WENBRIEF

Amper tyd vir lyf terugkry

Ek het einde Januarie 32 geword. Ná drie babatjies en sewe jaar van pajamadril voel ek snaaks genoeg uitgedaag met dié mylpaal. Dis asof ek vir die eerste keer die spreekwoordelike nes kan verlaat en iets van myself kan gaan maak. My lyf is vir die eerste keer in ’n lang tyd weer my eie. My baba is drie maande oud, en ons is nou klaar kinders gebroei. Ek voel tegelykertyd hartseer daaroor, maar ook of ek van verligting wil jubel: ”Uiteindelik!”

Natuurlik wag daar nog maande se borsvoeding wat die lyf nie heeltemal my eie maak nie, maar ek voel ek kan begin droom, wegspring uit die blokke, begin oefen, my huis organiseer (ek spog met ’n splinternuwe aansteekbord vir dié doel) en uiteindelik op my man ook fokus en sy lang beloofde kat word sonder dat ”nasiebou” ons weer kniehalter. Daar’s skielik vir my so baie moontlikhede om na uit te sien.

So, 32: uitdaging aanvaar. Ek’s opgewonde oor hierdie nuwe fase. My baba is nog bitter klein en sy is die mooiste pop en grootste bederf waarvan ons kan droom. Ek wens dit nie vir een oomblik verby nie. Dis net ’n ongelooflike lekker gevoel van uitsien oor wat nou kom. En ek het gedink 32 is oud! Francel Burger, Upington, Noord-Kaap.

Ben (6), Jan (3) en baba Elsa (3 maande) Burger

Tatta ‘ek’, hallo ‘ma’

In November verlede jaar word my “titel” aangepas en ek ervaar die wonder van ma wees. Dis ongelooflik, onbeskryflik, dis onvoorwaardelike liefde. Daardie eerste ontmoeting (hoe kan ek dit verwoord?) is onvergeetlik. God het alles vervolmaak!

Jy het dadelik geweet ek is jou ma. Ek het jou perfek geweefde lyfie styf in my arms gevou en besef ons lewe het onherroeplik verander. Die “ek” is vervang met “ma”. ’n Beskermingsdrang het ingeskop en ’n hegte band is reeds met die eerste hartklop gesmee.

Jy, Liam John Fourie, is aan ons toevertrou, en ek weet jy, my seun, gaan ’n verskil maak. Vrou wees/ma wees: Dit is sinoniem met sterk wees. Wat ’n absolute voorreg, wat ’n absolute seën. Jolandi Potgieter, Mokopane, Limpopo.

Jolandi Potgieter en Liam (6 maande)

Amper Pa en sy baba

My man, Johannes, het ’n wonderlike band met ons ongebore baba. Dis ons eerste kind en ons is baie opgewonde – en gereed. Daagliks is daar klein bewegings en ek raak dan kinderlik opgewonde, maar as ek by die huis kom en Johannes vat aan my maag, is dit die baba wat kinderlik opgewonde raak. As baba pa se stem hoor, skop hy of sy dat jy net heuwels sien. As Johannes aan my maag raak, beweeg baba daar waar geraak word. Hy deel iets baie spesiaal met ons baba, en ek is baie bly hy voel ook deel van die swangerskap. Natasha van der bank, Worcester, Wes-Kaap.

Natasha en Johannes

Ek word ouma!

Ek glo alle oupas en oumas is net so bly soos ons was as hulle hoor dat daar ’n nuwe kleinkind op pad is. Ons was behoorlik uit ons vel van vreugde en die trane van blydskap het geloop. Ons kinders het ons nog onlangs verseker dat hulle nie gereed vir ’n baba is nie, en toe kry ons die goeie nuus dat ons skoondogter al 11 weke swanger is!

Hierdie ouma het dadelik embrio’s op 11 weke gegoogle en was verstom om te sien dat dit eintlik al soos ’n klein babatjie lyk. Daar is al ’n stukkie babaklere in ’n neutrale kleur gekoop, en wat ’n lekkerte was dit nie. Ek het Baba & Kleuter oopgemaak en voel sommer tuis as ek lees van almal wat babatjies het.

Die volgende stap is om te hoor of dit ’n seuntjie of dogtertjie is, maar vir ons is al twee ewe welkom – al weet ek oupa Frans wil graag ’n kleindogter hê. Wat ’n wonderlike voorreg om saam met ons kinders al die mylpale van hul swangerskap te beleef.

Ons seun Dewald is ’n ekstrovert en gevoelsmens, en ons sien en deel in al sy emosies van pa word. Ons vertrou Tanya sal ’n gesonde en geseënde swangerskap hê, en ons kan nie wag om die nuwe kleinding te ontmoet nie. ’n Groot wonder in wording! Ouma Emil, Sandbaai, Wes-Kaap.

