Kan jy nog onthou hoe dit gevoel het toe jy jou grootste passie ontdek het? 

Dalk was dit boeke en stories, soos vir my. Dalk was dit sport of kosmaak, kuns of musiek, of ’n skoolvak wat jou hart vinniger laat klop het of selfs die eerste leidrade verskaf het oor watter rigting jou beroepslewe eendag sou inslaan. Dalk was jy nog ’n tjokkertjie op laerskool, dalk het dit in jou tienerjare gebeur, of dalk eers op universiteit.

Ek onthou nog so glashelder daardie maagdraai-opwindende vonk, daardie oomblik toe ek besef het – dít is iets waarin ek belangstel, dít is iets wat my opgewonde maak, dít is iets waarvoor ek ’n talent het en wat ek dalk vir die res van my lewe wil doen.

Mia (7) en Emma (5) is nou op die ouderdom waar ’n mens duidelik kan begin sien waarin hulle belangstel. 

Emma – reeds sedert tweejarige ouder­dom die trotse eienaar van ’n troetelluislang – word eindeloos gefassineer deur reptiele, roofdiere en dinosourusse. Hoe giftiger en gevaarliker, hoe beter. Maar dié eens skamerige klein rabbedoe is deesdae ook mal oor sing en dans en konsert hou, en sy hou soveel van teken, verf en plak dat haar kleuterskooljuffrou ons aangeraai het om haar vir ekstra kunsklasse te stuur, wat sy ongelooflik geniet. 

Mia se graadeen-jaar was ’n holderstebolder avontuur propvol nuwe dinge om op die proef te stel – hokkie, netbal, kunswedstrydvoordrag, koor, tennis, mondelingopdragte, blokfluitlesse. Ek verstom my aan die entoesiasme en onverskrokkenheid waarmee sy aan net mooi alles wil deelneem, selfs al probeer ek en Mamma gereeld ’n bietjie briek aandraai sodat die pas nie te rof raak nie. 

Dit is fassinerend om kinders op hierdie ouderdom dop te hou, te kyk hoe hulle nuwe dinge beproef, hoe hulle hulleself leer ken. (“Ek dink nie ek hou eintlik so baie van hokkie nie,” het Mia onlangs rooi in die gesig en uitasem naby die einde van die hokkieseisoen aangekondig, “mens moet biétjie te veel hardloop!”) 

Maar dit bring ook vir jou as ouer ’n reuse-verantwoordelikheid mee: die verantwoordelikheid om nie jou eie stempel te hard op hierdie vormingsproses te probeer afdwing nie. 

’n Ruk gelede staan ek langs die hokkieveld terwyl die ondersewespelertjies gereed maak om ’n wedstryd te speel. Langs my is ’n ma besig om haar dogtertjie se hokkiekouse op te trek voor sy op die veld moet draf. “Jy beter mooi speel vandag, hoor!” sê die ma. “Anders gee Mamma jou ’n pak slae as ons by die huis kom.” 

Ek het behoorlik gesteier. 

Toe ek agterna met ander mense oor die voorval gesels, was baie ouers nie eens vreeslik verbaas of geskok nie. Hulle het al soortgelyke dinge – en erger – langs ’n sportveld gehoor en gesien. 

Ek hoor gereeld van kinders wat uitmergelende ure elke week in die swembad of in dans- of gimnastiekklasse deurbring – kinders wat net so oud soos myne is. En daardie kinders presteer, sonder twyfel. As dit hulle passie is, is dit wonderlik. Daardie soort toewyding verg immers ook bitter baie opoffering van ouers – tyd en geld, volgehoue aanmoediging en ondersteuning. 

Maar as dit nié regtig jou kind se passie is nie, as jy jou eie drome aan hulle probeer opdwing, is jou kind waarskynlik besig om ’n duur prys te betaal. 

Op hierdie ouderdom wil ek nog graag hê my kinders moet die tyd en geleent­hede hê vir speel en eksperimenteer en verken. Hulle moet nuwe dinge kan beproef sonder dat hulle noodwendig goed daarin hoef te wees. Hoe anders gaan hulle agterkom waarvan hulle hou en nie hou nie?

Ek onthou my kinderdae nog goed. Hoe ek seëls versamel het, bonsaiboompies (sonder sukses) probeer kweek het, met budjies geteel het, by ’n valkeniersklub aangesluit het, honderde en honderde boeke gelees het, geteken en geverf het, hoe ek en my sussie poppekas gehou het, boomhuise en bote en kaskarre gebou het, eksperimente uitgevoer het, hoe ek in verskillende fases van my kindertyd ’n krokodiltemmer wou word, of ’n wildbewaarder, of ’n fotograaf. Ek onthou die opwinding van die atletiekseisoen en van redenaarstoesprake en debatskompetisies en eisteddfods. Ek onthou my eerste tikmasjien en die stories wat ek daarop geskryf het.

Uit daardie deurmekaarspul van belangstellings, van stokperdjies wat gekom en gegaan het, het my ware talente en belangstellings stadig maar seker uit die verf gekom. En my ouers was daar om my te ondersteun en te prys en aan te moedig, maar ek kan nie onthou dat daar ooit uitermate druk op my was om te presteer nie.

En dít is wat ek graag vir my kinders wil hê. Dat hulle die tyd en die geleentheid het om soveel as moontlik dinge op die proef te kan stel sonder te veel druk om altyd eerste te wees, die beste te wees, uit te blink. 

En dalk kan hulle ook eendag met ’n glimlag terugdink aan daardie maagdraai-oomblik, daardie vonk toe hulle besef het – dít is iets waarin ek belangstel, dít is iets wat my opgewonde maak, dít is iets waarvoor ek ’n talent het en wat ek dalk vir die res van my lewe wil doen. Dít is my passie.