VRAAG: Ek het twee kinders. My tweejarige het ’n rukkie gelede opgehou asemhaal. Ons het hospitaal toe gejaag, waar hulle hom gehelp het. Sy ouer broer van vier het dit alles aanskou. Hy is die laaste ruk nie homself nie. Hy is stiller as gewoonlik en doen stout dinge om aandag te kry. Hoe hanteer ek dit? Wat kan ek doen om hom te help?

MADELEIN KOEN ANTWOORD: Wanneer ’n kind blootgestel was aan ’n ervaring wat sy eie lewe in gevaar stel of die lewe van een van sy geliefdes, word dit as trauma geklassifiseer. In werklikheid kan byna enige negatiewe gebeurtenis as traumaties vir ’n kind beskou word as dit onverwags plaasgevind het.

Die reaksie van ’n kind op ’n angswekkende ervaring hang af van ’n wye ver- skeidenheid faktore, insluitend sy ouderdom, ontwikkelingsfase en persoonlikheid, asook die uitwerking van die krisis op sy ouers of ander familielede.

Omdat die reaksie van jong kinders verskil van ouer kinders s’n en omdat hulle nie hul reaksie op trauma doeltreffend kan verwoord nie, neem baie mense aan dat jong kinders nie noodwendig geraak word deur traumatiese ervarings nie.

Dit is egter te verwagte dat jou kind ná hierdie ervaring vreemde gedrag sal openbaar en reageer op maniere wat jy nie verwag nie.

Ná ’n traumatiese ervaring toon kinders jonger as vyf gewoonlik tekens van vrees. Hulle onttrek hulle en verloor belangstelling in aktiwiteite, hul selfvertroue neem af en hulle verval soms in ”jonger” gedrag soos duimsuig of bednatmaak.

Kinders se reaksie op trauma word dikwels ervaar as moeilike of stoute gedrag. Dit is belangrik om te verstaan dat ’n traumatiese ervaring die kind se gevoel van veiligheid en die voorspelbaarheid van hul wêreld in die gedrang plaas. Sy gevoel van beheer word van hom weggeneem in ’n angswekkende situasie en dus openbaar hy uitdagende (stoute) gedrag omdat dit hom weer ’n gevoel van beheer teruggee.

Dit is normaal om gefrustreerd of moedeloos te raak oor hierdie gedrag, maar om dit met woede te hanteer of van die kind te verwag om sy “stoutigheid” te laat staan, kan dinge erger maak. Probeer eerder die volgende strategieë:

  • Praat met jou kind oor die voorval. Verduidelik wat gebeur het op ’n manier wat ouderdomsgepas is en in ’n taal wat hy verstaan en sonder onnodige besonderhede wat nog meer vrees kan skep. As jy inligting van jou kind weerhou, sal hy die gate invul deur sy verbeelding te gebruik en dit sal nie noodwendig die werklikheid weerspieël nie.
  • Stel jou kind gerus dat sy boetie nou veilig en gesond is. Soms het kinders vrae wat hulle voel nie gevra mag word nie, soos “Sal my boetie doodgaan?” of “Was dit my skuld?” Hy kan moontlik ook bekommerd wees dat dit met sy ouers of hom ook kan gebeur. Stel jou kind gerus en help om die situasie binne konteks te plaas.
  • Moedig jou kind aan om self ook oor die voorval te praat en te verduidelik hoe dit hom laat voel het. Daar is verskillende kreatiewe maniere waarop jy hom kan help om sy emosies uit te druk – hy kan dit teken, verf of met klei uitbeeld.
  • Bestee individuele gehaltetyd saam. Dalk het hy ’n behoefte aan aandag omdat almal net op kleinboet gefokus het.
  • Gee jou kind ’n gevoel van beheer terug deur keuses aan hom te bied. Selfs mini-keuses soos wat hy op sy skooltoebroodjie wil hê of watter slaapklere hy wil aantrek, skep weer die gevoel van beheer en versterk sy selfvertroue. Dit is belangrik ná die chaos wat in ’n krisis ervaar word.
  • Probeer om nie oorbeskermend te wees nie. Dit is normaal om ekstra versigtig te wees ná so ’n angswekkende gebeurtenis, maar jy wil ook hê dat jou kind gemaklik moet wees en voel dat sy wêreld ’n veilige plek is.
  • Praat oor maniere waarop julle as gesin kan keer dat so iets weer gebeur, soos om medisyne byderhand te hou, vir waarskuwingstekens op die uitkyk te wees en ’n aksieplan te hê wat indien nodig gevolg kan word.

Kinders maak staat op hul ouers of versorgers om sin te maak van ’n traumatiese voorval en maniere te vind om daarop te reageer. Hulle het volwassenes nodig om hulle te help om hul eie vrese, angs en gedrag te verstaan en gepaste maniere te leer om daarop te reageer.

Met jou liefde en ondersteuning kan die slegte herinneringe aan die trauma- tiese gebeurtenis stelselmatig begin vervaag en kan jou kind se lewe na normaal terugkeer.

As jou kind egter nie vorder nie en dit inbreuk maak op sy vermoë om tuis of by die skool te funksioneer, is dit nodig om professionele hulp in te roep. Spelterapie is ’n doeltreffende manier waarop jong kinders gehelp kan word om deur hul trauma te werk en beheer oor hul gevoelens terug te kry. 

Het jy 'n vraag?

E-pos jou vrae na briewe@babaenkleuter.co.za 

Vrae kan ongelukkig nie persoonlik be­ant­woord word nie.