Ja, meneer. Ek onthou nog my woorde voor my kleuter maande gelede die hoekomfase betree het: “Deesdae is dit baie maklik. Jy google net die antwoorde.”

Vergelyk dit met die generasie pa’s voor my, mos. Dié vir wie ’n kombinasie van eie boekekennis, 12 volumes hardeband- ensiklopidieë en Huisgenoot se Fanie en Melanie die ding op eie houtjie moes doen.

Maar ek het die bogenoemde stelling gemaak toe my kleuter se vrae nog laergraad was: “Hoekom trek jy ’n baadjie aan, pappa?” “Want dit is koud, Janco.”

My fout was om te dink dis die hoeveelheid hoekoms wat jou teister. Die kwantiteit is toe eintlik heel verteerbaar, maar toe die kwaliteit begin toeneem, moes ek meteens hard probeer om gesigte en stemme van toentertyd se onderwysers terug te vind.

“Hoekom is ons Kia grys?” vra die vierjarige. “Hy is nie grys nie, hy is silwer.”

“Hoekom is ons Kia silwer?” “Want hulle het hom so geverf.” “Hoekom?” “Want karre lyk mooi so.”

“Ek wil hê hy moet groen wees.”

So begin dit. Met dié soort vrae is feitlikheid van mindere belang.

Maar so een vlakkie hoër is die vrae wat die grysstof laat werk:

“Hoekom kom stukkies van die b(l)oekomboom se stam so af?” “Dis stukkies van sy bas.”

“Wat is bas?” “Stukkies boom aan die stam.” “

Hoe lyk bome se stukkies?” “Dis bas, seun. Bas! Dis die boom se vel.”

Maar die dag toe hy my vra hoekom water dan so nat is, was ek natuurlik uitgeboul. Ook Google se antwoord was onvertaalbaar na kleuterafrikaans.

As hy dus nou bíllike vrae vra, is ek opportunisties gretig om my as slimpappa te laat geld.

“Hoeveel is een en twee?” “Drie,” sê ek en sien hoe sy agting vir my ongelooflike kennis groei. “Wil jy my nog somme vra, seuntjie?”

“Hoeveel is vyf en drie en agt-vier-honderd-sewe en duisend-vyf?” Ek dink met ’n binnegiggel aan ons oudpresident, en gee dan ’n antwoord so foutief soos die vraag. Maar dit dien klaarblyklik die doel.

Mettertyd word my hantering van die hoekomfase skerper. Ek antisipeer die vrae nog voor ek ’n stelling maak, en staan dan met ’n arsenaal feite gereed.

“Ai, dis nou so droog, ek wens dit wil reën,” sê ek, en hy trap lag-lag in die strik. “Hoekom wil jy hê dit moet reën, pappa?” En voorbereid gee ek ’n lekepreek oor hoekom plant, dier, mens en ons ganse planeet van water afhanklik is.

“Maar hoekom reën dit so min?” kom sy opvolgvraag effens onverwags.

Ek kan min of meer die regte antwoord gee, maar besluit dit gaan hom deurmekaar maak. Dan spring hy my voor en las ’n stertjie by.

“Is daar nie genoeg water in die lug vir wolkies nie?”

Sjoe, goed dan. Dit blyk ’n antwoord is in orde. “Wel, jy sien, die water wat in wolke hier oor die binneland kom, is water wat uit die see opgestyg het omdat …,” sê ek, maar ek word in die rede geval met sy fokus meteens elders.

“Pappa, is dit nou tweeuur?” Ek sien sy blik is op die tikkende muurhorlosie gemik.

“Nee dis tien oor agt, my kind. As die lang wyser op twee is, beteken dit tien oor agt.”

“Hoekom? “Man … want die nommers op die horlosie is … um … eintlik vir die kort wyser bedoel.”

“Hoekom?” Ek trek die streep in die sand met ’n geldige waarneming om elf oor agt in die aand: “Janco, dis nou slaaptyd, hoor. Jy kan môre weer vrae vra.”

Op pad werk toe die volgende dag voel ek ingenome met die mannetjie se weetgierigheid en versterk my voorneme om hom altyd en volledig te probeer antwoord.

En dan worstel ek met my eie “hoekom”. Hoekom, as hy dan so vinnig en vaardig leer, sukkel ons al meer as ’n jaar dat hy die potjie gebruik en ons so onnodige wasgoed spaar?

Hy het immers ’n begrip van ingewikkelder sake soos die sonnestelsel.

“Maar hoekom is Pluto nie ’n planeet nie?” vra hy. “Want hy is te klein … (dink ek?)”.

“Is Jupiter die heel, heel grootste?” wonder hy dan. “Ja, boetie.”

“Groter as die son?” “O wag, nee. Die son is die heel grootste.” “Is die son van vuur gemaak?” “Ja. En allerhande gasse.”

“Hoe koud is dit op Uranus?” “Baie kouer as ons vrieskas,” sê ek. Beïndruk met ’n vraag bó kleutervlak, maak ek reg om te google, maar hy klim gou weer in sy ouderdom terug:

“Pappa, jy is ’n kielie-bielie-neus-snollie- monsterkop,” en hy lag uitbundig vir sy eie grap.

“Nee sies man,” maan ek vriendelik, en wonder of hy enigiets oor die planeetgesprek onthou.

Jy sien, hierdie seuntjie verander gouer van stasie as enige naïewe ou wat die knop draai op soek na ordentlike FM radio. Ek vat toe die suisende gaping tussen “stasies” om vir die soveelste keer te por dat hy ’n besoek aan die potjie bring.

Langgesig stem hy nogal in. En al laat hy my nie toe om vir ondersteuning (aanmoediging) saam te gaan nie, roep hy al sittend oor ’n afstand sy volgende onderwerp uit:

“Paaaaappa!! My gunstelinglande is Duitsland, Amerika en Bultfontein!” (Sy oupa en ouma woon op laasgenoemde.)

“Dis oulik, my seun! Kom jy reg daar?” roep ek van doer af.

Eers stilte, en dan, terwyl die badkamerakoestiek sy skrilstem laat weergalm: “Pappa, pappa! Ek het dit reggekry. Kom kyk! Dis so groot soos Jupiter!”

Smaak my hy het toe wél na die planeetgesprek geluister. En aangesien ons hom die maan en die sterre belowe het sou hy slaag, begin ek oor ’n beloning tob terwyl hy met twee bene in een broekspyp uit die badkamer sukkel.

“Pappa, watter planeet is ámper so groot soos Jupiter?” vra hy, en ek raak uit ervaring skepties oor waarop dit alles afstuur.

“Janco, die Aarde is die mooiste planeet, dis al wat jy vanaand hoef te weet. Kom nou seun, ek is trots op jou. Kom bed toe.”

“Maar hoekom is die Aarde die mooiste?”

“Want die Here het dit so gemaak, my kind,” sluit ek die gesprek af – vaardig met die een ontbetwisbare Waarheid wat, as ek regtig nie meer weet nie, dan sommer alles omvat.