Die eerste keer toe Olivia Haslam ’n seuntjie sien glimlag het ná ’n suksesvolle operasie aan sy gesplete verhemelte, het dié teaterverpleegster geweet dis wat sy vir die res van haar lewe wil doen.

Olivia, wat deesdae aan ’n Kaapstadse hospitaal verbonde is, het in Londen gewoon toe sy 14 jaar gelede betrokke geraak het by Operasie Glimlag, ’n wêreldwye nie-regeringsorganisasie wat gratis rekonstruktiewe operasies uitvoer op kinders (en volwassenes) met ’n gesplete lip of verhemelte.

Die Suid-Afrikaanse tak van Operasie Glimlag het sedert 2006 al meer as 6 000 operasies op kinders in suidelike en sentraal-Afrika uitgevoer. Olivia is een van meer as 100 professionele mediese vrywilligers by dié tak wat hul tyd en vaardighede aan talle lande op die vasteland en elders bied.

Klein operasie, groot impak

Dit duur sowat 45 minute om ’n gesplete lip te herstel en sowat twee uur om ’n gesplete verhemelte reg te stel, vertel Olivia. Haar eerste sending was Marokko toe. Dit is daar dat sy vir die eerste keer besef het watter groot verskil die operasie aan mense se lewe maak.

“Dis nie net ’n gewone operasie nie; dis ’n operasie wat mense se lewe drasties verander,” sê sy.

Sy het ook al in Kenia, Madagaskar, Rwanda en Mosambiek gewerk. Sy onthou ’n gesin in Antsirabe in Madagaskar waarvan drie lede ’n gesplete lip gehad het. Sy het ’n foto van hulle geneem en toe sy ses maande later na Antsirabe terugkeer, het sy die geraamde foto vir die pa gegee. Hulle was heeltemal oorstelp van vreugde.

“Ek sal nooit die blydskap in hul oë vergeet nie,” sê sy. Die gesin moes ’n stuk van hul grond verkoop om te betaal vir die reis na die kliniek.

In Malawi het Operasie Glimlag se span die plaaslike mediese personeel bekwaam sodat vrywilligers nie meer soontoe hoef te gaan nie. Die doel van elke sending is om die plaaslike mediese personeel so te bemagtig dat hulle die operasies self kan uitvoer sê Olivia.

”Dis wonderlik om lid te wees van ’n span met sulke gemotiveerde mense.”

Geoliede span

Olivia se liefde vir vrywilligerswerk het haar al die wêreld laat sien. Sy was lid van meer as 30 sendings na onder meer Indië en Viëtnam.

Hoewel sy aanvanklik as teaterverpleegster betrokke geraak het, is sy nou ook kliniese koördineerder, wat beteken sy moet seker maak dat die korrekte pasiënte geïdentifiseer en verwys word na die kliniek waar die operasie op ’n spesifieke dag sal plaasvind.

Sy sorg ook dat die kliniek oor al die nodige toerusting beskik om die chirurgiese prosedures uit te voer. Sy moet seker maak dat al die toerusting steriel is en dat die pasiënte ná die operasie versorg kan word tot hulle terug huis toe kan keer.

In sommige lande is die omstandighede uitdagend, want hulle werk met beperkte hulpbronne en toerusting.

“Ons werk soms op plekke waar daar nie water of elektrisiteit is nie. Dit is baie anders as om in ’n gewone hospitaal te wees,” sê sy. Die span doen soms twee operasies op ’n slag om so doeltreffend moontlik te werk te gaan. “Dit kos tyd om mense op te lei en ons bring gewoonlik sowat ’n week op elke plek deur.”

Olivia verduidelik dat Operasie Glimlag- sendings op verskillende soorte vrywilligers steun. “Ons gaan as ’n span. Daar is natuurlik die dokters en verpleegsters, maar daar is ook tandheelkundiges, spraakterapeute en mense wat pasiënte agterna met voedingsraad bystaan,” sê sy.

Hulle maak ook gebruik van nie-mediese vrywilligers wat die logistiek hanteer en geld help insamel.

Kinders van so jonk as drie tot ses maande kan operasies vir ’n gesplete lip ondergaan, terwyl kinders van ses maande af oud genoeg is dat hul gesplete verhemelte herstel kan word.

Hoe langer ’n gesplete lip of verhemelte onbehandel bly, hoe groter word die kans van spraakafwykings.

Die Operasie Glimlag-span kan tot tussen 20 en 26 operasies per dag uitvoer!

Een glimlag op ’n slag

Een van Olivia se mees spesiale herinneringe is aan ’n Rwandese man van 83 wie se gesplete lip herstel is. Toe hulle hom vra waarom hy so lank gewag het, het hy na sy lip gewys en gevra: “Wie wil nou met so ’n gesig rondloop?”

Dan was daar ook die 73-jarige vrou in Indië wat opgedaag het toe die span al besig was om op te pak. Sy het gesê sy wou net een keer vir haar man ook mooi wees. ”Sy was toe al 50 jaar getroud en het al agteragterkleinkinders gehad. Ons het dadelik uitgepak en die operasie uitgevoer,” vertel Olivia.

Hoewel die werk soms uitmergelend is, laat dit haar goed voel om ander mense te help om ’n meer normale lewe te lei.

”Dis emosioneel en geestelik baie bevredigend, maar om hierdie werk te doen is dit belangrik dat jy ’n passie vir verpleging het,” sê sy.

Olivia sê dit laat haar ook telkens besef hoe bevoorreg sy is.

“Daar is werklik géén rede waarom enige mens met hierdie toestand deur die lewe hoef te gaan nie,” sê sy.

Jy kan ook help

Julie is nasionale gesplete en kraniofasiale bewuswordings- en voorkomingsmaand. Vanjaar is ook die jaar van die verpleegster en die vroedvrou.

’n Gesplete lip (haaslip) en gesplete verhemelte is die derde mees algeme­ne aangebore afwyking ter wêreld. Daar word elke drie minute ’n kind met ’n gesplete lip gebore en een uit 1 000 babas in Afrika word daardeur geraak. 

Kinders kan sukkel om te eet en drink en die toestand kan lei tot wanvoeding en selfs verhongering. ’n Gesplete verhemelte kan ook herhaaldelike oorinfeksies veroorsaak en so op die lange duur gehoorverlies meebring. Komplikasies met tand-ontwikkeling en spraak kan ook plaas-vind. In baie lande gaan gesplete lippies met ’n stigma gepaard en word kinders geboelie of sosiaal afgesonder.

Volgens Ronel Visagie, bemarkings­koördineerder van Operasie Glimlag in Suid-Afrika, het die toestand ’n nare invloed op mense se lewensgehalte. “Ouers smeek ons om hul kinders te help, want dikwels word die kinders of selfs volwassenes deur die gemeenskap uitgestoot,” sê sy.

Een operasie kos sowat R5 500 en Operasie Glimlag samel wêreldwyd daarvoor geld in. Kerkgroepe, skole en individue oor die wêreld heen kan betrokke raak by geldin­sameling deur aktiwiteite soos ’n pretdraf of fietswedren te organiseer. Gaan na operationsmile.org of skakel 021-447-3608 vir nog inligting.operationsmile.org