Sy kan baie min lekker en prettige tye as kind onthou, vertel Alice* (36) van Stellenbosch. “Ek onthou merendeels die vrees. Altyd die vrees. Ek en my sussie het pal in die boom gesit terwyl my ma en my pa baklei het. Hy was ’n alkoholis en gewelddadig teenoor my ma en ons kinders.

Selfs ons arme hondjie moes gereeld onder hom deurloop. Ons almal het hom gehaat en ek het elke dag gebid dat my ma hom los.”

“Sy dood toe ek so 14 jaar oud was, was vir ons ’n verlossing. Hoewel ons gesukkel het om kop bo water te hou, was ons gelukkig. My ma was streng, maar regverdig en altyd daar vir ons,” sê Alice, wat vandag ’n suksesvolle beroepsvrou, gelukkig getroud en die ma van drie pragtige kinders is. Maar sy sukkel steeds om haar kinderjare af te skud.

“Ek word ongelooflik vinnig kwaad en dan sien ek my pa in my raak. Ek sukkel om my liefde tasbaar te wys. Ek’s glad nie ’n drukkie-en-soentjiemens nie. Ek weet nie hoe om te verander en net ’n gewone, rustige ma te word nie ... Ek wil nooit soos hy wees nie, maar is bang ek is besig om in hom te verander.”

Alice is ’n produk van wat kundiges as ’n ongesonde gesin beskryf. In ’n gesonde gesin voel ’n kind altyd gelief, selfs al kry hy raas vir onaanvaarbare gedrag, skryf die Amerikaanse sielkundige dr. Janet Woititz in haar boek Healthy Parenting: How Your Upbringing Influences the Way You Raise Your Children.

In ’n ongesonde gesin word nie net die gedrag gekritiseer nie, maar die kind ord verneder, sê Janet, wat ’n kundige is veral op die gebied van volwassenes wat in alkoholis-huishoudings grootgeword het.

In ’n gesonde gesin is die ouer ’n gids en opvoeder. In ’n ongesonde gesin maak die kind homself groot, sê sy.

Gesonde gesinne het struktuur en redelike en regverdige grense; ongesonde gesinne het chaos of uiterste rigiditeit. As jy dit in jou ouerhuis beleef het, moet jy probeer om dieselfde foute met jou gesin te vermy, skryf sy.

Jou kinderjare beïnvloed nie net jou persoonlikheid nie, maar ook jou gedrag, sê Sinette van Rooy Booysen, ’n kliniese sielkundige van Durban. “Negatiewe en positiewe siklusse word herhaal. Die manier waarop jy grootgemaak is, goed of sleg, sal ’n invloed hê op hoe jy jou kinders grootmaak. Dit is belangrik om die goeie sowel as die negatiewe te herken en nie net die negatiewe raak te sien en die positiewe te vergeet nie.

“Jy is dalk nie eens bewus van die verband tussen hoe jy op jou kinders reageer en hoe jy grootgemaak is nie. Jy voel dalk jy wil nie jou ouers se foute herhaal nie, maar kan outomaties en onbewustelik ’n deel van jou ouers se ouerskapstyl oorneem,” sê sy.

Dr. Irene Strydom, ’n sielkundige van Wellington en Stellenbosch, sê alles wat met ons in ons grootwordjare gebeur en nie deurgewerk of afgehandel is nie, beïnvloed ons optrede as volwassenes.

Die liggaam kan as ’n ‘psigobiodinamiese stelsel’ beskryf word, verduidelik sy. “Psigo” verwys na jou huidige emosionele ervarings (soos frustrasie en woede) en “bio” na onwillekeurige, sensoriese en liggaamlike ervarings (soos hartkloppings of spasmas). “Dinamiese” het te doen met die aanhoudende projektering van onderdrukte trauma op huidige gebeure.

In ’n neutedop beteken dit dat ervarings uit die verlede wat nie klaargemaak is nie, ’n invloed op jou huidige ervarings kan hê.

“Die liggaam is heeltyd besig om dit wat op emosionele en fisieke vlak gebeur, ‘op te neem’. Die liggaam is ook ’n beskermingsmeganisme wat babas en kleuters toelaat om herinneringe aan traumatiese gebeure weg te bêre omdat hulle nog nie die verstandelike vaardighede het om ’n plan te maak of te ontsnap aan dinge wat sleg en bedreigend is nie.

“Die liggaam het gelukkig ook ’n natuurlike helingstelsel wat vertrou kan word om spontaan gesond te maak wat stukkend is, of dit nou fisiek of emosioneel is,” verduidelik Irene.

Dis hoe dit jou kan raak

Jou grootwordjare kan op verskillende maniere in jou huidige lewe opborrel, sê Irene. Hier is ’n paar tipiese voorbeelde.

Ek is as kind gedruk om te presteer. Net die beste was goed genoeg. My ouers was besonder streng en nie vreeslik liefdevol nie.

As jy kleintyd gedryf is om te presteer, is jou menswees moontlik misken en is daar baie gefokus op wat jy moes doen. Jy moes waarskynlik elke keer beter en beter vaar en het nooit tyd gekry om net jouself te wees en spontaan in ’n liefdevolle en ondersteunende atmosfeer te speel nie. So ’n kind word dan groot as ’n presteerder met ’n skrapse identiteit van “ek vaar goed en moet elke keer beter presteer”.

