Pienk of blou?

akkreditasie
Is jy 'n seuntjie-ma of 'n dogtertjie-ma? Voltooi ons prettige vraelys en vind uit!

1. In jou klerekas is daar ...

A. hoofsaaklik praktiese klere waarin jy gemaklik voel en waarin jy lekker kan beweeg.
B. hoofsaaklik modieuse klere en skoene wat jou mooi en vroulik laat voel wanneer jy dit dra.

2. As jy droom oor jou toekomstige baba, dink jy dadelik aan...

A. rugbyballe, speel in die tuin en rofstoei op die mat.
B. al die pragtige babaklere wat deesdae in die winkels is.

3. Jy sien jou makliker as ma van...

A. ’n woelwater wat jou op jou tone gaan hou.
B. ’n rustige kind wat kalm en vreedsaam speel.

4. Jou Saterdag-stokperdjie is...

A. rugby kyk en gesellig kuier saam met jou man en vriende – of om self sport te doen.
B. ’n kuiermiddag saam met jou vriendinne terwyl julle handwerk doen of net lekker gesels.

5. As iemand naby jou 'n wond opdoen...

A. sal jy dadelik die noodhulptas nadersleep en die wond versorg.
B. sal jy jou doodgril vir die bloed en jou man roep om die krisis te hanteer.

6. Dis belangriker dat mense om jou...

A. dapper en vreesloos die lewe moet ingaan.
B. goed kan kommunikeer en mekaar emosioneel verstaan en ondersteun.

7. As jy dink aan kinders, verkies jy 'n kind wat...

A. onafhanklik dink, volgens oortuiging optree en nuwe dinge beproef, al misluk dit soms.
B. gehoorsaam is, jou bevele uitvoer en hard werk om goed te vaar.

8. In jou verhouding met jou eie ouers was jy...

A. besonder geheg aan jou pa. B. besonder geheg aan jou ma.

9. As jy dink aan jou vriendskappe deur die lewe, het jy...

A. nog altyd beter met mansvriende oor die weg gekom.
B. hoofsaaklik hegte vriendskappe met vriendinne gesluit.

10. Voel jy jy sal makliker bind met iemand wat...

A. heeltemal anders as jy is, omdat jy glo teenoorgesteldes trek mekaar aan?
B. ongeveer dieselfde behoeftes en agtergrond as jy het?

So werk die telling:

As jy 6 of meer A's gekies het, is jy 'n seuntjie-ma. As jy 6 of meer B's gekies het, is jy 'n dogtertjie-ma. Vyf van elk beteken jy is geslags-neutraal.

NB kennisgewing

Sielkundiges stem saam dat die manier waarop jy jou kind grootmaak, ’n baie groot rol speel in hoe hy of sy uiteindelik optree. Individuele persoonlikheidseienskappe bepaal ’n kind se gedrag baie meer as wat sy geslag dit bepaal. Daar is dus geen waarborg dat jou kind volgens ’n sekere patroon sal optree net omdat hy ’n seun of ’n meisie is nie.

Hoekom ons so sê

1.

Wat in jou klerekas hang, weerspieël in ’n groot mate wie jy is. Praktiese klere wat meer gerig is op ’n aktiewe leefstyl as op die mode sê dat jy waarskynlik die lewe ook so benader: gereed vir aksie, sonder vrees vir vuil word saam met jou kinders. Met so ’n klerekas is jy waarskynlik slaggereed om die ma van ’n seuntjie te word sodat jy saam met hom op die mat kan karretjies speel of buite modderkoekies kan bak.

’n Meer byderwetse klerekas wys dat die fyner dinge van die lewe vir jou belangrik is en die kans is goed dat jou dogter eendag hierdie passie met jou kan deel. Dink net hoe lekker sal julle saam inkopies doen! Aan die ander kant kan jou dogter dalk eweveel van modderkoekies en karretjies hou, terwyl jou seun besluit om in Simon Rademan se voetspore te volg.

2.

Seuntjies is vir baie ouers gelyk aan rugbyballe en rowwe stoeispeletjies saam met pa. As jou kop dus hiervan vol is, het jy eintlik klaar die keuse gemaak. Aan die ander kant is ons winkels propvol van die oulikste babakleertjies vir meisies en droom jy dalk nou reeds van hoe jy gaan pop speel of van al die wonderlike haarstyle wat jy vir jou dogtertjie gaan vleg as sy ouer is.

Om nie eens te praat van grimering en troue eendag nie ... Maar onthou, jou dogter kan dalk die volgende Natalie du Toit wees, en jou seun ’n man met ’n modesin soos min.

3.

