As daar een ouerskapsfeit is wat soos ’n paal bo water staan, is dit dat daar selde een regte manier is om dinge te doen. 

Nie net is elke kind en ouer uniek nie, maar as jy na ouerskapspraktyke en -tradisies in ander kulture kyk, is dit gou duidelik dat ouerskap dramaties kan verskil. 

Tog kry almal op die ou end hul kinders groot! 

Ons aanvaar ons Suid-Afrikaanse kultuur dikwels as vanselfsprekend, maar dis eintlik besonders: Dink jy aan Suid-Afrikaanse kinders dink jy aan buite speel, kaalvoet loop (soms selfs skool toe) en ’n inherente liefde vir sport in die een of ander vorm. 

Ons mengsel van kulture in een land sorg ook dat ons kinders besonder bewus is van kulturele verdraagsaamheid en bereid is om by mekaar aan te pas – anders as in Europa, waar mense dikwels verwag dat daar by hulle aangepas moet word. 

Wat kan ons wel by ander kulture leer?

Fietse en sjokolade

Is ’n gesonde en gebalanseerde ontbyt vir jou ’n prioriteit? Dan sal jy dalk ’n bietjie swaarkry in Nederland: Daar is sjokoladesmeer en -vlokkies (hagelslag genoem) op ’n broodjie ’n baie algemene kinderontbyt.

Fietse is so sinoniem met Nederland soos biltong met Suid-Afrika. 

In Nederland is dit glad nie ongewoon om klein babatjies op fietsstoeltjies voor- of agterop hul ouers se fiets te sien nie. 

Selfs op yskoue winterdae sit die kleingoed knus aangetrek op hul fietsstoeltjies. 

Sommige fietse het meer as een kinderfietsstoeltjie (een voor en een agter) sodat die hele gesin saam kan fietsry. 

Daar is ook ’n spesiale fiets (bakfiets) vir groter gesinne waarin meer kinders kan ry. 

Natuurlik leer kinders daar van baie klein af fietsry. 

Interessant genoeg dra bitter min kinders veiligheidshelms. 

Daar is wel spesiale fietspaaie in Nederland wat dit die ideale veilige vervoermiddel maak. 

Oorweeg dit 

Skaf ’n kinderfietsstoeltjie aan en verken die omgewing so saam.

Tiermammas van China 

Die Chinees-Amerikaanse Amy Chua, skrywer van die boek The Battle Hymn of the Tiger Mom , het opslae gemaak met haar beskrywing van Chinese ouerskap in Amerika, maar wat behels ouerskap in China werklik? 

Studies wys dat Chinese ouers baie hoë verwagtinge van hul kinders koester, maar ’n baie groter fokus het op harde werk en afrigting eerder as ’n kind se inherente vermoë. 

As ’n kind dus swak vaar, sal hulle hom blameer dat hy nie hard genoeg gewerk het nie. 

Nog ’n aspek van Chinese ouerskap is dat, anders as in die meeste Westerse kulture waar kinders gedurig geprys word, ouers hul kind straf, uitskel en skaam laat voel oor sy gebrek aan prestasie in ’n poging om hom te motiveer om beter te vaar. 

Die beginsel van interafhanklikheid beteken ook dat die hele gesin ly onder die kind se gebrek aan prestasie, wat nog meer druk op hom plaas. 

Maar voor jy voel Chinese ouers is harteloos: Chinese ouers is geweldig betrokke by hul kinders en bestee baie tyd daaraan om hulle te help studeer, oefen en uiteindelik sukses te behaal. 

En al lyk dit asof hierdie ouers baie outoritêr is (gehoorsaamheid is ononderhandelbaar), is daar gewoonlik ’n baie hegte verhouding tussen ouer en kind omdat dit ’n teken van die ouer se liefde is om so betrokke by hul kinders te wees en baie vir hulle op te offer. 

Oorweeg dit 

Koester hoë verwagtinge van jou kind, maar ondersteun hom ook om dit te bereik. Moenie jou kind prys as hy dit nie verdien nie – dit verminder die waarde van lof.

Kerrie-bestand in Indië 

Dit is nie ongewoon dat kinders in Indië ewe lekker saam met hul ouers weglê aan sterk kerrie nie – en natuurlik kry baie van hulle dit reeds met moedersmelk in!

Maar baba se bekendstelling aan sterk geure en kerrie gebeur darem nie oornag nie: Sodra babas begin vaste kos eet, sal hul ma hulle geleidelik bekendstel aan geure en teksture deur hulle aan klein stukkies sterk kos te laat lek of proe.

Teen ses maande sal ’n enkele matige spesery soos kaneel, komyn of borrie by hul kos gevoeg en dan geleidelik vermeerder word.

Teen nege maande sal babas ’n matige weergawe van hul ouers se kos eet – hulle skep gewoonlik vir baba kos uit voor die finale brandspeserye soos brandrissie bygevoeg word.

Natuurlik duur dit nie lank voor die kinders ma en pa se voorbeeld heeltemal volg nie! Op ’n heel ander noot: Het jy geweet dit is in Indië onwettig om jou baba se geslag voor die geboorte te bepaal? 

Oorweeg dit 

Stel jou baba uit die staanspoor bloot aan ’n verskeidenheid sma ke en speserye. Babakos hoef nie smaakloos te wees nie. Vermy net te veel sout.

Vroeg met potjielesse in Viëtname

 As jy bekommerd is oor die koste van doeke, moet jy dalk ’n kersie by Viëtnamese ouers opsteek. Sweedse navorsers het bevind die meeste Viëtnamese babas is reeds teen nege maande van die doek af!

