Snaaks hoe die terugkeer ook maar weer ’n aanpassing is. Die kinders is weer in die klaskamer, sport het weer begin en ek glo as wedstryde afskop, sal ons mag kyk. Ek pak weer soggens kosblikke (dit bly vir my ’n stryd) en dis lekker om my man weer in ’n kraaghemp en langbroek te sien, want hy is terug kantoor toe.
Wat nou vreemd voel, is om alleen by die huis te wees. Dit was altyd vir my lekker om gereeld alleen te wees, maar die afgelope twee jaar het dit feitlik nooit gebeur nie. Nou’s dit weer net ek hier. Dis so stil ek het met die kat begin gesels, maar sy kan nie saam koffie drink nie en dit voel simpel om die masjien vir net een aan te skakel. Ek verstaan nou ook hoekom my ma die radio pal aanlos; sodat daar darem ’n stem iewers is.
Ek het so gesmag na vrede en ons ou roetine, maar dis iewers langs die pad met nuwe roetines vervang wat ek nou weer mis. ’n Mens is darem ook nooit tevrede nie.