Die storie van die stadsmuis en die plaasmuis is propvol lewenswaarhede: eerstens moes mnr. Plaasmuis én mnr. Stadsmuis uitvind dat een omgewing nie noodwendig ewe goed vir almal werk nie, en tweedens, dat elke omgewing voor- en nadele het.

As enkeling of jonggetroude gaan jy gewoonlik waar jou hart of werkgeleenthed jou lei. Sodra daardie dubbelstrepie egter op die swangerskapstoets verskyn, verander jou perspektief. Jy kyk skielik anders na jou omgewing en dinge soos dagsorg, skole, mediese geriewe of waardestelsels raak belangriker as watter lekker winkels naby jou is. Dis besluittyd.

Sommige ouers sê: ”Ons wou nog altyd ons kinders op die platteland grootgemaak het,” terwyl ander sê: ”Ons wil ons kind die beste geleenthede gee en dit kry jy in die stad.”

Waar om jou kinders groot te maak is ’n hoogs persoonlike besluit. Die kwessie is nie so eenvoudig soos platteland vs. stad nie. Daar is immers ’n reuse-verskil tussen die lewe op ’n klein dorpie soos Yzerfontein en ’n groter plattelandse dorp soos Mosselbaai.

Net so verskil elke stad. En daar is ook maniere om ’n bietjie stad na die platteland te bring en andersom ...

Roep die platteland?

Daar is maar altyd ’n uittog van stedelinge wat hul heil op kleiner plattelandse dorpies gaan soek, deels omdat dit danksy tegnologie moontlik is om hulle tradisionele “stadswerk” deur middel van e-pos en selfone te verrig. Sommige was nie spyt nie, maar ander het gevind die plattelandse gras anderkant die draad is nie vir hulle groener nie. Wat kan jy verwag?

Voordele

  • ¬Weinig verkeer: Die gebrek aan verkeersknope is seker die grootste voordeel van die plattelandse lewe, want dit maak net soveel meer tyd in jou dag los om gehaltetyd saam met jou gesin deur te bring.
  • Die leefstyl is rustiger: Hoewel jou program ook maar vol raak, is dit steeds heelwat rustiger as in die stad. Almal se pas is net ’n aks stadiger en daar is altyd tyd om eers te hoor hoe dit met jou buurvrou gaan of ’n speelafspraak te reël.
  • Jul gesin is deel van ’n omgee-gemeenskap. Plattelanders leef noodgedwonge nader aan mekaar en leer mekaar ken – en daaruit groei omgee. So kan ’n vinnige uitstappie na die supermark ontaard in ’n grootskaalse ontmoet-en-groet wat jou hopeloos laat maak, maar jou en jou kinders geliefd en geanker laat voel.
  • Die hele dorp maak saam jou kind groot: In veral kleiner dorpe is ’n sterk gevoel van gemeensaamheid en mense sien om na mekaar se kinders se veiligheid. Aan die ander kant sal hulle nie huiwer om jou kind te berispe as hy stout is nie! Jou kind kan gekoester voel met ’n hele rits grootmense wat sy belange op die hart dra.
  • Jy hoor die dorp se skinderstories: As daar ’n geskiedenis van geweld, drankmisbruik of kindermolestasie in ’n huisgesin is, sál jy daarvan hoor. Dit maak dit makliker om te bepaal waar jy jou kind met gerustheid kan laat speel en waar jy versigtig moet wees.
  • Jy kan natuurkinders grootmaak: Benewens die voordeel van vars lug en natuurskoon is dit maklik om jou kinders in voeling met die natuur groot te maak omdat dit so deel van julle bestaan is.
  • Jy voel makliker veilig: Hoewel die platteland nie misdaadvry is nie, is die persepsie dat die risiko vir geweldsmisdaad minder is. Op sommige dorpe kan die kinders nog veilig saam in ’n parkie wegkruipertjie of aan-aan speel. Jou kind word vryer groot en jy voel minder angstig oor ontvoerings of motorkapings.
  • Die skole is dikwels kleiner, dus is die kanse groter dat jou kind individuele aandag kry.
  • Jy kan maklik ’n ondersteuningsnetwerk opbou as jy bietjie moeite doen, sodat julle mekaar in noodgevalle kan help met rybeurte en ander take.
  • Jou kinders gaan nie gou vasgedruk voel nie. Die meeste plattelandse dorpe het meer as genoeg ruimte en veilige geleenthede vir julle as gesin om saam ets te ry of die vlaktes te verken.
  • As die waardes van die dorpie waarin jy bly ongeveer dieselfde is as die waardes waarin jy glo, is dit soveel makliker om dit by jou kind te vestig.

