Een van my gunsteling-sêgoed wat ek ’n paar jaar gelede vir die eerste keer gehoor het, maar nou gereeld gebruik, is: Die gras is nie groener aan die ander kant nie; dis groener waar jy dit natlei.
Dit voel vir my heel gepas as leuse vir hierdie uitgawe van Baba & Kleuter waarin ons Erfenismaand vier. Ek is ’n patriotiese, trotse Suid-Afrikaner in murg en been. Ons volkslied gee my hoendervleis, geen grap is so snaaks soos ’n Afrikaanse grap nie, en woelige kaalvoetkinders met sproe-te is vir my hoe kinders moet wees.
Die impak van die grendeltyd op ons almal – emosioneel en finansieel – het dit maklik gemaak om negatief te raak. Gooi ’n bietjie beurtkrag by en dis moeilik om nie te kla nie. Dan begin mens fantaseer oor hoe lekker dit elders gaan ... Dís wanneer ek myself daaraan herinner: Die gras is nie groener aan die ander kant nie; dis groener waar jy dit natlei.