Daar is geen waarborg dat jou dogtertjie ’n rustige, stil wesentjie gaan wees nie – of dat jou seuntjie noodwendig die huis onderstebo sal woel nie. Tog toon navorsing dat seuns oor die algemeen meer aktief as meisies is en jou in die kleuterjare en selfs daarna heelwat besiger hou.

As jy slaggereed is vir aksie en daarvan hou om te wees waar dinge gebeur, is ’n seuntjie dalk net die regte maat vir jou. As jy ’n rustiger, gemaklike pas verkies waar julle tyd het om die blomme te ruik, sal ’n dogtertjie jou dalk beter pas.

4.

Droom jy heimlik daarvan om eendag saam met jou dogter te sit en handwerk doen, koffiewinkels te verken of sommer net saam die winkels in te vaar terwyl julle heerlik klets? Of is jy reeds in ’n roetine van rugby kyk op ’n Saterdag, wat dit baie maklik vir jul gesin sal maak om Saterdag voor die TV-stel te sit wanneer Boetie eers daar is?

Die manier waarop jy jou vrye tyd bestee kan ’n goeie aanduiding wees van of ’n seun of meisie die maklikste in julle huisroetine sal pas – mits hulle natuurlik die tradisionele ontwikkelingspatroon volg.

5.

Oor die algemeen is seuns meer aktief as meisies en ook groter kansvatters: Hulle sal makliker tot heel bo in die boom klim of Superman op die dak wil speel. Hul kans om seer te kry is dus ook groter.

Statistiek wys dat seuns deur die kinder- en selfs tienerjare meer beserings opdoen as meisies. As bloed jou laat omkap, moet jy jou liewer as ’n dogtertjie-ma klassifiseer, of anders vinnig ’n sterker maag ontwikkel.

6.

Meisies se taalontwikkeling is in die vroeë kinderjare oor die algemeen vinniger as dié van seuns. Daarby is hulle meestal beter stuurders en ontvangers van emosionele inligting en is hulle gewoonlik beter in staat om empatie te betoon.

Meisies jok liewer as om onbeskof te wees. Hul sosiale gedrag is gewoonlik beter en hulle is bedagsamer as seuns. Seuns is weer meer geneig om volgens hul oortuigings op te tree en hul man te staan en soms is hulle amper onbeskof eerlik! Hulle is nie bang om onafhanklik op te tree nie.

7.

Navorsing wys dat meisies meer bedees en angstig is as seuns. Op skool is hulle gewoonlik ook geneig om angstiger oor mislukking te wees, wat beteken hulle probeer harder om sukses te behaal.

Terselfdertyd is hulle meer geneig om bevele uit te voer en tree hulle dikwels afhankliker op. Seuns is dikwels die risikonemers en kan baie meer oorheersend wees. Maar dis natuurlik nie noodwendig op jou asjas van toepassing nie!

8.

As jy en jou pa ’n besonder spesiale band gedeel het, kan jy heimlik wens om net so ’n hegte band met jou seun te kweek. Die verhouding tussen ma en seun kan baie spesiaal wees.

Dieselfde is waar oor jou ma: As julle baie na aan mekaar was, is die kans goed dat jy daardie verhouding met jou dogter wil herhaal juis omdat jy onthou hoe kosbaar dit vir jou was. Die teendeel is ook waar: as jy en jou ma ’n baie swak verhouding gehad het, begeer jy dalk juis ’n dogtertjie om met haar die verhouding te kan hê wat jy al die jare so graag met jou ma wou gehad het.

9.

Sommige vroue kom eenvoudig beter met mans oor die weg. As dit met jou die geval is, is die kans goed dat jy die siel en wêreld van ’n seun beter sal verstaan en maklik met hom sal kan identifiseer, veral wanneer hy ouer word.

As jy egter hegte vriendskappe met vriendinne sluit, is dit ’n kortpad tot ’n spesiale verhouding met jou dogter waarin julle in haar grootwordjare saam die uitdagings van meisie-wees kan aanpak.

10.

Jy voel dalk jy sal ’n meisie makliker kan grootmaak omdat jy beter sal verstaan hoe sy dink en voel en vir haar ’n sterk rolmodel kan wees. Jy was immers self eens ’n klein dogtertjie. Baie vroue voel ook geïntimideer deur die onbekende faktor van seuntjies se versorging.

Aan die ander kant kan jy voel dat teenoorgesteldes mekaar beter verstaan en dus ’n seun verkies, omdat jy glo dat so ’n verhouding minder ingewikkeld is omdat emosionele bagasie uit jou verlede nie so maklik met die verhouding inmeng nie.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees