Jy ignoreer jou vriende se pogings om te kom kuier om die nuwe baba te sien, jy dink nét aan slaap, en jy voel paniekerig elke keer as die baba ’n geluid maak. Jy kan jou man amper nie in die oë kyk nie, want jy’s bang vir wat jy daar gaan sien: Jy is ’n slegte ma. Jy verwyt jou dat jy nie oorloop van liefde nie. Dalk is dit beter as iemand anders maar net die baba van jou wegneem, al sal dit jou hart breek.

Liewe leser, jy het postnatale depressie. Dis nie ’n skande nie, dis nie jou skuld nie, en dis eintlik baie algemeen. Moenie alleen en in stilte ly nie.

Daar is drie soorte gemoedsversteuring waaraan vroue kan ly ná die geboorte van hul kind. Die spreekwoordelike baby blues slaan baie algemeen en vinnig toe opdie derde dag van jou baba se lewe. Tot85 persent van vroue kry dit, veral eerstekeerma’s. Die tipiese gevoel van hartseer, huilerigheid, broosheid, moegheid, be­noudheid en ligte angs behoort hoogstens twee weke te duur (en meestal baie korter).

Postnatale psigose is weer ’n lewensgevaarlike, maar gelukkig baie seldsame gemoedsversteuring waar dit voel asof kinder- en/of selfmoord die enigste uitweg is. Onmiddellike hospitalisering is nood­saaklik.  Op die spektrum tussen bababloute en postnatale psigose, lê post-natale depressie of PND.

Tipiese kenmerke

Hoewel elke ma PND anders ervaar, is daar tipiese kenmerke. Dit slaan gewoonlik toe tussen die sesde week en derde maand ná jou baba se geboorte, maar dit kan ook onmiddellik posvat, of selfs ’n jaar ná baba se geboorte begin.

Dis ’n ernstige versteuring wat behandeling vereis. Psigiaters reken tot 30 persent van nuwe ma’s ly daaraan, maar dat baie vroue dit miskyk omdat hulle bang is om te erken dat hulle nie die mas opkom nie.

Het jy dit?

Só lyk van die tekens:

  • Lusteloosheid, ’n verandering in eet­patrone en spysverteringsprobleme
  • Slapeloosheid of die begeerte om aanhoudend te slaap
  • ’n Onvermoë om met jou baba te bind
  • Oorsensitiwiteit vir mense se kommentaar
  • Konsentrasieprobleme
  • Die gevoel dat verantwoordelikhede jou oorweldig
  • ’n Gevoel dat jy misluk as ma – jy voel waardeloos en nutteloos
  • Onttrekking van almal en alles
  • Geen vreugde of belangstelling in dinge wat jou gewoonlik opgewonde gemaak het nie.

Op die webtuiste patient.info kan jy kyk onder “postnatal depression” en ’n vraelys invul wat sal toets of jy PND het.

Onthou maar net dat die toestand vir almal anders voel. Jy kan dalk ook meer paniekerig en angstig voel as depressief; of tekens van obsessief-kompulsiewe gedrag toon. Behandeling word ook hiervoor aanbeveel.

Ruk jou reg?

Nee, om net nog kwaaier met jouself te wees, gaan nie help nie. Jy het hulp nodig. Maak onmiddellik ’n afspraak met jou dokter en vra vir ’n verwysing na ’n psigiater of terapeut wat in PND spesialiseer. Doen dit vroeër liewer as later, al het jy nie ál die simptome op die lysies nie.

As jy te broos voel om dokter toe te gaan of die regte dokter op te spoor, gaan na die webtuiste van die South African Anxiety and Depression Group (sadag.org). Hulle bied gratis berading aan en het 24-uur hulplyne.

PND kan baie suksesvol behandel word met ’n kombinasie van medikasie, onder­steuning, berading en psigoterapie.

Vertel ook gerus jou naastes wat aangaan. As jou familie en naaste vriende nie weet wat fout is nie, sal hulle ook nie weet hoe om jou te ondersteun nie. Hoe meer mense uitpraat oor die toestand, hoe makliker word dit ook vir ander vroue wat in die toekoms dalk daaraan gaan ly.