Wanneer ’n kindjie gebore word, word daar ook ’n voorheen ongekende beskermingsdrang in ’n ouer gebore. Dit is daarom geen wonder dat ouers se grootste vrees is dat iemand hul kind leed kan aandoen nie.

Ongelukkig is die vrees nie heeltemal ongegrond nie, soos onlangse rillervoorvalle waar kinders in die sorg van kinderoppassers mishandel is, gewys het. Veral sosiale media het oor dié voorvalle gegons.

Dit het met ons gebeur

Annami Linde (33) van Welkom in die Vrystaat het dié byna ondenkbare ervaring gehad.

“Jy kan nie genoeg navorsing doen voor jy iemand aanstel om na jou kinders om te sien nie,” sê sy. In Desember verlede jaar is haar en haar man, Org, se seuntjie, Nico, deur hul huiswerker aangerand.

“Dit wat met ons gebeur het wens ek niemand toe nie. Dit maak nie saak wat jy doen nie, jy kry nie daardie beelde uit jou kop nie.”

Haar huiswerker is op ’n video betrap waar sy klein Nico op 21 Desember slaan en wild rondruk. Die handkamera was in die Linde-gesin se sitkamer opgestel. Annami sê dit gaan by die dag beter met Nico, wat ná die aanranding skielik aggressief geraak het. Hy kon ook nie harde geluide hanteer nie en het gesukkel om te slaap.

Ook vir Cloudine Readings (39) van Johannesburg het dié vrees ’n werklikheid geword toe sy haar tweelingdogtertjies Noa en Fae (toe sewe maande) sowat twee jaar gelede in die sorg van ’n kinderoppasser by haar huis gelaat het.

“Ek het geen onraad vermoed nie,” vertel sy. Sy was oortuig haar kinders is in goeie hande terwyl sy bedags by die werk was.

Toe kry sy ’n veiligheidskamera present en besluit om dit tog maar in haar huis op te stel.

“Ek wou graag kyk waarmee my dogtertjies besig is wanneer ek nie daar kan wees nie. Aanvanklik het ek skuldig gevoel om na die beeldmateriaal te kyk. Dit het gevoel of ek hulle afloer. Maar dis is ook maar goed ek het. Ek kon nie glo wat ek sien nie. Tot my afgryse en skok het die kinderoppasser my een babatjie amper vier uur lank op die grond laat lê sonder om haar een keer op tel, kos te gee of aandag aan haar te gee.”

Die kinderoppasser het ook byna twee uur lank ’n tydskrif gesit en lees nadat sy die tweeling in hul bed gesit het. Die tweeling het in daardie tyd maar net 40 minute op ’n slag geslaap en is die res van die tyd alleen gelaat. Hulle is ook nie kos gegee nie, maar die kinderoppasser het gesit en eet.

“’n Mens kan die gevoel nie beskryf wanneer jy so iets sien nie. Ek was woedend en ons het die oppasser natuurlik onmiddellik afgedank. Sy het soveel goeie verwysings gehad en het baie jare by ’n kleuterskool in die omgewing gewerk.

“Ek het ’n enorme skuldgevoel ontwikkel en myself kasty omdat ek, hul ma, hulle in die sorg gelaat het van iemand wat hulle nie net verwaarloos het nie, maar hulle ook mishandel het – en ek het dit oor hulle gebring,” sê Cloudine.

Wat ouers sien

Jou belangrikste wapen is jou sesde sintuig, sê Cloudine. “As jy voel dinge is nie heeltemal reg nie, vertrou jou instink. Gewoonlik is daar ’n rede waarom jy onrustig voel.”

Cloudine sê sedert sy self veiligheidskameras verkoop (sien onder), het baie ouers haar al kom vertel hoe hulle nie heeltemal gerus was oor hoe sake by die huis verloop het nie, en meestal was hul aanvoeling in die kol.

Fisieke mishandeling van kinders is nie so algemeen nie, maar verwaarlosing wel, sê sy.

“Baie ma’s kon op die video’s sien hoe hul kinderoppassers die babatjies eenvoudig in die bed sit, die deur toemaak en dan self gaan lê en slaap – soms tot ure op ’n slag.