Die kind word later dalk ’n grootmens wat met haar kinders klem daarop lê om “goed genoeg” te wees en te presteer, want wat jy doen word beloon, nie wat jy is nie. Die teenoorgestelde kan ook gebeur: Jy kan as grootmens voel dat jou kinders heeltemal gelos moet word om net te doen wat hulle wil en dit kan weer ’n nuwe stel dissiplineprobleme skep.

My pa het my ma mishandel. Ons het hom gevrees en gehaat.

As ’n kind se ma trauma beleef, is dit asof sy ook deel word van elkeen van daardie fisieke en emosionele afknou-oomblikke. Babas en kleuters wat aan sulke voorvalle blootgestel bly se emosionele en fisieke ontwikkeling word geknou.

As ma in die situasie bly, word permanente skade aan die kind aangerig. As volwassene kan sy dan sukkel om
gesonde verhoudings aan te knoop en selfs kinders met geweld dissiplineer. Die siklus van aggressie en geweld duur dus voort.

My ouers was glad nie gepla met hul kinders nie. Of ons nou goed of sleg gevaar het, het hulle min geskeel. Ons was net nog asempies in die huis.

Trauma word nie alleen beleef in situasies waar daar gewelddadig opgetree word nie, maar ook waar daar niks gebeur nie en waar hulle nie fisiek aangeraak en gestimuleer word nie.

As hulle dan grootword, weet hulle nie hoe om met hul kinders te bind en betrokke te bly nie. Hulle bly dus steeds net ’n “asem” en sê dinge soos “ek weet nie hoe om hierdie kinders groot te kry nie” of “ek weet nie wat om nou te doen nie”, en hulle werk nie gefokus met hul eie kinders nie.

Ons het baie arm grootgeword. Daar was nooit enige luukshede nie.

Arm grootword is nie dieselfde as sleg grootword nie. Dit beteken maar net dat jy minder aardse goed gehad het, maar dit self kan traumaties wees. Dit laat ’n permanente letsel op jou gemoed om nie genoeg te hê nie, maar as daar baie liefde was, kan dit die brandmerk van “nooit genoeg te hê nie” verskans.

As volwassene kan jy as ouer dalk baie mooi met jou geldsake werk of dalk die kinders juis heeltyd verwyt dat hulle nie dankbaar is nie en te kwistig lewe. Jy kan ook onnodig suinig wees.

Ek het in ’n donker huis grootgeword, want my boetie is dood toe ons nog klein is. Daar is min gelag en gespeel.

Ouers wat met die verwerking van hul een kind se dood sukkel, kan trauma in die lewe van die ander kinders veroorsaak.

Die kinders kan subtiel verwyt word dat hulle nog lewendig is en nie genoeg dink aan die afgestorwene en sy nalatenskap nie. Die donker atmosfeer kan veroorsaak dat die kinders niks vroliks durf aanpak nie, want die treurende ouers moet heeltyd in ag geneem word.

As volwassene kan jy die patroon van donker en swaar leef voortsit en spore van ’n swaar gemoed begin ontwikkel. Die teenoorgestelde kan natuurlik ook gebeur: Jy kan as volwassene uit die donker wegbreek en juis in oormaat begin feesvier en so probeer om verlore tyd in te haal.

Kan ek verander?

Ons kenners is dit eens dat jy kan verander, selfs al het jy die negatiewe siklus voortgesit en al aan jou ouerskapstyl “gewoond” geraak.

“As jy as volwassene besef dat jy negatiewe siklusse herhaal, is die eerste stap bewuswording,” sê Sinette.

Dit is beslis nie te laat om te probeer verander nie, sê sy. Sodra jy besef jy tree nie in jou kind se beste belang op nie, is dit tyd om in te gryp.

“As jy dink jy verander in jou ma en sy was nie die beste voorbeeld nie, kan jy begin om die siklus te verbreek. “Die eerste stap is om dinge aktief anders te probeer doen.

“Dink aan alternatiewe: Hoe kan jy jou kinders anders dissiplineer of hoe kan jy anders in ’n spesifieke situasie optree? Hoe het jou eie ouers in so ’n situasie gereageer?”

Moet dit nie alleen aanpak nie, is Sinette se raad. Vra jou maat se ondersteuning en besluit saam hoe julle dit wil hanteer eerder as om dit self te probeer uitsorteer.

“As jy dink dis nodig om ’n berader of sielkundige te nader, doen dit gerus.

Wat het kinders nodig?

As jy nie die volgende in jou eie grootwordhuis ervaar het nie, doen bestekopname om te kyk of jy jou eie kinders die volgende gee:

’N SIN VAN BEHOORT Kinders kry daardie besonderse geborgenheid deur die manier waarop hul ouers met hulle praat en teenoor hulle optree. Vertel vir jou kinders hoeveel jy vir hulle omgee en wys dit met dade.

POSITIEWE VERSTERKING Die manier waarop jy op jou kinders se gedrag reageer, laat hulle weet hoe goed hulle vaar. Prys jou kind as hy positiewe gedrag toon en help hom om foute te oorkom.

SOSIALE VAARDIGHEDE EN VERANTWOORDELIKHEID As julle in jul gesin saamwerk en kommunikeer, leer dit jou kind om ander mense te hanteer en saam met hulle te werk. Gee jou kind ouderdomgeskikte verantwoordelikhede in die huis.

*Skuilnaam