Daar is ’n sêding wat ek by my aangetroude familie geleer het en wat gewoonlik rondom spesiale geleenthede soos verjaardae of Kersfees gereeld gehoor word.

“So, wat wil jy vir Kersfees hê?” sal een vra. En dan is die antwoord altyd: “Ag, net ’n beter gesindheid, dankie.”

Ofskoon die goedige selfspot nou al ’n soort ritueel is wat so in die verbygaan gepleeg word, het dit my mettertyd aan die dink gesit. Ek het die verdienste van die oënskynlik onskuldige sinnetjie begin insien. Want wat kan dan nou beter wees as om elke nou en dan geseën te word met ’n stewige skeut beter gesindheid?

Vernaam as jy in die (bykans heeltydse) bedryf van kinders grootmaak is?

Ben, ons eersgeborene, is nou pas vier. Met die houding van ’n 14-jarige. Edie, sy sussie, is nou vyf maande oud. Met die houding van ’n vyf maande oue baba. Dis ’n dodelike kombinasie. Veral in tandem, as alle hel losbreek, is dit ’n natuurkrag wat enige pa en ma se goeie gesindheid kan versuur.

Ek en Carla bedryf die situasie basies soos daardie aflosspanne in beroepsrofstoei. Die een skep asem buite die kryt, praat moed in, bied morele ondersteuning en gee raad aan die stoeimaat in die kryt. As dié dan iewers in loop van die geveg spoed begin verloor en so te sê teen die planke is, spring die vars bene in die kryt en los die ander een af. Met hierdie aflostegniek word die kleuter en baba daagliks gevoed, geklee, geskool, gespeel, gebad, gebed en ge-alles.

So hier is ons nou, aan die einde van ’n opwindende en grotendeels verrassende 2018. Die jaar waarin ons nuwe baba haar opwagting gemaak het. Praat van verrassing! Ek wonder soms hoe ons dit tot hier met so ’n woelwater as eersgeborene oorleef het, laat staan nog die bykomende uitdagings van die pragtige nuweling.

Ek wonder soms daaroor, ja. Maar ek weet wel hoe ons oorleef het. Hoekom ons vandag en elke liewe uitdagende, uitputtende dag na die twee kinders kan kyk en besef hoe onmeetbaar groot ons liefde vir hulle is.

Die antwoord is eintlik heel eenvoudig: Ben en Edie rig ons tot inkeer, noop ons om met reëlmaat selfondersoek te doen oor hoekom ons (uit vrye wil) die verantwoordelikheid van ouerskap op ons skouers geneem het.

Ons kinders maak dat ons béter volwassenes is. Beter ménse. Indirek, dus, dat ons daagliks ’n beter gesindheid het.

Ek sal graag ’n paar dosyn daarvan vir Ben vir Kersfees wil koop, dié beter gesindheid. Tans is dit iets waaraan hy ’n erge gebrek het. En Edie se koms het allermins die situasie vergemaklik. So liefdevol en vertroetelend as wat hy teenoor sy sussie is, so nukkerig en nydig is hy teenoor my en Carla. Die een dag wil hy net by my wees en niemand anders nie, die volgende net by sy ma en niemand anders nie. Skeidingsangs, sê dié wat weet. Dis algemeen onder vierjariges.

So, wat wil jy vir Kersfees hê? vra ek hom op ’n dag in aanloop tot die feesseisoen. Nie dat hy al ’n ware begrip van Kersfees het nie, maar watter kind wil dan nie opgewonde uitsien na ’n soort Kersboom-situasie en geskenkies in vrolike toedraaipapier nie?

Diep in my binneste hoop ek hy uiter die woorde “net ’n beter gesindheid, dankie, Pappa”, maar uit die aard van die saak is dit nie die antwoord wat ek kry nie. Hy wil eerder ’n seerowerskip hê en ruimtemanklere. Ook op sy wenslys is items van ’n verskeidendheid superhelde: Batman se swart masker “met die horings op, Pappa”, Superman se skouermantel, Incredible Hulk se groen vuiste. O ja, en ’n brandweerwa, ’n walking talk (tweerigtingradio), simbale en ’n saksofoon.

Edie, neem ek aan, wil basies borsmelk en skoon doeke hê. Wel, ten minste gaan één van my kinders kry presies wat hulle vir Kersfees wou gehad het!

My Kerswens? Dat ek myself voortdurend daaraan sal herinner dat die grootste geskenke waarvoor ek in my lewe kon vra, reg voor my oë besig is om mens te word.

Aan al die ma’s, pa’s, oumas, oupas, peetouers en pleegouers wat dié rubriek lees, wens ons gesin ’n geseënde Kersfees vol vreugde, voorspoed en aangename verrassings. Mag die feit dat julle met die moed van jul oortuiging ’n kind of kinders onder die vlerk het as aansporing dien om beter mense te wees, om onbeperk lief te hê, met oorgawe aandag te gee, sonder voorskrif leiding en rigting te gee en daardie kosbare kinderlike onskuld te koester.

Bowenal, mag julle in die nuwe jaar daardie “beter gesindheid” kry wat so noodsaaklik is om ons pad deur die nukke en grille van kinders grootmaak te navigeer.