Vandag se vroue verloor hulleself te midde van hul pogings om die volmaakte tuiste te skep en die volmaakte kinders groot te maak, skryf die Amerikaner Judith Warner in haar boek Perfect Madness.

Die Suid-Afrikaanse navorsingsielkundige en skrywer van die boek When Your Blessings Don’t Count stel dit amper sterker: “Ma’s offer hulleself by die altaar van moederskap op.”

Kortom: Die manier waarop ons ma-wees aanpak, is nie goed vir ons nie. Judith se bevinding is gebaseer op gesprekke met 150 Amerikaanse ma’s. Sowat 70 persent van hulle het in ’n opname gesê moederskap is vir hulle “ongelooflik spanningsvol”.

Waarom is moderne ouers behep met elke klein besonderheid van hul kinders se ontwikkeling en van hul eie vaardigheid as ouers? vra Judith. En hoe het ons ophou verstaan dat ons as volwassenes ook tyd en ruimte nodig het?

Van liefde tot verwyt

Dis blykbaar nie meer goed genoeg om net ’n gewone toegewyde ma te wees nie. Pleks daarvan moet ons überma’s wees wat van die sportveld na die speelafspraak na die skoolkonsert jaag tot ons aan die einde van die dag heeltemal ooreis en poegaai in die bed neerplof. Ons is nie tevrede daarmee om net “goed genoeg” te wees nie, soos Donald Winnicott – invloedryke Britse kinderpsigiater van die 1950’s – lankal gemaan het.

Volgens Donald begin ’n ma wat “goed genoeg” is deur haar hele bestaan by haar baba se behoeftes aan te pas, maar namate baba die wêreld beter leer hanteer, doen sy dit ál minder. “Hoe minder sy haar eie lewe by elke behoefte van haar kinders aanpas, hoe beter leer hulle om die lewe te hanteer.” Volgens Donald word swanger vroue se gedagtes heeltemal deur die swangerskap in beslag geneem. Dit word primêre moederskapspreokkupasie genoem en motiveer ma’s om hul baba te wil versorg.

Maar hierdie beheptheid moet in ’n stadium begin oorskakel na wat Donald beskryf as die “vlug na gematigdheid”. Dit gebeur wanneer ’n ma besef die lewe draai nie net om haar baba nie. Dit beteken dat sy ’n bietjie sal wag voor sy op haar ouer baba se gehuil reageer. Dit leer die baba om party van die frustrasies wat sy in die wêreld gaan teëkom, te begin verdra. Dis nie slegte dinge wat jy doen om jou kind skade te berokken nie, maar dinge wat jou kind algaande help leer dat haar ma nie in staat is om álles reg te maak nie.

As primêre moederskapspreokkupa- sie nie verdwyn nie, val ma’s in hul baba se behoeftes vas en kan ’n mens jou baba selfs daarvoor kwalik begin neem. Donald noem dit moederskaps- ambivalensie.

Helen Malgas, ’n voorligtingsielkundige van Plumstead in Kaapstad, verduidelik dit so: “Die ma is lief vir haar baba, maar sy neem haar baba ook kwalik, want alles draai om die baba. Wanneer hierdie verwyt inskop, voel die ma skuldig daaroor.

Is jy ’n maniese ma?

Die belangrikste vraag is waarom vandag se geslag ma’s, stellig die mees bevryde groep vroue ooit, hulleself rasend maak in hul soeke na volmaakte moederskap. Die moderne samelewing is perfeksionisties, ons kan ons liggaam langer aan die gang hou en aan ons gesig werk deur lagplooie en kommerplooie uit te vee. Ons glo aan die illusie van beheer, en nêrens speel dit ’n groter of meer skadelike rol as in die verskynsel van maniese moederskap nie. Daar is vir ouers meer op die spel as ooit tevore.

