Dis moeilik om vir lang tye in die dag van jou nuwe baba geskei te wees. Vir Irene Eybers (34) van Kaapstad is dit ook waar. Boonop is sy as vlieënier nie net vir ’n deel van die dag weg van haar nege maande oue dogtertjie nie. Sy is soms dae lank weg, soms in ’n ander land, en partykeer is sy heeltemal onbereikbaar. Aan die een kant het sy haar beroep, wat baie vervullend is, vertel Irene. Dit is haar kleindogtertjiedroom wat waar geword het. Aan die ander kant is daar klein Emelie, haar grootste liefde en die rede vir haar bestaan. Sy het daarom besluit om haar beroep en moederskap te laat werk. Dit is nie altyd maklik nie en soms voel dit of sy 100 balle in die lug hou, net om 99 op die grond te laat val – maar dit kan gedoen word, sê Irene.

Om te kan vlieg

Irene het in Pretoria groot geword. “Soos met die meeste vlieëniers het iets spesifieks gebeur wat my laat besluit het om te gaan vlieg,” vertel sy. Sy was sewe jaar oud toe sy vir die eerste keer by die vlieëniers in die stuurkajuit van ’n Boeing 747 gaan kuier het. “Dit was tydens ’n nagvlug en al die liggies in die kajuit het baie mooi gelyk. Ek het gedink bemanningslede moet die slimste mense op aarde wees. “Die goggatjie het hard gebyt en ek wou nooit weer iets anders doen nie.” Sy het haar vliegopleiding by die destydse Pretoria-vliegskool by Wonderboom voltooi. Twee jaar gelede is sy met Michael getroud. Net om dinge interessant te hou, is hy ook ’n vlieënier. Irene werk vir Comair, wat British Airways- en Kulularoetes in Afrika vlieg. “Ons vlieg hoofsaaklik binnelands en hanteer ook streekvlugte na ons buurlande toe,” vertel sy. Sy is ’n eerste offisier en vlieg Boeing 737-vliegtuie.

Die oplossing

“Ons werk ongewone ure,” sê Irene. “Soms begin ek al vieruur in die oggend werk en ander kere is ek eers ná middernag tuis. Daarby moet ons gewoonlik werk wanneer almal anders met vakansie gaan, want dis ons bedrywige tye. Dit sluit naweke en vakansiedae in.” Daarby is dit nie net haar werktye wat bestuur moet word nie, maar manlief Michael s’n ook. Hul oplossing was om ’n au pair aan te stel wat kan oorslaap indien nodig en wat by hul ongewone ure kan aanpas sodat daar altyd iemand by Emelie is. Ina Breytenbach is boonop ’n geregistreede verpleegster wat jare se ervaring met babas het. “Ons is so dankbaar oor haar,” sê Irene. “Dit help baie om te sien my kind is gelukkig by haar en ek weet sy is in uiterse betroubare hande.” Dit bly vir hulle baie belangrik om aanwesige en betrokke ouers te wees en Ina werk net wanneer nie een van hulle tuis is nie.

Om ver te wees

Die grootste uitdaging is egter nie die afstand wat daar soms tussen haar en Emelie is nie. “Vir elke lugdiens is die veiligheid van sy passasiers baie belangrik. My grootste prioriteit is om mense veilig by hul bestemming te kry. Daarom vereis dit 100 persent van my fokus en konsentrasie en moet ek heeltemal toegewy aan my werk wees.” Elke ma weet egter hoe sleg dit is wanneer jou kind ’n bietjie olik voel, huilerig is of nie heeltemal gelukkig is nie. ’n Mens bekommer jou die hele tyd oor hulle. “By die werk kan ek nie noodwendig daaraan dink of daaroor wonder nie. As daar iets fout is, kan ek letterlik niks daaraan doen nie. Soms is ek nie net ver weg nie, maar heeltemal onbereikbaar.” Dit is waarom Ina vir hulle soveel beteken. Gelukkig is daar groot voordele aan haar beroep. “Partykeer kom ek weer ’n hele klomp dae ná mekaar vroeg by die huis, of is ek ’n hele paar dae ná mekaar af en kan tyd saam met Emelie deurbring.” Sy bevind haar ook selde in spitsverkeer, wat nog tyd spaar. “As ’n mens my ure tuis bymekaartel, is ek seker daarvan ek is meer as ander werkende ma’s by die huis.” Nog ’n voordeel is dat Emelie saam met haar mag vlieg, al is dit nou nie in die stuurkajuit nie.

Die druk op ma’s

Sosiale media en Hollywood-ma’s laat dit so maklik lyk om ’n ma te wees dat ’n mens dink dis jou werk om alles self te doen, sê Irene. “Dit skep ’n wanindruk van wat dit beteken om ’n mens, vrou en ma te wees. Ons moet besef dat ma wees met uitdagings gepaardgaan en dat dit soms vir ons almal moeilik is. Ons moet ophou om onsself te kritiseer en tekortkominge by onsself te soek.”

Kosbare gesinstye

Gehaltetyd is baie belangrik. “Dis uiteraard soms vir ons moeilik om saam te wees. Daar is tye dat ek en Michael mekaar weke lank byna glad nie sien nie. Maar as ons almal bymekaar is, doen ons baie moeite om al ons aandag aan Emelie te gee. “Ons probeer om in die oomblik saam met haar te wees. Ons skakel ons selfone, tablette en die TV af en kuier saam met mekaar. Ek dink juis omdat ons mekaar so min sien, is ons meer bewus van hoe spesiaal ons tye saam is en beskou ons dit nooit as vanselfsprekend nie.” Irene weet dis ’n groot voorreg om te kan vlieg. “Daar is geen beter uitsig in die hele wêreld as van 11 km in die lug af nie. Ons sien die mooiste sonsopkomste en sonsondergange, sneeu op die berge en Hoëveld-donderstorms. Dis prentjiemooi. Dan is daar ook nog die geleentheid om te reis, nuwe plekke te sien en nuwe mense te ontmoet.” Sedert sy ’n ma is, is dit vir haar heerlik om kinders se opwinding oor vlieg te beleef. “Dit is jammer dat passasiers deesdae deur veiligheidsreëls verbied word om in die stuurkajuit te kom.” Die ongereelde ure is wel nie altyd lekker nie. “Ek voel soms of ek Emelie se vordering en mylpale misloop. Ons is so dankbaar vir tegnologie soos slimfone. Dit maak my so trots op haar as ek ’n foto van haar kry en sien sy kry skielik iets nuuts reg.”

Kopskuiwe

“Om my beroep te beoefen en ’n ma te wees, is nie maklik nie. Dit het baie uitdagings. Maar soos enigiets in die lewe gaan dit oor wat jy daarvan maak en oor die bewustelike besluit om positief te wees.” Irene sê haar werkgewer doen moeite om haar te akkommodeer. “Dit help ook dat my man my beroep ten volle verstaan. “Ons familie en vriende ondersteun ons en help dat ons steeds ons passie kan uitleef. Ek kan ma wees én werk sonder om een van die twee af te skeep.” ’n Ma en ’n vrou is ’n wonderlik geskape wese, glo sy. “Haar kantoordeur is soms toe maar sy hou nooit op werk nie. ’n Ma kan berge versit as sy moet en 100 persent van haarself gee. Wat ’n voorreg is dit nie ...”