Jou peuter se brein en verbeelding is aan die ontwikkel en om bang te voel, is ’n normale deel van grootword. Peuters word van twee jaar oud af meer bewus van hul omgewing en die moontlike gevare wat daar buite lê en wag.

Ook is jou kind se vermoë om abstrak te dink aan die ontwikkel, en dit lei daartoe dat hy hom ál meer dinge begin verbeel. Die grens tussen werklikheid en fantasie is nie vir klein kinders duidelik nie; hulle sukkel regtig daarmee.

Dus is die monster se intrek onder sy bed normaal. Namate jou kind die wêreld ontdek, ontdek hy ook dat dinge soms skeefloop en dat die wêreld nie altyd vriendelik of voorspelbaar is nie. Sy brein gaan met hom op loop en die stofsuier kan hom opslurp of hy kan saam met die badwater in die geut af verdwyn!

Jou peuter word ook meer bewus van die gevoelswêreld – syne en joune – en emosies soos woede en jaloesie kan hom soms oorweldig. Hy besef ook dat as hý woede kan voel, ander mense dit ook kan ervaar.

Groot gebeurtenisse in sy lewe kan hom onseker laat voel, soos die geboorte van ’n nuwe baba, verhuising of ’n motor­ongeluk.

Wenke

Erken sy vrese

Moenie sy vrese as belaglik afmaak nie. Vir hom is dit ’n werklikheid. Aanvaar dat sy emosies werklik is.

Luister met aandag

Sak af tot op jou knieë, kyk hom in die oë en gee hom jou volle aandag. So weet hy dat jy daar is vir hom. Hou jou reaksie kalm en vertroostend. As hy sê daar is ’n monster onder sy bed, help dit nie jy ontken dit nie. Dit sal hom nie beter laat voel nie. Vee eerder die monster met ’n besem by die huis uit of tel die monster op en spoel hom by die toilet af. Sit ’n dinosourus onder die bed as ’n nagwag neer, of spuit die monster met ’n bietjie monstergif (water).

Hou by roetine

Hou getrou by jul roetine. Die voorspelbaarheid help jou kind om voorbereid en in beheer te voel. Hou veral jul aandroetine rustig en koesterend.

Rus hom toe

Verskaf hulpmiddels soos ’n nagliggie of troosvoorwerp waarmee hy hom kan troos. Los die deur oop as hy dit verkies. Moenie sy fopspeen afvat as hy nie daarvoor gereed is nie.

Beheer jou eie angs

Moenie altyd gevare uitwys en self bang voorkom nie. Dink ’n bietjie hoe jy reageer as daar ’n spinnekop, groot hond, of diep water is. As dit dinge is wat jou bang maak, gaan jou kind dit aanvoel.

Monitor blootstelling

Aan watter televisieprogramme, flieks, speletjies en boeke word hy blootgestel? Dink mooi daaroor na – selfs taamlik onskuldige karakters kan jou kind bang maak.

Met geduld

Moenie jou kind dwing om die ding wat hom bang maak te trotseer nie – dit sal sy vrees net vererger en sy vertroue in jou skaad. Gun hom die tyd om dit self te ontgroei.