Tanya en Dewald van Eeden verwag hul eersteling in Oktober, en ouma Emil en oupa Frans kan nie wag nie

Tienerma vol liefde

Ek is 16 en swanger. Dis nie juis die grootste droom vir ’n graad 11-meisie nie, maar dis iets waaroor ek geen beheer het nie.

Aan die begin was ek bang en angstig – nie net as gevolg van my verlore reputasie nie, maar ook weens die druk daarvan om ma te word.

Ek was só bang om mense weer in die oë te kyk. Ek is dan ’n skande. Ek is ’n probleem. Ek is ’n nikswerd, ongehoorsame dogter. Ek is keer op keer gewaarsku oor my dade, maar ore was min.

Toe ek by die eerste sonar kom (dit was ’n kort een deur ’n apteekverpleegster), kon ek skaars iets sien, net die hartkloppie. Ek was heel emosieloos.

Sonars het gekom en sonars het gegaan en soos enige ma wat haar groeiende kleintjie sien, het my opgewondenheid toegeneem. Die liefde vir my ongebore babatjie het begin floreer.

Vrees en angstigheid het verander in vrede en geluk. Namate my kind se dag nader kom, word ek ál ongeduldiger om haar te sien, vas te hou en naby my te hê.

Soos elke swanger ma is ek soms bekommerd, maar dit verdwyn dadelik wanneer ek haar voel skop. Ek voel hierdie engeltjie wat binne-in my woel en grootword. Ek wag geduldig om haar ronde wangetjies te sien en haar piepklein vingertjies te soen.

Ek is dalk jonger as die ander ma's wat Baba & Kleuter lees, maar my opgewondenheid is net so groot soos elkeen s’n. Om te dink dat ék geseënd genoeg is om ’n kleintjie in my te laat groei, haar vas te hou wanneer sy gebore is, haar myne te kan noem – dis ’n onbegryplike voorreg.

Ek mag óók 'n ma wees, ten spyte van my fout. Ek strewe nie daarna om die volmaakste ma te wees nie, maar eerder om my beste te gee soos ’n volwasse, goeie ma moet doen. Junandi Meyer, Roodepoort, Gauteng.

Junandi Meyer (16) op amper 29 weke swanger
Ons facebook- ma’s vertel ... Wat het jy vir jou en jou nuwe baba se eerste uitstappie gedoen? Was jy alleen en het alles goed verloop?

Ina-Lize Venter (38), Potchefstroom, Noordwes Ons eerste uitstappie was uit nood, om NUK-bottelspene te gaan koop. Ons is Dis-Chem toe. Dit was net ek en my baba in die stootwaentjie, en wie weet dan wat om met ’n inkopiemandjie te doen? Hy het begin huil, en ek het verbouereerd met bottels in my hande gestaan en van pure onbeholpenheid bloedrooi gebloos. Twee ouer vroue het effens geamuseerd gesê: “Well, pick him up, dear!” Ek het die bottels onderin die stootwaentjie gegooi en my baba in die gangetjie gestaan en troos tot hy rustig was.

Tania Enslin (34), Vereeniging, Gauteng Ons eerste uitstappie was op dag vier ná die geboorte om winkels toe te gaan vir nuwe melk en om ’n paar goedjies vir die huis te kry. Pappa en ousus het saamgery.

Chantelle Pretorius (25), Mareetsane, Noordwes My en baba se eerste uitstappie was op drie weke om tussen die mielies te gaan stap saam met sy driejarige boetie, pappa en die honde. Dit was lekker, behalwe toe die dik sand dit moeilik gemaak het om by te bly.

Antoinette Smith (36) van Lephalale, Limpopo My skoonma was by ons toe ons kleinboet gebore is. Toe hy omtrent ’n week oud was, het ons restaurant toe gegaan vir ’n lekker bederfie. Behalwe vir een huil vir sy mamma se melk was dit ’n droom om uit eet!

Melanie Sloet (28), Fochville, Gauteng Ons het by ’n restaurant gaan eet toe ons baba ses weke oud was en ’n paar weke later het ek ’n verfklas bygewoon. Dit was hemels!

Madelyn Palm (30), Vanderbijlpark, Gauteng My eerste baba was vier dae oud toe ek met haar kerk toe is. Die tweede een het ek op sewe dae oud saam geneem na ’n La Leche League-ondersteuningsgroep.

Clever Little Monkey
Wen ’n Clever Little Monkey-geskenkbewys ter waarde van R1 800!
Clever Little Monkey maak speeltyd altyd stimulerend. Die donkergrys tipi en grys gestreepte kombers van 100 persent katoen (albei deur Bunni) is volmaak vir ’n TV- kamerfort op ’n koue dag, ’n leeshoekie, ’n piekniek of selfs as beskutting op die strand. Gebruik jou verbeelding! Gaan gerus na cleverlittlemonkey.co.za.