Eintlik was dit nie oor moederskap nie, dit was oor die woordjie ‘kies’. 

My man beoog om ’n konferensie oor feminisme en die ekonomie by te woon. Kyk, as dit by vroueregte kom, is ek vol menings. Ek is immers die ma van twee dogters en diskriminasie teen vroue in enige vorm maak my woedend. 

My raad aan my man was om tydens die konferensie stil te bly en te luister, want hy’s ’n man en vroue is bietjie moeg daarvoor om altyd die manlike perspektief op al wat ’n ding is, te moet oorweeg. By ’n feminisme-konferensie sekerlik ook, sou ek dink. 

My liewe man vind dit toe nodig om my van sy eie feministiese credentials te verseker (asof ek ooit met hom sou getrou het as hy nié my menings oor die saak gedeel het nie), maar hy sluit toe af met ’n stelling oor moederskap wat my geïrriteer het. En toe begin my 14-jarige dogter wat glad nie op haar bek geval is nie (ja, dis die soort kinders wat ek trots grootmaak) ook saam debatteer. Die stelling klink aanvanklik heel onskuldig. Hy het gesê natuurlik moet vroue wat kies om ma’s te wees, die reg hê om dit te doen sonder enige diskriminasie. 

Daai woordjie ‘kies’ steek my dwars in die krop, want daarmee saam skuif die verantwoordelikheid weer terug na die vrou toe om maar enige swaarkry verbonde aan ma wees met grasie te aanvaar, want sien, dit was mos haar keuse. Haal ‘kies’ uit die stelling, en dan voel ek sal die wêreld dalk iewers kan kom. 

In my mening is ma wees nie ’n keuse nie. Dis iets wat by verre die meeste vroue doen, ongeag hul persoonlike omstandighede of hul toegang tot voorbehoeding. As jy eers ’n ma word, besef jy dat dit is wat jy ís… en dit maak jou nie minder nie, dit maak jou meer. Man en kind stem nie saam nie. Hulle sê dis ’n keuse. Ek gee toe, nie alle vroue word ma’s nie, maar die persentasie is wêreldwyd eintlik onbeduidend. Dié argument gaan in elk geval nie oor hulle nie. 

Kyk, ek sal ’n hele artikel hieroor kan skryf, maar dié blad is te klein. My mening, in kort: As die samelewing en kultuur kan verander om ma’s en hul behoeftes werklik eerste te stel, om moederskap altyd en oral op die prys te stel, sal dit baie, baie beter gaan met vroue in die algemeen – dié wat ma’s is, dié wat nie ma’s is nie én dié wat moontlik nog ma’s gaan word – en as dit werklik goed gaan met vroue, sal dit goed gaan met die hele wêreld. Google gerus Andrea O’Reilly en “matricentric feminism”. 

Wat dink jy? Waar pas moederskap in feminisme in? Stuur jou opinie nabriewe@babaenkleuter.co.za! Ons hou baie daarvan om van al ons lesers te hoor.