Dit was September 2018 en Yolandi en Pieter Duminy het uitgesien na hul wegbreeknaweek om Yolandi se 30ste verjaardag te vier.

Hul oudste seun, Johan (toe 4), het die hele twee uur se ry vanaf hul huis op Viljoenskroon in die Vrystaat tot in Pretoria geslaap.

“Dit was ongewoon dat hy so lank slaap, maar in daardie stadium het ek nie veel daarvan gedink nie,” vertel Yolandi.

Toe hulle die restauranttrappies opklim, het Johan gestruikel.

“Ek het gedink dis die nuwe plakkies wat hy dra. Hy het ook die hele tyd by my gesit pleks daarvan om te speel. Hy het nóg ’n keer by die restaurant gestruikel en ek het toe sy plakkies uitgetrek.”

Ná ontbyt het Yolandi en Pieter (35) vir Johan en sy kleinboet, Müller (3), by haar suster, Melanie Phillips, in Pretoria afgelaai en koers gekies na die luukse hotel-landgoed Kievits Kroon, waar hulle die naweek sou deurbring.

“My sussie het my later die Saterdagmiddag gebel en gevra of Johan siek is, want hy is nie homself nie. Sy het gesê hy kom lomp voor en het al vyf keer geval. Ek was bekommerd, want hy het twee dae tevore per abuis teen ’n tuinvurk gaan sit, wat toe vooroor geval en hom ’n hou teen die nek toegedien het. Ek was bang daar was gevolge van dié ongeluk.”

Yolandi se suster het haar gerusgestel, maar later die aand weer gebel.

“Johan wou niks eet nie en het net ’n bietjie tee gevra. Hy kon egter nie eens die koekie vashou wat my suster hom gegee het nie. Hy het ook in die loop van die aand gehoes – maar dis nie ongewoon nie, want hy sukkel met sy bors.”

Naweek kortgeknip

Yolandi en Pieter het besluit om hul naweek kort te knip en hul kinders vroeg Sondagoggend te gaan haal.

“Toe ek Johan sien, het ek geskrik. Hy het ’n lelike hoes gehad en moeg en siek gelyk. Hy het ook snaaks geloop,” vertel Yolandi.

Hulle is met hom na die noodeenheid van ’n hospitaal in die omgewing. Die dokter het sinusontsteking gediagnoseer en verduidelik dit het sy balans aangetas.

Johan het antibiotika gekry en dis dadelik toegedien. Hulle het daarna saam met familie in Pretoria gaan eet.

“Dit het my bekommer dat Johan die hele oggend en middag op die bank gelê het,” vertel Yolandi.

Ná ete het hulle die pad terug Viljoenskroon toe aangepak.

“Toe ons vroegaand by die huis stilhou, kon Johan nie van die motor tot in die huis loop nie. Hy het ook gesukkel om sy botteltjie vas te hou en het sy handjies na sy bors ingedraai. Ons het ’n video geneem en dit vir ’n pediater gestuur. Hy het ons aangeraai om onmiddellik by ’n noodhospitaal uit te kom.”

Yolandi en Pieter is na ’n privaat hospitaal sowat 60 km ver op Klerksdorp in Noordwes.

“Ons het ’n wonderlike dokter daar ontmoet. Sy het gevra dat Johan loop en hom deeglik ondersoek. Sy het versigtig gesê dat sy Guillain-Barré-sindroom (GBS) vermoed. Dit was die eerste keer ooit dat ek daarvan gehoor het, maar ons het geweet dat ons seuntjie baie siek is en ons kon sien die dokter is bekommerd.”

Toetse vir Afrika

Johan is vir verskeie skanderings en toetse gestuur en om voorkomend op te tree, is die eerste dosis Polygam toegedien. Dis ’n baie duur middel wat gesonde teenliggaampies bevat.

Hy is ook in die hospitaal opgeneem.

“Dit was vreeslik sleg om my oudste seuntjie so te sien. Hy het eers die gebruik van sy voete en bene verloor en daarna sy onderlyf, bolyf en arms. Teen dag vyf kon hy net sy ogies knip en beweeg. Hy het suurstof en buisvoeding ontvang. Dit was aaklig om te aanskou. In die vyf dae het Johan verskeie kere x-strale, skanderings en toetse ondergaan sodat die dokters en spesialiste kon vasstel of hy wel GBS het.”

Ná vyf dae is Johan na ’n hospitaal in Johannesburg oorgeplaas sodat ’n pediatriese neuroloog na hom kon omsien. GBS tas ook die longe aan en Johan se een long het op die eerste dag in die Goudstad platgeval.

Hy was baie siek en is in die waakeenheid opgeneem.

“Nadat ek sy tas uitgepak het, het die personeel my gevra om hom te verlaat. Dit was die eerste keer dat ek besef het dat ek nie by hom sou mag bly nie. Ek was histeries. My seuntjie was maar vier jaar oud en dit was baie moeilik om hom alleen daar te los.”

Yolandi is net toegelaat om Johan drie keer per dag vir ’n halfuur op ’n slag te besoek. Sy het in ’n gastehuis naby die hospitaal tuisgegaan.

“Die ergste was dat hy nie eintlik meer kon praat nie en wat hy probeer sê het, het net ék verstaan. Hy kan ook nie eintlik Engels praat nie en die verpleegsters het hom nie verstaan nie.”

