Die grootste geskenk wat ek van my ouers ontvang het, was nie die bloedrooi brandweerwa met die loeiende sirene toe ek vyf jaar oud geword het nie.

Ook nie die nuwe tweedehandse dikwielfiets op Kersdag in my 10de jaar op aarde nie. Nie die rugbybal, die stel Tintin-boeke, die kassetspeler of die geld vir die hoërskooltoer Namibië toe nie.

Selfs nie my eerste grootmens-ryding, die plek-plek geroesde Datsun 1400-bakkie, op my 21ste verjaardag nie.

Nee, dit was geen besitting wat met die verloop van jare vergaan het, verloor is of in onbruik verval het nie. Dit sou ek later besef nadat ek self ’n pa geword het.

Die grootste geskenk was myouers se teenwoordigheid in my lewe. Die wete dat hulle daar is. Vir my. Iewers in die huis,iewers in die tuin, ’n roep ver. Iewers op ’n ander dorp, iewers in ’n ander land, ’n oproep ver. Altyd daar. Vir my.

Kan enige mens ’n groter geskenk vra? ’n Geskenk wat niks kos nie, maar tog van onskatbare waarde is?

Ek was een van die gelukkiges wat die geskenk my hele lewe lank ontvang het, tot albei my ouers die Laaste Brug oorgesteek het.

Soms betrap ek my – in ’n oomblik van radelose frustrasie, geestelik enfisiek uitgeput – dat ek wonder hoe dit moet wees vir getroudes wat verkies het om nie kinders te hê nie.

Is hulle gelukkiger as ek en Carla? Lei hulle ’n voller lewe as ons, beleef hulle die wêreld op ’n meer sorgelose manier, is hulle meer avontuurlustig, nuuskierig oor wat daar buite te verken is?

Dis vrae waarop daar geen ja of nee geantwoord kan word nie.

Een ding is seker: As ek en my vrou die horlosie bykans ses jaar kon terugdraai en weer voor die keuse gestel sou word, sal ons presies dieselfde paadjie loop.

Want hoe dan anders? Daar is Ben, pas vyf jaar oud. ’n Regte klein rakker met ’n skerp humorsin wat ons daagliks verstom (as ons hom skelmpies dophou) met die tonele en karakters in sy onbeteuelde verbeeldingswêreld.

En dan is daar Edie, nou 16 maande oud. Ons klein bondeltjie vreugde met ’n ysere wil wat almal met daai potblou kykers om haar pinkie kan draai.

Die uitdagings wat die twee ons daagliks bied, voel soms of dit ’n mens gaan oorweldig. 

Ek was een van die gelukkiges wat die geskenk my lewe lank ontvang het.

Ben het die redeneringsfase van sy lewe met ’n spoed getref. Soos ’n vernuftige regsgeleerde sal hy argumente voorlê oor hoekom, byvoorbeeld, hy op ’n weekmiddag ’n bietjie TV wil kyk.

Enigiets van “maar Daniël se mamma en pappa laat hom TV kyk” tot “as ek al my speelgoed optel en my kamer aan die kant maak, dán kan ek TV kyk … net vir een episodes (sic)” word ingespan om ons te probeer oortuig.

Tot dusver het hy nog elke saak verloor, maar gee die klein klits wat hom toekom: Sy volharding is indruk­wekkend.

Edie volg hom soos ’n skaduwee. Kruip al agter hom aan met ’n stemmetjie wat roep: “Bê, Bê!” Haar boetie se naam was haar tweede woord. Die eerste woord was (volgens my) “pa-pa”. Carla trek dit sterk in twyfel. So nou sê ons maar dit was “ô-pa”, want dit maak my skoonpa breëbors van trots.

Die band wat nou reeds tussen Ben en Edie bestaan is iets wat ons soms so oorweldig dat dit ’n mens half aangedaan stem. Hy is sag en versigtig en liefdevol teenoor haar. Sy lag vir sy lawwe geluide en pakaters.

Ons kyk na die twee mensies in ons lewe en besef elke dag opnuut: Ons lewe sou nooit so ryk, vol of avontuurlustig gewees het sonder hulle nie.

En daarom gee ons ook aan hulle ruimhartig dieselfde grootste geskenk wat ons as kinders, jong volwassenes en ook as ouers ontvang het.

Ons is teenwoordig as pa en ma. Ons is daar vir Ben en Edie. Altyd.

Net soos hierdie waardevolle geskenk aan ons oorgedra is, sal ons dit ook aan dié twee oordra op hul pad vorentoe.

Mag julle hierdie Kerstyd en in die nuwe jaar wat voorlê, teenwoordig wees vir jul kinders.

Dis ’n geskenk wat geen geld kan koop nie. Dis ’n geskenk wat nooit sy waarde verloor nie. Dis ’n geskenk wat aanhou gee.