Geduld. Deursettingsvermoë. ’n Gesonde humorsin. Dis maar ’n paar van die karaktereienskappe wat jou nuttig te pas kom as jy ’n Desembervakansie saam met twee kleuters wil oorleef.

Dit begin al met die inpakslag. Elke jaar probeer ek my bes om die hoeveelheid bagasie tot ’n minimum te beperk. “Vanjaar pak ek nét die nodigste,” belowe die moeder des huises al ’n week voor die tyd ewe plegtig. Ek hou die inpakkery met ’n valkoog dop. “Is jy seker al daai skoene is régtig nodig?” vra ek versigtig en bekyk die sak waarin reeds genoeg skoene gepak is om ’n groterige kleuterskool ’n jaar lank gestewel en gespoor te hou. My vraag word begroet met ’n Kyk. En ’n verduideliking. Sien, elke enkele paar skoene in die sak is met ’n rede daar.

Dit werk min of meer so: Daar is Emma se strandplakkies wat sy laas jaar by die see gedra het en wat nie meer so lekker pas nie, maar dis haar gunsteling, so dit kán nie by die huis bly nie. Dan is daar haar strandplakkies wat die gemaklikste pas en waarmee sy lang ente kan stap, maar wat nie mag nat word nie. En dan is daar die strandplakkies wat taamlik gemaklik pas én nat mag word. Als broodnodig, dus.

“En al die baie warm klere?” vra ek. “Ons gaan Suidkus toe, nie Suidpool toe nie.” Die Kyk word kwaaier en my grappie ontlok nie eens ’n glimlaggie nie. “Dit raak saans koud by die see. Ek moet genoeg warm klere saamvat, vir in case.”

Boeke. Speelgoed. DVD’s. Medisyne. Padkos. Skopfietse. Net mooi alles wat vir my oorbodig lyk, is daar vir in case.

Op ’n kol bars Emma skouspelagtig in trane uit. “Wie is In Case?” snik sy. “Julle mag nie al my goed vir hom gee nie!”

Ek maak dóódseker ek stel ’n goeie voorbeeld en pak in my tas slegs die áller- allernodigste. Vakansiereëls sê jy mag maar dieselfde kortbroek vier dae in ’n ry dra.

’n Dubbelkajuit-Hilux met ’n kap het hope pakplek. Tot jy twee kleuters se vakansiebagasie daarin probeer kry. Teen die tyd dat alles gepak is, lyk dit of ek ’n epiese gim-marathon gevolg deur ’n sweterige sauna-sessie agter die rug het. Die bure dink waarskynlik ons verhuis.

Dan, einde ten laaste, begin die Groot Trek see toe. Die honde, kat, hoenders, goudvisse en luislang (ja, regtig) word gegroet. Die alarm word aangeskakel. Die alarm word weer afgeskakel om die padkos te gaan haal wat so byna-byna vergete in die yskas gebly het. Die alarm word weer aangeskakel. En ons val in die pad.

“Hoe ver is dit nóg?” vra Mia moedeloos – twee strate van die huis af. “Ek wil piepie!” kondig Emma aan – vier strate van die huis af. Gelukkig gaan die Pienk Potjie elke keer saam met vakansie. Daardie potjie is al in die Knysnabos, langs die besige N2-snelweg, in ’n KFC-parkeerterrein en op die oop Karoovlaktes ingespan wanneer die natuur roep.

Ná ure van Carike Keuzenkamp luister, Paw Patrol-DVD’s kyk, agtersitplek-oorloë, dreigemente oor Kersvader wat vanjaar géén presente gaan bring nie, padkos eet en speletjies speel, breek die oomblik aan wanneer ons klomp landrotte uiteindelik die Hilux se ruite kan oopdraai en die seelug kan ruik.

En dan, eensklaps, vergeet jy van al die reëlings om seker te maak die troeteldiere en tuin is versorg; jy vergeet van die weke se beplanning en die inpakkery en die gestoei en gesukkel wat met vakansie gepaard gaan. Wanneer die kinders vir die eerste keer in ’n lang ruk jillend oor die seesand hardloop, is jy dankbaar oor die blaaskans ná ’n besige jaar van werk en skool en roetine en verpligtinge – die kans om weer gehaltetyd saam met jou mense deur te bring en soveel pret moontlik te hê.

En wanneer jy en vroulief die eerste aand op die stoep van jul vakansieplekkie met ’n glas wyn in die hand uitspan, die kinders stokflou gespeel en in die bed, is jy nogal verbaas om te voel hoe die aandlug knyp. Sy sien jou liggies ril, verdwyn met ’n glimlaggie en kom ’n oomblik later terug met jou warm top. “Ek het dit maar in jou tas gepak,” sê sy. “Jy weet, net vir in case ...”