Hoe hulle dit regkry? Blykbaar hou die ouers van geboorte af hul baba fyn dop sodat hulle die lyftaal verstaan wanneer baba begin piepie, en dan maak hulle ’n fluitgeluid. Kort voor lank verbind die baba die fluitgeluid met piepie.

Teen drie maande oud word baba die eerste keer oor die potjie gehou, en teen nege maande kan die meeste kinders die potjie gebruik as hul ouers hulle daaraan herinner, en word hul doeke weggevat.

Teen twee jaar gebruik die meeste Viëtnamese kinders die potjie heeltemal onafhanklik.

Dié manier van potjielesse is ook gewild in ander dele van die Ooste en in China is dit algemeen om klein kindertjies te sien rondloop met spesiale broekies waarin die boudjies en geslagsdele oop is sodat hulle maklik toilet toe kan gaan. 

Oorweeg dit 

Hou jou kind se lyftaal dop en gebruik klankassosiasie om hom te help om potjielesse makliker baas te raak.

Skandinawiese slapies 

Sal jy jou baba buite ’n restaurant laat slaap terwyl jy binne tee drink? 

En dit teen vriespunt­temperature? Vir die meeste SuidAfrikaanse ma’s is dit ’n besliste nee, maar in Skandinawiese lande is dit glad nie ’n vreemde verskynsel nie. 

Ouers in Noorweë los maklik hulle slapende baba in hul stootwaentjie buite ’n restaurant terwyl hulle binne in vrede koffie drink. 

Natuurlik gaan loer hulle soms of hul kleingoed nog slaap en soms sal iemand laat weet dat die baba in die rooi stootwaentjie besig is om wakker te word, maar niemand dink verder twee keer oor die gewoonte nie. 

Die liefde vir die koue buitelug duur ná babatyd voort: Een ma van Noorweë vertel selfs by die kleuterskool slaap die kinders bedags buite, tensy die temperatuur minder as minus 10 grade is! 

’n Finse ma laat hoor weer hulle laat slaap maklik hul baba buite in die tuin of op die balkon. 

Natuurlik is die baba lekker warm aangetrek.

 Sy was skoon verbaas toe sy hoor nie alle babas slaap buite nie. 

Die motivering vir die buiteslapery wissel van ouers wat voel hul kinders slaap beter buite tot dat dit die verspreiding van kieme help keer. 

Ondanks die koue is dit ook normaal dat kinders hope tyd buite deurbring. By sommige kleuterskole bly hulle net binne as dit kouer as minus 14 grade Celsius is. 

Oorweeg dit 

Vars lug kan jou baba beter help slaap. Moenie dat koue jou keer om met baba te gaan stap nie; maak net seker sy is lekker warm toegewikkel. 

Pappas in Sentraal­Afrika kan alles doen 

Kry borsvoeding jou onder? Dis dalk pappa se beurt! By die nomadiese Aka­pigmeë in Sentraal­Afrika is dit glad nie ongewoon dat ’n baba aan sy pa se tepels suig wanneer ma nie byderhand is nie.

Dis amper 
soos ’n fopspeen wat troos bied. Die Akakultuur maak dit moontlik dat ma en pa gedurig rolle ruil en pa’s is net so betrokke by kind grootmaak as ma’s. Hulle bring  47 persent van die tyd by hul kinders deur.

Aka­kinders word in hul eerste lewensjaar byna altyd vasgehou deur iemand en slaap ook by hul ouers. 

Oorweeg dit

Ruil gerus rolle sodat pa en ma albei alle take vir kleinding kan verrig en ewe goed met baba kan bind. Pa kan mos ook borsmelk uit ’n bottel gee. 

Kinders leer by kinders 

Ouerskapsboeke waarsku daarteen dat jy jou oudste kind na jou jonger spruite laat omsien, maar in Polinesië is dit algemeen. 

Ouers daar is in die eerste lewensjaar besonder aktief betrokke by hul baba en dra hulle rond, slaap by hulle en borsvoed gewoonlik. 

Maar sodra die kleinding kan loop, word hy aan ander kinders oorhandig om sonder ouerlike inmenging saam met hulle te speel. 

Die kinders leer by mekaar en vorm sterk bande terwyl die ouer kinders leer hoe om kleiner kinders te vertroos en selfs in ’n mate te versorg deur byvoorbeeld doeke te ruil of kos te gee.

Oorweeg dit 

Laat jou kinders met mekaar speel sonder dat jy inmeng. Gee hulle kans om self probleme onder mekaar op te los en klein versor gings takies te hanteer. So leer hulle groter onafhanklikheid. 

Duits onafhanklikheid

Duitse ouers heg groot waarde aan onafhanklikheid en verantwoordelikheid.

Vir helikopter­ouers is daar dus nie veel genade nie: Laerskoolkinders leer byvoorbeeld van jongs af om sonder hul ouers skool toe te stap of alleen openbare vervoer te gebruik, en voorskoolse kinders word nie gekeer om kanse te waag soos om in bome te klim en klouter sonder dat ’n ouer byderhand is nie.

Dis nie dat die ouers ongeërg is oor veiligheid nie; hulle het bloot vertroue in hul kinders se vermoëns. 

Oorweeg dit 

Vertrou jou kind en sy vermoëns deur nie gedurig gereed te staan om in te gryp wanneer hy klim en klouter of selfs met maatjies slaags raak nie. 

So verbeter hy sy vaardighede.