Snaaks, die paaie wat jou lewe loop. Ons gesin was in ’n gemaksone – bestendige werk, gemaklike leefstyl, klein gemeenskap, goeie skool met waardes vir ons dogter, Abby. Toe verander dinge twee jaar gelede skielik. Met ’n werkaanbod aan my man, Schalk, is ons lewe eensklaps omgekeer. Sy maatskappy het ’n geleentheid in Roemenië vir ’n kontraktydperk gebied. Ek moes op die wêreldkaart gaan kyk waar dit is. As gesin moes ons mooi besin oor ons toekomsvisie en veral oor Abby se toekoms. Ons lewensleuse was nog altyd jy doen iets voluit, of jy los dit. Die aanpassing was ongelooflik. Taal, kultuur, kos, klimaat – niks was bekend of gemaklik nie. En sneeu wat so hoog soos jou motor se dak lê, was vir ons ’n nuutjie. Skielik bly ons in ’n klein woonstelletjie wat uitkyk op ’n enorme en raserige Boekarest. Ons hart trek met ’n punt na Suid-Afrika, ons mooiste land, en ons verlang na die Bosveld, branders en wit strande, familie en vriende, ruimte en stilte. Twee belangrike lewenslesse wat ons in die proses geleer het – en ons leer dit nog elke dag – is: Aardse goed is nie belangrik nie, en jy moet elke oomblik omhels, want die lewe is vlietend. Boekarest is ’n stad met mense wat swaar dra aan die verlede en wat jou verbeelding oombliklik aangryp. Hoewel jy nie die taal verstaan nie, kan jy die emosie beleef, die passie wat hulle het vir verandering, vir vooruitgang, en hul soeke na regverdigheid. Hulle sal ondanks die sneeu weke lank vreedsame protesoptogte hou om hul misnoeë met korrupsie in die regering te kenne te gee. Hulle staan op vir wat reg is en laat hul stemme hoor. Dan besef jy ons is eintlik baie dieselfde. Suid-Afrikaners is ook passievol en verloor nooit moed nie. Behalwe vir die gestoei om visums en verblyfspermitte het ons goed aangepas en ná twee jaar kan ek sê ons is gemaklik. Ons het gou deel geword van ’n Engelse kerk waarin mense van oor die wêreld heen verteenwoordig word: Amerika, Brittanje, Korea, Filippyne, Nigerië, om net ’n paar te noem. Ons is met ope arms verwelkom en is gou betrek by dinge soos Sondagskool, kampe en uitreikaksies. Ons besoek kinderhuise en het ook nou betrokke geraak by ’n skool vir dowes. Dis so maklik om van jouself te gee want liefde, omgee en ’n drukkie praat ’n universele taal. Schalk se werk is ’n gulde geleentheid om ervaring op te doen, netwerke te vestig en sy drome uit te leef. Vir my, wat ’n gevestigde beroep gehad het, was dit swaar om finansieel van hom afhanklik te word en my sekuriteit op te offer. Maar deur dit te doen, het ek soveel meer gekry in die vorm van tyd met my kind en die kans om ’n rustige atmosfeer by die huis te skep. Ek geniet dit om die stad te gaan verken; daar is soveel geskiedenis dat jy na die verlede weggevoer word. Boekarest het ook ongelooflik pragtige parke. Omdat die meeste mense in woonstelle woon, word die parke ten volle benut. Openbare vervoer is baie goed georganiseerd, hoewel die paaie nie met al die motors bygehou het nie. Wat ’n nagmerrie om te bestuur! Daar is baie winkelsentrums en keuses, hoewel ek steeds moet google-translate as ek nuwe goed soek. Inkopies duur dus ’n bietjie langer as gewoonlik. Familie kom kuier met ’n vrag Suid-Afrikaanse produkte wat ons mis. Groot was die opgewondenheid toe ek kondensmelk ontdek het! Ons is ’n handjievol Suid-Afrikaners hier. Wanneer die verlange te veel word, braai ons of pak ’n potjie, eet Peppermint Crisp-tert en praat Afrikaans. Een van die groot voorregte van hier woon is dat ons die res van Europa kan ontdek. Die wenslys is lank, maar ons vorder. Spanje, Parys, Euro-Disney, die toring van Pisa in Italië, München en die hoogtepunt – Ierland – is gedoen. Volgende op ons lys is Nederland en Griekeland. Soms dink ek ons leef in ’n droom. Die een mens op wie ek die trotsste is, is Abby. Sy was 10 jaar oud toe ons getrek het. Behalwe vir die aanpassing en soektog na nuwe vriende moes sy skielik in Engels skoolgaan, en Roemeens en Duits as vak neem. Haar durf en deursettingsvermoë het my stomgeslaan. Die skoolleerplan is heelwat anders as waaraan sy gewoond was, maar sy het gou haar voete gevind. In haar skool word 19 nasionaliteite verteenwoordig en is sy die enigste Suid-Afrikaner. Haar voorbeeld van respek en dissipline is deur die onderwysers raakgesien en sy het erkenning daarvoor gekry. Sy is ’n ware ambassadeur! Ons sien uit na die volgende paar jaar in Boekarest en waarheen ook al daarna. Al weet ons nie wat môre bring nie, weet ek dat solank ons drie saamstaan, niks ons sal onderkry nie. Ons hart sal altyd in Suid-Afrika wees en ons sien daarna uit om eendag terug te keer.