“Een kinderoppasser het selfs in haar motor geklim en gaan rondrits terwyl die baba alleen by die huis agtergebly het.”

Kamera tot jou redding

Cloudine se ervaring het haar laat besluit om ’n onderneming te begin wat veiligheidskameras verkoop. Die kamera of kameras word in jou huis opgestel in die vertrek of vertrekke waar jy dit verkies.

“Die kamera stel jou in staat om ’n besoeker in jou eie huis te wees terwyl jy nie by jou kinders kan wees nie. Dit is asof jy op die rusbank sit en kyk hoe jou kindertjies voor jou op die mat speel.”

Daar is verskillende soorte kameras beskikbaar. Sommiges kan versteek word, ander is duidelik sigbaar. Om dit te kan gebruik het jy ’n rekenaar met internettoegang nodig, asook spesiale sagteware.

Jy kan die beeldmateriaal dan enige tyd dophou op jou rekenaar, selfoon of tablet. Jy hoef nie tot saans ná werk te wag om te kyk wat tuis aangegaan het nie; jy kan enige tyd van die dag by jou huis “inskakel” en kyk wat daar gebeur.

Is dit bekostigbaar?

Die koste van veiligheidskameras word deur die ouers se behoeftes bepaal, sê Cloudine. Daar is verskeie keuses.

’n Mens kan kameras in elke kamer installeer of in net een vertrek. Daar is ook kameras wat buite geïnstalleer kan word. Die koste word bepaal deur die opsie waarop ’n gesin besluit.

Sommige mense verkies dit om die kameras self te installeer terwyl ander ’n tegnikus vra om dit te doen. As jy nie onbeperkte internettoegang het nie, sal jy dalk ekstra vir nog internetlugtyd moet opdok.

Loer jy af?

Moenie sleg voel omdat jy wil weet waarmee jou kleingoed besig is nie – dis jou reg, sê Cloudine. “Baie ma’s sou dit verkies het om heeltyds by hul kinders te wees, maar dit is ongelukkig nie altyd moontlik nie. Om te weet wat in jou huis aangaan, gee jou die nodige gemoedsrus.”

Die kamera kan ingespan word om te kyk waarmee jou kinders besig is en help ook om die verlange na hulle te stil. Dis interessant en lekker om te sien wat hulle alles aanvang.

Dit dien boonop ook as ’n algemene veiligheidsmaatreël teen misdaad, sê Cloudine. “Die tegnologie is beskikbaar, ’n mens kan dit net sowel gebruik.”

Moet my kinderoppasser daarvan weet?

Volgens die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA of CCMA) behoort jy jou oppasser daaroor in te lig.

Hoewel dit nie wetlik verpligtend is nie, is dit goeie praktyk om haar daarvan in kennis te stel – so word julle albei beskerm indien ’n voorval plaasvind. Jy hoef nie volledige inligting te verskaf oor watter soort kamera jy het of waar dit aangebring is nie.

As jy die ergste sien

As jou kind ’n slagoffer van enige vorm van mishandeling deur ’n kinderoppasser was, is dit belangrik om die kleinding te help om die trauma te verwerk.

Dr. Dinelle Faul, ’n kliniese sielkundige van Vereeniging, sê kinders en babatjies beleef trauma anders as volwassenes. “Hulle kan nie hul ervarings in woorde weergee nie. Hulle wys hul spanning, vrees en ongemak deur hul optrede.”

Jou kind se eetpatroon kan verander. Slaappatrone kan verander en kan gekenmerk word deur rusteloosheid, nagmerries of weiering om alleen in hul kamer te slaap.

Skeidingsangs kan ook kop uitsteek. Ouer kinders kan aangemoedig word om te gesels oor wat gebeur het, sê Dinelle. Stel jou kind gerus dat hulle nou veilig is en roep professionele hulp in.

“Traumatiese ervarings word ’n alledaagse verskynsel in Suid Afrika. Navorsing het gewys dat as ’n kind binne ’n maand hulp kry, die kans op posttraumatiese stresversteuring (PTSV) aansienlik kleiner is of selfs heeltemal verdwyn.

“Terapeute wat opgelei is in spelterapie en sandkasspelterapie kan ná ’n trauma help. Moenie huiwer om hulp te vra nie,” sê Dinelle.