VRAAG: Ek het twee kinders van vyf en ses jaar oud. Ek wil gesonde eetgewoontes by hulle vestig, maar die twee verskil soos dag en nag. Die een is piepklein en maer en het nie juis ’n eetlus nie, veral nie vir vleis nie, en die ander een grens aan oorgewig en eet alles wat voorkom. Dit voel of ek twee verskillende strategieë moet volg om die een aan die eet te kry en die ander terug te hou, maar dis moeilik want ons eet almal saam. Ek maak byvoorbeeld smoothies wat ek vol voedingstowwe prop sodat die kleintjie darem iets kan inkry en dan drink hy 200 ml. My groot kind wat dit regtig nie nodig het nie, drink byna 500 ml bo en behalwe die ontbyt wat hy klaar geëet het. Dis asof my plan altyd by die verkeerde kind uitkom en die probleem net erger maak. Wat staan my te doen?

THARIEN BEZUIDENHOUT ANTWOORD: Ek is so bly dat jy gesonde eetgewoontes by jou kinders wil vestig.

As ouers probeer ons hard om ons kinders gelukkig en gesond te hou. Soms weeg hulle ondanks al ons moeite steeds nie wat hulle behoort te weeg nie. Dan tob ons: Is my kind ondergewig of dalk oorgewig? Wat kan ek doen om hul gewig en gesondheid te verbeter?

’n Kind word as ondergewig beskryf wanneer hul Z-telling op die groeikaart van die Wêreldgesondheidsorganisasie –2 of minder is. Dit word beraam volgens die verhouding tussen gewig en lengte.

Oorgewig is weer ’n Z-telling van +2 of meer vir gewig tot lengte.

’n Pediater of dieetkundige kan jou help om die groeikaarte te verstaan. Elke kind is anders en het ’n optimale gewig, maar dis baie belangrik dat jou kind die kurwe van die groeikaart volg en dat daar nie skielike veranderinge soos gewigsverlies is nie.

As ’n kind elke jaar uit hul klere groei, is dit ’n goeie teken.

Kinders kan om verskeie redes ondergewig en sonder eetlus wees. Die alge- meenste is dat hulle te min eet. Dit kan wees omdat hulle kieskeurige eters is of vir sekere teksture sensitief is.

Daar kan ook mediese redes wees. As jou kind vroeggebore was, kan hy later steeds minder as sy portuurgroep weeg.

’n Ystertekort kan die eetlus verlaag. Dit word ’n bose kringloop, want dan eet hulle minder vleis en word die ystertekort net erger. Sekere medisynes (veral vir hiperaktiwiteit) kan ook die eetlus demp.

Net so kan oorgewig aan verskillende faktore toegeskryf word.

Dis meestal as gevolg van dieet en ’n tekort aan oefening.

Soms speel oorerwing ’n rol (pa is byvoorbeeld groot gebou) en sommige medisynes kan ook die gewig laat aanpak. Dis belangrik om mediese kennis in te win waar nodig. Soms is daar oorgewig sowel as ondergewig kinders in ’n huisgesin (en volwassenes ook). Hier is ’n paar strategieë wat vir albei sal werk.

Roetine Ons dink soms dis goed as die ondergewig kind enige tyd en dan boonop enigiets eet. Dis egter ’n slaggat.

As ’n kind gereeld en aanhoudend eet, is hulle teen etenstyd nie honger nie. Hulle sal meer kilojoules en voedingstowwe inkry as hulle vir maaltye wag.

’n Goeie roetine is drie gesonde maaltye met drie gesonde peuselhappies per dag. Dis goed om soos julle as gesin saam te eet.

Porsiegroottes Albei kinders moet leer hoeveel hul liggaam nodig het. Jou verantwoordelikheid is om hulle daarmee te help.

Beperk die oorgewig kind se porsiegroottes tot die aanbevole hoeveelheid inname per dag (ontbyt gevolg deur ’n smoothie van 500 ml is beslis meer as nodig).

Begin klein by die ondergewig kind. Bied hom ’n porsiegrootte aan van wat hy sal voel hy kan baasraak en vergroot die porsies dan algaande.

Gee jou kind ’n keuse (maar nie vrye tuels nie) Soms wil ’n kieskeurige eter net in beheer voel. Kleuters begin kies van watter kleur hulle hou en watter klere hulle wil aantrek – en op dieselfde manier probeer hulle ook hul kosinname beheer.

Gee albei kinders dieselfde twee gesonde opsies vir ’n peuselhappie: “Wil jy aarbeie of ’n appel eet?”

Jy kan ook vra hoe hulle die appel wil eet: “Moet ek die appel skil en sny, of net die stronk uithaal?” Vermy dit om ongesonde keuses in te sluit en maak ook seker jou kombuis is vol gesonde kos.

Hou jou kind aktief Hardloop rond en speel buite om eetlus te verhoog en te help keer dat die gewig aanpak.

Eet gesond en voedsaam Vermy kos met min voedingswaarde soos skyfies. Jy kan die ondergewig kind se kos verryk deur byvoorbeeld grondboontjiebotter saam met die appel te gee of ’n voedingsaanvulling by sy kos in te meng. Vra ’n dieetkundige vir raad oor die regte aanvulling.

E-pos jou vrae na sharing@ypbmagazine.com.

Vrae kan ongelukkig nie persoonlik beantwoord word nie.