Johan het intensiewe fisioterapie ontvang.

“Die fisioterapeut het gehelp om sy lyfie sterk te hou, aangesien hy nou heeltemal verlam was en nie kon beweeg nie. Sy longe is ook deur die fisioterapeut geklop en die slym uitgesuig,” vertel Yolandi.

“Daar maal so baie dinge deur ’n mens se kop. Ek het gewonder hoe ek my huis vir ’n rolstoel sou inrig, hoe Müller alles sou hanteer en hoe anders dinge voortaan sou wees.”

Daar was goeie dae en slegter dae, maar Johan is ná ses dae uiteindelik na die kindersaal verskuif waar hy ’n bietjie langer as twee weke behandel is.

Teen die tyd dat hy ontslaan is, kon hy nog nie loop nie, maar hy het darem alle gevoel en ander funksies teruggekry.

See toe

’n Week nadat Johan ontslaan is, het die Duminys besluit om ’n blaaskans te neem en saam met die kinders Umhlanga toe te gaan. “Dit was die beste ding wat ons kon doen. Dáár het ons ’n besluit om elke dag hard met hom te oefen, te speel en tyd met hom deur te bring. ’n Dokter het ons ook aangeraai om Johan aan te moedig om self te loop en dinge self te doen. Dit was die beste raad, al was dit nie maklik nie.”

Yolandi kry trane in haar oë as sy vertel hoe sleg dit was om haar seuntjie so te sien sukkel.

“Ons was een dag by ’n swembad met waterglybane vir jong kinders. Johan het die trappe probeer uitklim, maar elke keer geval. My hart het gebreek. Hy het by my kom sit en huil en dan moes ek hom aanmoedig om oor en oor te probeer sodat hy self by die glybaan kon afglip. Dit was een van die moeilikste dinge wat ek nóg beleef het.”

Tydens die vakansie het Johan uitstekende vordering gemaak. Teen die tyd dat die gesin terug huis toe gekeer het, kon hy weer stadig loop en self dinge doen, al het dit soms sukkel-sukkel gegaan.

“Ek is baie trots op hom. Dit was vir hom ongemaklik en seer, maar hy het hard gewerk. Sy perfeksionistiese geaardheid het ook baie gehelp. Hy wóú weer normaal loop.”

Johan moes ná sy ontslag uit die hospitaal byna twee maande lank voet- en beenstutte dra. Hulle het groter tekkies gekoop sodat die voetstutte daarin kon pas en Johan moes met die beenstutte slaap sodat sy voete en bene nie na binne draai nie. Hy het ook maande lank intensiewe fisioterapie gekry. Die harde oefening het ’n reuse-invloed op sy beterskap gehad.

“Ons is dankbaar dat Johan amper niks oorgehou het van hierdie gevaarlike sindroom nie. Daar is geen mediese verklaring vir waarom hy siek geword het nie en die mediese personeel was verwonderd oor hoe vinnig hy herstel het. Ons het die GBS ook vinnig gevang danksy die wonderlike mense wat oor ons pad gebring is.

”Vandag hardloop en speel Johan weer soos altyd. So baie mense wat GBS kry, is nie so gelukkig nie. Ons weet net een ding: Jesus moet oor Johan se genesing verheerlik word.”

Yolandi sê hul geloof en gebed was ’n steunpilaar in die moeilike tyd. Daar was ook hope ondersteuning van vriende, familie en selfs vreemdelinge.

“Net ’n koffie, inloer of drukkie in die hospitaal het elke keer op die regte tyd gekom.”

Nog een van die mense wat haar deur hierdie moeilike tyd gehelp het, was ’n vrou van Schweizer-Reneke in Noordwes wie se seun GBS gehad het ’n jaar voor Johan dit gekry het.

“Ek het Esté Steynberg nog nooit ontmoet nie, maar sy het my gekontak nadat daar ’n berig oor Johan in ’n plaaslike koerant was. Ek is haar ewig dankbaar vir die ondersteuning.”

Yolandi en Pieter het ook aangesluit by ’n Facebook-groep vir mense wat deur GBS geraak is. Hulle het baie ondersteuning en bemoediging daar gevind.

“Die omgee in daardie groep was van onskatbare waarde. Dis vertroostend as jy weet ander het dieselfde as jy deurgemaak. Nou is dit ons beurt om vir iemand anders iets te beteken.” 

Johan Duminy
Wat is Guillain-Barré-sindroom?

Mense met Guillain-Barré-sindroom (GBS) se immuunstelsel val die senuwees in hul liggaam aan, aldus mayoclinic.com. Bakterieë of ’n virusinfeksie kan die toestand aan die gang sit.

Simptome begin met swakheid en speldeprikke in die voete en bene en versprei dan na die bolyf. Verlamming kan die gevolg wees.

Daar is geen behandeling vir GBS nie, maar die simptome en duur van die siekte kan behandel word. Tussen 4 en 7 persent van mense met GBS sterf en tussen 60 en 80 persent kan eers ses maande later weer loop.

Die presiese oorsaak van die toestand is nog onbekend. Die oud-Springbokrugbyspeler Klippies Kritzinger is in 2016 op 67 jaar oud aan GBS oorlede.