleurpapier baie deurskyn, kan jy twee lae sneespapier oorweeg om die regte uitwerking te verkry.

STAP 2: Bind een of twee stringe tou om die geskenk: in een rigting en oorkruis om die toue mooi te laat lyk. Bind onder vas.

STAP 3: Ryg die verskillende krale en pêrels aan die kraalgare. Bind dit vas aan die tou wat jy om die geskenk gedraai het. 

STAP 4: Skep ’n miniatuur-stillewe bo-op die geskenk met die optelgoed wat julle op die strand gekry het. Verf die ontvanger se naam op ’n stukkie dryfhout. Gebruik die gomgeweer om alles stewig vas te sit. 

Die geskenk se buitekant gaan net so gewild wees s
Die geskenk se buitekant gaan net so gewild wees soos die inhoud.

Servette en servetringe

JY HET NODIG

  • 1 vel riffelkarton (te kry by kunsvlytwinkels)
  • Potlood en uitveër 
  • Skêr 
  • Pons
  • Sandkleurige linne (koop soveel as wat nodig is vir die aantal servette wat jy wil maak)
  • 5 m tou 
  • Strykyster 
  • Naaldwerkkryt 
  • Liniaal 
  • Naaimasjien
  • Gare in ’n kleur wat by die materiaal pas
  • Vel wit papier
  • 2-3 groot aartappels 
  • Mes
  • Ou koerantpapier 
  • Kombuispapier
  • Wit tekstiel-ink (te kry by kunswinkels) 
  • Verfkwaste 

Sandkleurige servette vir ’n spoggerige Kerstafel.
Sandkleurige servette vir ’n spoggerige Kerstafel.
Maak só jou servette en servetringe.
Maak só jou servette en servetringe.

Servetringe 

STAP 1: Teken met die potlood Kersbome en sterre op die agterkant van die riffelkarton. Knip dit netjies uit. 

STAP 2: Druk ’n gat in die bopunt van elke boompie en op die punt van elke ster. 

STAP 3: Knip sowat 50 cm tou vir elke servetring. Maak ’n lus wat groot genoeg is dat die servet daardeur kan pas en knoop die lus vas.

STAP 4: Ryg een ster of een boom aan die oorblywende stuk tou. Knoop goed vas en sny die oortollige tou af. 

Servette 

Handgemaakte servette maak jou feestafel ekstra spesiaal.

STAP 1: Was die materiaal om dit op die verf voor te berei. Moenie ’n versagmiddel gebruik nie. Stryk die materiaal goed. Moet niks daarop spuit nie. Torring die selfkant los sodat dit ’n netjiese fraiing vorm. 

STAP 2: Merk die servette met die naaldwerkkryt uit in die grootte wat jou pas en wat die beste van jou stuk lap gebruik maak. Dit kan vierkantig of reghoekig wees. Sny die servette uit. 

STAP 3: Span jou naaimasjien in en sigsag al vier kante van elke servet 1,5 cm van die rand af. 

STAP 4: Torring die lap los tot by die sigsagsteek sodat jy ’n egalige fraiing reg rondom het. 

STAP 5: Maak die stempels: Teken ’n groot en ’n klein ster, asook ’n groot en ’n klein Kersboom op ’n vel papier. Knip dit uit. Sny die aartappels middeldeur en gebruik dan jou papiervorms om die aartappel te merk en met ’n skerp mes uit te sny. Die vorm moet minstens 5 mm hoog uitstaan. 

STAP 6: Bedek jou werkplek met koerant­papier en plaas ’n stuk kombuispapier onder elke servet. Verf met die verfkwas die aartappelstempels met ’n dik laag ink. Druk dan ’n stempel in die hoek van die servet af. Plaas egalige druk op die stempel en hou dit ’n paar sekondes in plek voor jy dit flink oplig. Besluit self hoeveel ontwerpe jy in elke hoek wil druk. 

WENK: Dis ’n goeie plan om eers jou drukvaardigheid op ’n stukkie oorskiet­materiaal te oefen. So sal jy sien of jy te min of te veel verf gebruik en of jou stempel se afdruk vir jou reg is. 

Smeer die stempel elke keer skoon voor jy die volgende afdruk maak. Wees versigtig dat jy nie verf op jou vingers kry nie, want dit kan maklik vlekke op die lap maak. 

Om jou stempels ekstra diepte te gee, kan jy agterna met ’n klein kwas ekstra ink in die middel van die vorm verf. 

STAP 7: Laat die ink goed droog word en stryk dan twee tot drie minute lank goed sodat die ink kan set.

Seewierstring van papier

JY HET NODIG

  • 5 x A4-velle Japannese vesel­papier in verskillende kleure (veselpapier skeur nie sommer nie, maar jy kan ook gewone papier gebruik as jy versigtig werk)
  • Gom
  • Stewige stuk A4-grootte karton 
  • Skêr vir fyn knip 
  • Potlood 
  • Verfkwas

MAAK SO

STAP 1: Teken met die potlood ’n seewierpatroon op die A4-kartonvel soos op die foto onder. Sny dit dan uit sodat dit as jou stensilvorm kan dien. 

STAP 2: Vou ’n vel veselpapier in die helfte in die lengte en trek die seewierpatroon daarop af. 

STAP 3: Sny die patroon uit. Begin by die oop kant van die papier en eindig by die toe kant. Jy knip dus twee panele tegelyk. As jy aan die oop kant begin, gee dit jou ’n stewiger greep namate jy papier van die middel af wegknip.

STAP 4: Herhaal met die ander vier velle papier. 

STAP 5: Plak die seewierpanele met ’n bietjie gom aan mekaar vas. 

STAP 6: Laat die seewierstring goed droog word voor jy dit ophang. Elke string sal sowat 2,2 m lank wees.

Hierdie seewierstringe is ’n stylvolle en go
Hierdie seewierstringe is ’n stylvolle en goedkoper alternatief vir klaterstringe.