Dis vanjaar volgens die Wêreld Gesondheidsorganisasie die jaar van die verpleegster. Hulle kon nie ’n beter jaar hiervoor gekies het nie, met die koronavirus wat so verwoesting saai. Die helfte van alle gesondheidswerkers is verpleegsters. Sonder hulle sal hospitale en klinieke glad nie kan funksioneer nie. Meeste van hulle is vroue, en dis seker nie verkeerd van my om te raai dat meeste ook ma’s is nie. 

Dink jou in hoe moeilik ’n dag in so iemand se lewe moet wees... Tydens die grendelstaat moet sy werk toe gaan om ander te help, maar die skole is toe en dus is haar kinders tuis of sy moet ’n ander plan met hulle maak, wat hopelik nog steeds ook beteken dat hulle kan isoleer vir hul eie veiligheid. Sy’s in die hoogste risiko-groep om siek te word, en dus ook bang dat sy kieme huis toe vat.

Teen die tyd dat hierdie brief van my gepubliseer word, gaan dit waarskynlik die geval wees dat elke liewe een van ons al iemand ken wat weens Covid-19 oorlede is. Mens wil nie regtig daaraan dink nie. Ek het natuurlik nie ’n kristalbal nie en skryf hierdie brief lank voor die tydskrif op die rak kom. Ek het nog nooit so hard gewens om oor iets verkeerd te wees nie.

Hou asseblief saam met my al ons land se verpleegsters en ander gesondheids-werkers in jou hart. Ek het die diepste waardering vir wat hulle doen. Dis werklik ’n roeping.

So groot soos wat my waardering vir verpleegsters is, so groot is my afkeur vir ’n ander groepie mense, wat deesdae interessant genoeg stiller as gewoonlik is. Ek praat nou van die sogenaamde anti-­vaxxers – mense wat nie hul kinders inent nie, omdat hulle verkies om allerhande bog te glo eerder as wetenskaplike feite. Hulle is baie lief daarvoor om agterdog en onsekerheid op sosiale media te saai en het nie die insig om te besef dat dit lewensgevaarlik is nie. Ek het jare gelede nog probeer om met hulle sin te praat, maar talle studies van die anti-vaxxers het al bewys hoe meer feite jy aan hulle gee, hoe dieper skop hulle vas. Logika werk nie met hulle nie. Wat glo wel werk, is stories.

As jy dus ’n anti-vaxxer is wat hier lees, en jy wil jou vir my vervies en vir my skakels stuur na nonsens-webtuistes vol kwakkery en slangolie, gaan lees eerder ons ware verhaal op bl. 28. Ek hoop dat jy daarna dadelik ’n afspraak maak om jou hele gesin te laat inent. 

Inenting red lewens en beskerm juis ook die heel kwesbaarstes in ons gemeenskappe. Dis nie ’n “persoonlike keuse” soos wat sommiges verklaar nie. Korona gee ons ’n blik op hoe die wêreld sonder inentings kan lyk. Daardie verpleegsters wat hul eie lewe in gevaar stel deur na ons siekes om te sien, se kans om self gesond te bly, is beter as ons almal inent. Hopelik maak die mediese wetenskap gou vooruitgang met ’n vaksien teen korona ook.

Groete tot volgende maand,

Helen