As daar een gegewe in ouerskap is, dan is dit dat daar selde net een regte manier is om dinge te doen. Nie net is elke kind en ouer uniek nie, maar as ’n mens na ouerskapspraktyke en -tradisies in ander wêrelddele en kulture kyk, word dit gou duidelik dat ouerskapstyle dramaties kan verskil, al kry almal op die ou end hul kinders groot!
Ons aanvaar ons Suid-Afrikaanse kultuur dikwels as vanselfsprekend, maar dis eintlik besonders. Die meeste Suid-Afrikaanse kinders kan buite speel, kaalvoet loop (soms selfs skool toe) en ’n inherente liefde vir die een of ander sportsoort ontwikkel. Ons mengsel van kulture in een land sorg ook dat ons kinders van kleins af van kulturele verdraagsaamheid leer en bereid is om by mekaar aan te pas – anders as in ander lande waar baie verwag dat ander groepe by hulle moet aanpas.
Kry borsvoeding jou onder? Dis dalk pappa se beurt! By die nomadiese Aka-pigmeë in sentraal-Afrika is dit glad nie ongewoon dat babas aan hul pa se tepels suig as ma nie byderhand is nie – dis amper soos ’n fopspeen wat troos gee.