Vraag:

My baba is nou vier maande oud en verg baie van my tyd en aandag. My man is baie jaloers daarop en voel afgeskeep. Hoe moet ek dit hanteer?

Antwoord:

Om ’n ouer te wees is wonderlik, maar soos die meeste nuwe ouers weet, kan dit ook ’n moeilike tyd in ’n mens se lewe wees. Slapelose nagte, nuwe roetines en die verantwoordelikheid van ouers wees kan geweldige spanning op die huwelik plaas.

Navorsing het gewys dat die meeste getroude paartjies ná die geboorte van hul eersteling ’n moeilike tyd in hul huwelik deurmaak. Dit is dus normaal dat jy en jou man so kort ná jul kleinding se geboorte ’n moeilike tyd beleef.

Maar die feit dat dit normaal is, maak dit nie verskoonbaar nie. Jul huwelik is die fondament van jul gesin se toekoms en daarom is dit belangrik om gedurig in dié belangrike verhouding te belê.

Probeer jou man se perspektief verstaan. Hoe voel dit om in sy skoene te wees? Voel hy dalk soos die vyfde wiel? Dis vir julle albei ’n oorgangstyd, en hy is dalk bekommerd dat hy vir altyd afgeskeep gaan word noudat kleintjie daar is.

Verseker hom van sy plek in jou lewe. Sit gereeld tyd vir hom eenkant en stel belang in sy wêreld. Vra ook vir hom om twee of drie dinge neer te skryf wat jy kan doen sodat hy minder afgeskeep voel, en probeer om so dikwels moontlik aan dié behoeftes te voldoen.

Maak seker dat jy hom nie laat skuldig voel oor die feit dat hy ’n behoefte aan nabyheid het nie. Die manier waarop hierdie behoefte aangespreek word kan dalk verander, maar dit is belangrik dat sy behoefte erken word.

Dit is ook belangrik dat jy jou eie behoeftes aan hom kommunikeer. Help hom om te verstaan hoe hy aan jou behoeftes kan voldoen en hoe hy jou in dié oorgangstyd kan akkommodeer.

’n Praktiese wenk is om babaoppassers te kry wat jy vertrou. Dit sal jou en manlief die geleentheid gee om meer gereeld gehaltetyd saam deur te bring.