Hier en daar kry mens ’n lankmoedige kind, maar vir die meeste kleingoed is dit baie moeilik om te wag vir iets wat hulle begeer. Om geduldig te kan wag is ’n aangeleerde vaardigheid – een waarmee ouers gerus moeite kan doen sodat hul kind dit kan baasraak, want dis een van die sleutels tot toekomstige geluk. Die vermoë om te wag lei tot geduld, respek, selfdissipline en suksesvolle verhoudings.
Wees versigtig om nie te vroeg daarop aan te dring dat jou kind geduld leer nie. In haar eerste twee jaar is ander dinge belangriker, soos haar behoefte aan sekuriteit, liefde en vertroue, sê Sanet Verster, ’n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad.
“Navorsing wys dat babas wat onseker en angstig grootword en nie leer om hul omgewing te vertrou nie, gewoonlik meer ongeduldig en gefrustreerd is en nie in staat is tot uitgestelde beloning (delayed gratification) nie,” sê sy.