“Ons lewe in ’n era van hoë verwagtinge waar alles ’n Facebook- of Instagram-oomblik word,” sê dr. Alan Manevitz, ’n psigiater by die Lenox Hill-hospitaal in New York. In ’n essay vir die Amerikaanse nuustydskrif Newsweek skryf die joernalis Anna Quindlen dat haar ma volgens hedendaagse moederskap-standaarde misluk het. Dis egter hoegenaamd nie die waarheid nie. “My ma was uitstekend met wat sy gedoen het. Moet my nie misverstaan nie, sy het nie saam met ons op die vloer gesit en ons gehelp om met ons konstruksiestelletjies te bou nie, sy het ons nie rondgery van die ysskaatsbaan na die klavierles nie. Maar waar sy was, het dit altyd soos ’n veilige plek gevoel.”

Wat laat jou skuldig voel?

In ’n opname onder 1 300 Amerikaanse vroue is gevind dat die ding waaroor ma’s die heel skuldigste voel, is dat hulle op hul kinders skree. Dit is waarskynlik weens moederskaps­ambivalensie, sê Helen. “In ons diepste wese glo ons ons moet ons kinders liefhê, maar die werklikheid is dat ons kinders ons ook soms kwaad gaan maak.” 

Linda sê ma’s skree gewoonlik op hul kinders wanneer hulle meer as een kind het.

“Dis die behoeftigheid van die tweede kind terwyl jy met die eerste kind besig is wat dikwels veroorsaak dat jy skree. Een van die redes waarom jy skree, is dat jy oorweldig voel en niks oorhet om te gee nie. Jy het hier gekom omdat jy nie na jouself omgesien het nie. As jy aanhou om selfopofferend te gee, gaan daar niks meer oor wees om te gee nie.”

Veral tuisblyma’s voel skuldig om tyd aan hulleself af te staan. 

Linda meen die rede daarvoor is geld. “Ma’s voel dat as ’n mens geld verdien, jy die reg verdien om te ontspan. Maar omdat hulle nie geld verdien nie, voel hulle skuldig wanneer hulle ontspan.”

’n Tweede groot rede vir skuldgevoelens was dat ma’s dikwels wens hulle was vry. Wie van ons wou nie al eenvoudig wegloop van slaapverlies, die gehuil en die chaos nie? En dan voel ons skuldig omdat ons so voel. 

’n Derde belangrike rede is werk. Ma’s voel skuldig omdat hulle hul kinders tuis laat of omdat hulle graag weer wil gaan werk.

Kanadese navorsers het gekyk hoe ma’s mekaar op die internet oor skuldgevoelens raadgee. Een van die voorbeelde wat hulle aanhaal, is van ene Tami, wie se man tuis bly om na hul kind om te sien. Haar raad aan ander ma’s is: “Ek het ’n lysie by my lessenaar wat my help om die skuldgevoelens te hanteer. Nommer 1 is ‘Op hierdie oomblik lag ons seuntjie in sy pappa se arms’ en nommer 5 is ‘Op hierdie oomblik is ek besig om my gesin te versorg deur geld te verdien.’ ”

Navorsing wys daar is ’n verskil tussen kinders wie se ma met selfvertroue terug werk toe gaan en dié wat baie skuldig daaroor voel, sê Linda. Eersgenoemde groep kinders voel meer geborge. Om die waarheid te sê, hulle voel presies net so geborge as kinders van tuisblyma’s! 

Tree in die oomblik op

Vir die meeste mense was die besluit om kinders te hê nie om ander te beïndruk deur ’n superma of superpa te wees nie, maar sodat ons ’n spesiale band met ’n klein lewetjie kan hê vir wie ons sal liefhê en versorg tot sy ’n wonderlike volwassene word.

Of jou baba dus twee weke, twee jaar of 12 jaar oud is: Vergeet ’n slag van al die dinge wat verkeerd loop en sit ’n paar oomblikke opsy om jou “baba” net vas te hou. Ignoreer die telefoon, laat staan die skottelgoed en skakel die TV af.

