Ons het dit nie sien kom nie en selfs al hét ons, sou niks ons kon voorberei op die uitdagings wat ’n staat van inperking aan ouers en hul jong kinders stel nie.

Ek en Carla is van die bevoorregtes, moet ek uit die staatspoor sê.

Hier is plek op ons erf waar die kinders veilig kan rondhardloop, ’n kamer vir Ben en vir Edie, plek vir ons om vir ’n oomblik in stilte te gaan asem skep of “weg te kruip” as alles net te veel raak.

Ek sidder om te dink hoe dit moet wees vir gesinne wat ’n klein ruimte moet deel in die tyd van maskers, handreinigers en sosiale distansiëring. Ondenkbaar, eintlik.

Laat ’n mens dink aan George Orwell se gewigtige woorde in sy bekroonde boek Animal Farm, waar die vark sê: ”All animals are equal, but some animals are more equal than others.”

Ondanks dié seëninge bly die situasie een wat ons almal raak, selfs al verskil die vlakke van ongerief radikaal.

Die ergste vir my is dat my kinders nie kan verstaan waarom sekere goed nie meer kan gebeur nie. 

Vir Ben, op ’n maand na ses jaar oud, kan ’n mens nog probeer verduidelik. Hy verstaan die begrip dat daar iets is wat almal in die hele wêreld siek maak en al manier waarop ons veilig kan bly, is om kontak met ander mense te vermy, hande te was, nie aan ons gesig te vat nie en in die waai van ons arm te hoes en nies.

Hy mis sy maatjies, sy skool en na-uurse aktiwiteite, hy mis sy mense. Tog verstaan hy hoekom hy hulle nie kan sien nie.

Maar hoe verduidelik ek aan die tweejarige Edie dat haar Meme (ons onvervangbare kinderoppasser Memory) nie enige oomblik by die agterdeur gaan instap met die gebruik­like “morning my little princess” nie.

Sy staan elke oggend getrou daar en wag, klokslag om halfnege. “Meme, come, Meme, come.”

Hoe verduidelik ek dat oupa en ouma nie kan kom kuier nie. Dat hulle nie in die selfoon “woon” net omdat sy hulle tydens ’n video-oproep op Skype op die skerm gesien het nie.

Sy klouter bloot op die stoel by die eetkamertafel, vat die selfoon wat daar lê en hou dit vraend na my of haar ma uit met die woorde “oupa-­ouma praat”.

As daar een ding is wat die pandemie ons as ouers geleer het, is dit hoe om ons eie (grootmens) issues tersyde te stel en met volle aandag te luister na wat ons kinders sê; om met toegewyde oë te kyk na wat hulle doen.

In normale omstandig­hede gaan so baie sulke juweel­tjies verlore. 

Jou daaglikse roetine word so streng toegepas dat jy met­ter­tyd met een oor leer luister terwyl jou aandag elders is. Jy kyk, maar jy sien nie werklik nie.

Met inperking is die situa­sie op sy kop gekeer. Ek sal nie nou-nou, nadat die kinders ontbyt gekry het, gaan skeer, stort, kantoorklere aantrek, in die kar klim en werk toe ry nie.

Ek put groot genot uit die feit dat ek Ben in die tyd geleer het hoe om sy skoenveters vas te maak, self sy broodjie te smeer en sy eie tee te maak.


Ek gaan ontbyt maak en dan sit en luister hoe hulle twee gesels. Ek gaan kyk hoe hulle speel, hoe die verhou­ding tussen ’n boetie en sussie ontwikkel.

Die tye dwing ons tot ’n dieper insigoor ouerskap. Oor die absolute verantwoordelikheid daarvan om kinders in die vor­­m­ings­jare tot jou beskikking te hê, sonder die afleidings van die lewe daar buite wat jou toewyding dikwels vertroebel.

Ek put groot genot uit die feit dat ek Ben in dié tyd geleer het hoe om sy skoenveters vas te maak, na die muurhorlosie te kyk en te verstaan hoe laat dit is, self sy broodjie te smeer en onder toesig sy eie rooibostee te maak.

Hy help my onkruid in die tuin uittrek, vou sy klere op en pak dit in die kas, hy maak inventions met watter boumateriaal hy ook al in die garage kan vind. Hy ken nou my en Carla en ouma se selfoonnommers uit sy kop en kan dit neer­skryf, hy bou legkaarte en teken en verf en skryf vir ’n vale.

Edie “borsel” self haar tande, sê of sy saans wil “showa” (stort) of “battie-bat” (bad), sy “eksperimenteer” met al die uitrustings in haar klerekas en sy takel een spesifieke muur in haar kamer met kleurkryte – moet dit net nie durf skoonmaak nie!

Dis steeds ’n uitdaging, ja. Dis frustrerend om nie met hulle op die strand te kan gaan stap of vyf straatblokke van hier af by die skoonouers te gaan kuier nie.

Die konstante vrae (“kan ’n alien die koronavirus kry?”) en onredelike versoeke (“kan ek ’n bietjie TV kyk, pappa?”) is uitputtend. Die oorverdowende lawaai gedurende speeltyd, die geneul en trane oor wat ook al dryf ’n mens soms tot raserny.

Maar dit weet ek na dese: Hierdie is ’n spesiale tyd saam met Ben en Edie. Hier­die is geleende tyd. 

Dis bowenal kosbare tyd saam met my kinders wat ek waarskynlik nooit weer so intens gaan ervaar wanneer die vervlakste pandemie eendag sy ry gekry het nie.