Die mens is darem op ’n interessante manier gebou. Ons is almal in staat tot rasionele denke, maar as jy mooi oor jou lewe dink sal jy seker ook (soos ek) sien dat dit emosies is wat jou eintlik dryf, veral as dit by die groot dinge in die lewe kom – die dinge wat regtig saak maak.

Byvoorbeeld: Min mense kies ’n lewensmaat omdat hy voldoen aan ’n lys vooropgestelde kenmerke nie. Jy kies hom omdat hy jou hart laat vinniger klop en ’n reaksie ontlok waarsonder jy nie kan of wil leef nie. Niemand sal stry dat dié keuse een van die belangrikste van jou lewe is nie, en verreweg die meeste van ons doen dit met ons hart, nie ons verstand nie.

Nog ’n voorbeeld: Praat met ’n nuwe ma ’n dag of wat nadat sy gekraam het, en as julle mekaar goed ken sal sy jou vertel dat die pyn iets verskrikliks was en dat sy dit beslis nooit, ooit weer sal doen nie. Dan gaan die lewe sy gang en ’n jaar of wat la-ter is sy weer swanger en vuur en vlam om weer normaal te kraam. Die mens is gebou om die ergste te vergeet en die ekstase te onthou. Ons geheue is ’n emosionele ding.

Nog een: Klein kinders wat nie emosioneel gekoester voel nie, sukkel om te leer; dis al oor en oor bewys. Die brein funksioneer nie goed wanneer emosies in ’n warboel is nie.

In hierdie vreemde pandemie-wêreld waarin ons nou leef staan ons almal voor soveel besluite. Ek dink waarmee ons sukkel is dat elke besluit met sy eie stel ongemaklikhede kom. Almal offer iets op, deels gewillig en deels onwillig. Die lyn tussen die twee lê nie vir elke mens of elke gesin op dieselfde plek nie. Mense kryt mekaar op sosiale media uit as hulle nie tot presies dieselfde slotsom kom nie, of dit nou gaan oor sigaretverkope of die skole wat oopmaak.

Tipies is daar dan wedersydse beskul-digings van irrasionali­teit en drie kort kommentare later beledig A vir B dat sy “oor emosioneel” is, asof die kommentaar self nie op A se eie frustrasie, woede en angs dui nie... ook maar emosies. Vele vriendskappe is nou al so geruïneer.

My ma se raad oor meeste emosionele sake is om diep asem te haal en tot tien te tel voor jy reageer. Dit werk byna altyd goed.

’n Ander stukkie raad wat ek deesdae baie volg wanneer iets my ontstel (en sjoe, deesdae ontstel baie dinge my) is om te dink hoe ek oor vyf minute oor die saak gaan voel, en dan oor vyf dae, en dan oor vyf jaar. Seker 99% van die tyd is my  gevolgtrekking dat die probleem eintlik maar ’n nietigheid is.

Nog iets wat vir my werk om beter te voel oor alles, is om goeie self-sorg toe te pas. Eet goed, slaap goed, sweet elke dag, sit bietjie buite in die son en natuur, bel ’n vriendin, gee vir jou kinders meer drukkies – klein goedjies wat kollektief ‘n groot verskil maak. 

En die laaste ding: Gaan op ’n sosiale media-dieet. Mik vir ’n hele naweek daarsonder en heel moontlik gaan jy rustiger en meer in beheer voel. Laat weet my of dit gewerk het.

Groete tot volgende maand,

Helen