1. Laat gaan jul motor se bande en skokbrekers volledig en professioneel na. Laat die wielsporing nagaan, en laat die bande balanseer. Moenie van die spaarwiel vergeet nie. As julle swaar gelaai gaan wees, moet jy heel moontlik ook die lugdruk in die bande aanpas. Jou motor se handleiding sal jou sê wat dit moet wees. As julle ’n sleepwaentjie vat, onthou om dit ook te laat nagaan.

2. As julle in die nag gaan ry, laat jou motor se ligte nagaan. Dis moontlik dat jy die ligte sal moet verstel, veral as die motor swaar gelaai gaan wees.

3. Maak seker jou lugsakke is aangeskakel. Soms skakel mens dit om een of ander rede af, en vergeet dan om dit weer te aktiveer.

4. Neem jou voor om bedagsaam te bestuur, by die spoedgrens te hou en nie op ’n wit streep verby te steek nie. Oppas ook vir ry in die geel streep links. Hoewel dit wettig is om daar te ry, en natuurlik ook bedagsaam is om vinniger motors te laat verbykom, is dit dikwels nie veilig nie. Moet ook nie vies word vir bestuurders of vragmotors wat nie daar ry nie – hulle is nie verplig om vir jou plek te maak nie.

5. Gebruik jou flikkerligte. Hou sommer jou hoofligte bedags ook aangeskakel sodat jy nog meer sigbaar kan wees vir ander motoriste.

6. Hou stresvlakke in die motor laag. Die bestuurder moet net op die pad kan fokus. Moenie onnodig sy of haar aandag aftrek met telefoongesprekke of om in die kaartboek te kyk of die GPS te help stel nie. Die passasier voor kan dié take alleen behartig. As die kinders agter baklei of ’n probleem het, is dit ook die passasier voor se taak om daarmee te help – nie die bestuurder nie.

7. Handhaaf ’n veilige volgafstand. As ’n ander motoris soos ’n vark wil ry, doen wat jy kan om dié bestuurder te vermy sodat julle veilig kan wees. Laat hom eerder vooruit ry sodat hy nie meer vir jou gesin gevaar skep nie.

8. Dis natuurlik ’n goeie idee om vermaak vir die kinders saam te neem, asook ’n emmertjie en plastieksak vir rommel of skielike karsiekte, maar oppas vir los goed in die kar wat ’n gevaar kan skep. Los items in die agtervenster kan ’n insittende erg seermaak as die bestuurder skerp moet rem trap. Net so kan ’n speelding wat tussen die pedale inrol ’n groot ongeluk veroorsaak.

9. Rus elke twee uur. Hou iewers veilig stil en strek bene. Dis moeilik, maar moenie te veel gemorskos eet nie. Jy gaan beter en wakkerder voel en dus beter bestuur as jy lig en gesond peusel. Sooibrand en maagpyn kan net bydra tot padwoede.

10. Die kinders moet altyd vas wees in die korrekte motorstoeltjie vir hul gewig, wat korrek geïnstalleer is. Dis ononderhandelbaar. Maak seker hulle verstaan dit mooi. Die grootmense moet ook sitplekgordel dra.