Laatlammetjie is ’n heerlike, eg Afrikaanse woord. Baie paartjies begin vroeg met ’n gesin, net om ’n paar jaar later weer te smag na die aanraking van ’n sagte babawang in jou nek, voete wat jou maag knie en waggelbeentjies wat daardie eerste tree gee. En dan is daar ook diegene wat onverhoeds betrap word …

Annamarie Davel van Hendrina in Mpumalanga was 45 toe sy ná ’n kursus antibiotika ontdek het sy is swanger. Vir haar man, Hennie, was dit aanvanklik ’n skok, maar vir haar dogters, Jeanmarie (toe 18) en Soria (toe 15) was dit ’n wonderlike verrassing! Vandag is Dané nege jaar oud. Om op die rype ouderdom van 53 ’n graadtweetjie te hê, is nie altyd maklik nie. Annamarie vertel dat sy soms maar moet ma én maatjie speel, maar dit hou haar en haar man, Hennie, jonk en fiks. “Dané kry alles met ons reg! Jy streef na perfeksie met jou eerste kinders, maar met die laaste een, veral op so ’n laat ouderdom, bekommer jy jou nie meer oor die klein goedjies nie.” Die twee ouer sussies het baklei oor wie Dané kon bad en bottel gee. En noudat elkeen haar eie gesin het, kuier sy gereeld by hulle.

Cobus Bester (34), ’n apteker van Johannesburg, was self ’n laatlam. Sy sussies, Nadia en Helenè, is onderskeidelik ses en agt jaar ouer as hy, maar hy het sy plek as heksluitertjie geniet. “Dit was lekker om twee rolmodelle te hê na wie ek kon opkyk, maar wat my ook toegelaat het om stout te wees,” vertel hy. Ja, hy was die kleintjie en sy mening het nie altyd so baie getel nie, onthou hy laggend. In sekere opsigte beskou die oususse hom steeds as die kleintjie, maar sedert hy ’n beroepsman met ’n gesin van sy eie is, vertrou hulle ook sy mening. Dit was lekker om die laatlam te wees en hy was gedurig verlief op een van sy sussies se vriendinne, onthou hy. Soms is hy getugtig. “Hulle het my aangespreek oor die simpel tienerrebellie wat hulle gesê het my nêrens sou bring nie, maar hul raad was altyd geldig.”

Susan Smit (29), ’n binnenshuise argitek van Wildernis in die Suid-Kaap is gebore toe haar broers – Nico, Dirk en Hendrik – onderskeidelik nege, 14 en 16 jaar oud was. Met haar geboorte was die twee oudstes reeds in koshuis. “As hulle naweke tuis was, het die hele huis lewendig geword.” Ja, hulle het haar kêrels geweeg en dikwels te lig bevind! “Maar hulle het lof toegeswaai waar dit nodig was en gesê ek mors my tyd as dit so was,” onthou sy met ’n glimlag. Sy en haar broers is vandag steeds baie na aan mekaar. “Om ’n laatlam te wees, het my die rustige geaardheid gegee wat ek vandag het. Ek verruil dit vir niks ter wêreld nie.”

Ouboet, ousus en die laatlam

Daar is nie werklik ’n eweknie-verhouding tussen ’n laatlam en haar ouer medespruite nie, meen die Amerikaanse sielkundige Lucille Forer. Dis omdat die laatlammers ouboet en ousus as hul ouers eerder as broers en susters beskou; veral as die verskil ses jaar of meer is. Die uitwerking op almal is positief, sê Lucille. Die ouer kinders beskou hulleself as meer volwasse en verantwoordelik, en die jongste toon die eienskappe van ’n enigste eerder as ’n jongste kind. Met ander woorde, sy het ’n beter selfbeeld en voel meer gewaardeerd en interessant. Die enigste dilemma kan wees dat sy nooit haar status as “die kleintjie” afskud nie.

Hoe berei jy voor op ’n laatlam?

As julle twyfel of julle weer ouers behoort te word, is die antwoord waarskynlik: Ja! Paartjies wat besluit om die sogenaamde fabriek te sluit, weet dit met sekerheid. Oorweeg egter die volgende:

  1. Hoe voel jy wanneer jy ’n nuwe mamma sien? Dink jy: ”Dankie tog dis nie ek nie!” Of is jy effens jaloers? Dink ook mooi waarom jy nog ’n kind begeer en vergeet van faktore soos jou naderende menopouse.
  2. Hoe voel jou maat daaroor? Is julle albei op dieselfde bladsy? As julle nie saamstem nie, vra jou af of dit belangrik genoeg is om jou huwelik se gesondheid in gevaar te stel. 
  3. Is julle gereed om alles van voor af te doen – die laatnagvoedings, die potjielesse, die kleuterskool en laerskool (wanneer jou oudstes reeds klaar is)?
  4. Hoe lyk jul gesondheid en leefstyl? Die risiko van ’n swangerskap op ’n later ouderdom is definitief groter en ’n laatlam sal beslis beteken dat julle buite jul gemaksone sal moet beweeg. Om ’n tiener én ’n baba se roetines te bestuur, kan ’n uitdaging wees.
  5. Vra jou af: Hoe sal ons voel as ons nié nog ’n baba het nie? Hierdie vraag kan baie emosies ontbloot – van spyt tot verligting – en jou meer helderheid gee oor watter besluit die beste vir almal is.

Oorweeg al die voor- en nadele. Nóú sal die nadele (geldsake, ouderdom, min slaap) waarskynlik die voordele in hoeveelheid oorheers. Maar die enkele voordele sal tien teen een die nadele in gewig klop. Jy sal ook nie die heerlikheid van ’n laatlam kan begryp vóór sy koms nie.