Maak jou oë toe en geniet die oomblik. Hierdie oomblik sal nie al die ander krapperighede laat verdwyn nie, maar dit sal jou herinner waarom jy kinders wou gehad het en wat regtig belangrik is. 

Getty Images

Dis net wanneer jou baba nog baie klein is dat jy jou heeltemal aan haar moet toewy.
SLAAN SKULD SO HOK
  1. Laat party dinge gaan. Wat is belangriker: om seker te maak die mat kry nie nuwe vuil kolle nie of om tyd met jou gesin deur te bring? Gebruik veiligheid as ’n riglyn in jou besluit. Jou verantwoordelikheid is om ’n veilige omgewing vir jou kind te skep waarin sy kan groei en leer. Vra jou af: “Op watter manier sal my kind geskaad word as ek nie nou hierdie taak verrig nie?” So kan jy jou prioriteite stel.
  2. Leer hoe en wanneer om in die oomblik te leef. Die hier-en-nou-beginsel verg baie oefening. Hoe dikwels betrap jy jou dat jy besig is om aan jou doenlysie te dink terwyl jy na die kinders se behoeftes omsien (hulle aantrek, kos gee)? Ons kinders gee ons die beste rede ooit om van al die grootmenskomplikasies te vergeet en die oomblik te geniet. Swaai saam met jou kleinding of gaan ry saam met haar op die minitrein. As jou kop eers die onopgevoude wasgoed gelos het, kan jy ten volle by jou kind betrokke wees terwyl julle speel.
  3. Lag baie, veral saam met jou kinders. Wees bedag op die verskil tussen om saam met jou kinders te lag en om vir hulle te lag. Om te lag wanneer ’n kind ’n woord verkeerd uitspreek, kan wonderlik wees as die kind ook daaroor lag. As jou kind egter nie dink dit is snaaks nie, dan is dit nie. Kinders hanteer ’n tergery nie baie goed nie.
  4. Sê meer dikwels ja. Raak daaraan gewoond om meer dikwels ja te sê en jou nee te verdedig. As ouers moet ons leer om ons gevegte versigtig te kies, anders gaan ons die meeste van die tyd baklei. Veiligheid moet altyd jou hoofbesorgdheid wees. Dink ernstig voor jy nee sê. Is daar ’n rede waarom hulle nie die tafel kan verlaat voor hulle al hul groente opgeëet het nie?
  5. Ouerskap is nie ’n mededingende sport nie. Dis menslik om te wil vergelyk, maar moet dit nie met jou kind se ontwikkelingsmylpale doen nie. As jou kind gelukkig is en jou dokter is tevrede – fantasties. Skud die druk van jou skouers af en, nog belangriker, van jou kinders se skouers af. As jou kind ietwat later ontwikkel as ander kinders, neem hierdie raad ter harte: “Wat daarvan?” Moenie vasgevang raak in kompetisies met ander ouers nie. Dis die bron van soveel onnodige skuldgevoelens. 6 Kyk na die groter prentjie Ons almal wil die beste vir ons kinders hê: dat hulle eendag intelligente, verantwoordelike, liefdevolle, hardwerkende en onafhanklike mense is. Vra jou af wanneer ’n belangrike situasie opduik: “Hoe sal dit my kind help rig om die wonderlike mens te word wat ek wil hê sy moet wees?” Ouerskap is net een van jou rolle. Met ’n passie buite jou gesin kan jy jou lewensvreugde verhoog. Ons dink deesdae die teenoorgestelde – dat tyd weg van jou gesin gesteelde tyd is en dat ons skuldig daaroor moet voel. Maar jy is jou kinders se primêre rolmodel. Dit is belangrik dat hulle leer dat om ’n gelukkige lewe te lei, mense gereeld dinge moet doen wat hulle gelukkig maak.

Bron: Mommy Guilt: Learn to Worry Less, Focus on What Matters Most, and Raise Happier Kids deur Julie Bort, Aviva Pflock en Devra Renner.