Nadele

  • ¬Daar is min amptelike kindervermaak soos binnenshuise speelparke, ¬ieks of speletjiesarkades, ’n kinderteater, museums, dieretuine, akwariums of kindervriendelike eetplekke. Jy moet dus self iets reël of uitdink om jou kind te vermaak.
  • Minder blootstelling aan diversiteit: Die meeste plattelandse dorpies het ’n relatief homogene bevolking, met mense wat ongeveer dieselfde waardes deel, wat verdraagsaamheid vir minderheidsgroepe, ander kulture en gelowe, “volksvreemde” dinge en mense wat “anders” is, kan verminder.
  • Jy is ’n “inkommer”. Plattelanders vorm dikwels hegte bande, maar dit kan veroorsaak dat jy soos ’n buitestaander voel. Dit kan ’n tydjie duur voor jy in die binnekringe toegelaat word. Gelukkig is daar ander inkommers met wie jy vriende kan maak.
  • Mediese en ander dienste soos dokters, hospitale of arbeidsterapeute is nie op alle plattelandse dorpe geredelik beskikbaar nie, veral nie as jou kind dalk spesialissorg nodig het nie.
  • Daar is nie ’n groot verskeidenheid as dit kom by skole, buitemuurse en ander kinderverwante dienste en produkte nie.
  • Jy kan voel jy moet jou beroepslewe opoffer: Daar is net soveel minder geleenthede beskikbaar op die platteland.

Omseil die nadele

  • Doen moeite om jou kind aan uiteenlopende kulture bloot te stel en praat positief oor mense wat van julle verskil sodat hy leer om verskille te waardeer.
  • Maak ’n punt daarvan om tydens vakansies in die stad opvoedkundige plekke soos museums, dieretuine en teaters te besoek.
  • Hou julle eie konserte en skep ’n verskeidenheid vermaakgeleenthede vir julle kinders.
  • Moenie in jou dop kruip nie, maar reik uit na jou kinders se maats se ma’s. Sommer gou sal jy hegte vriendskapsbande kweek.
  • Doen jou huiswerk en maak die meeste van die buitemuurse aktiwiteite op jou dorp. Jy sal verbaas wees oor hoeveel aktiwiteite wel op die platteland beskikbaar is.

As blink stadsliggies wink

Min dinge kom by die polsende ritme van die stad: die wete dat jy daar is waar dinge gebeur. Met kinders is een van die grootste trekpleisters egter al die geleenthede wat die stad bied.

Voordele

  • Jou kind het beter blootstelling aan kultureel-verrykende aktiwiteite soos museums, teaters en selfs informele opvoerings deur kunstenaars in winkelsentrums.
  • Die stad bied makliker toegang tot kindervermaak soos binnenshuise speelparke en so meer. Daar is ook babagroepies en kinderstimulasie-opsies om van te kies en keur.
  • Jou kind het blootstelling aan ’n meer diverse groep mense in die stad, aangesien daar ’n mengelmoes van verskillende kulture, klasse, gelowe en rasse is.
  • Jy het toegang tot uitstekende en gespesialiseerde mediese sorg in ’n noodgeval en kan kies uit verskillende medici as jou kind behandeling moet kry.
  • Leefstylgewys is die stad geriefliker met opsies soos wegneemetes, langer winkelure, tuisa-ewerings van kruideniersware, en nog meer.
  • Die sport- en buitemuursgeleenthede in die stad is eindeloos vir kinders.
  • Winkels in die stad is uitstekend toegerus met alle handelsname. Diens is vinniger en jy sal nie sommer weke wag vir iets wat bestel moet word soos soms op die platteland gebeur nie.
  • Jy het baie meer opsies as dit kom by die opvoeding en skoling van jou kinders, van kleuterskole en dagsorg tot later privaatskole en openbare skole. Jy kan al hierdie skole met mekaar vergelyk en een kies wat jou kind soos ’n handskoen pas.
  • Jou loopbaangeleenthede is baie meer en jou salaris waarskynlik baie groter as dié van iemand in ’n soortgelyke pos op die platteland, wat kan sorg vir ’n tevrede en gelukkige ouer in terme van werksbevrediging, en wat ook baie geleenthede vir jou oopmaak om die geld tot voordeel van jou gesin te gebruik.
  • Daar is ’n energie in die stad wat mense aanspoor tot meer – en dit kan aansteeklik inwerk op jou kind.

Nadele

  • Die verkeer en die gepaardgaande gemorste ure in die dag is seker een van die grootste nadele van die stad. Dit steel saamweestyd.
  • Dis gewoonlik ’n meer gejaagde leefstyl, hoewel dit kan verskil van gesin tot gesin en afhang van die keuses wat julle uitoefen.
  • Mense voel dikwels minder veilig in die stad, met ’n groter risiko vir geweldsmisdade soos kapings, wat hul leefstyl kan beperk.
  • Dit kan moeiliker wees om ’n ondersteuningsnetwerk in die stad op te bou, omdat daar oor die algemeen ’n sterk onafhanklikheidskultuur is.
  • Jou kind kan afgesny van die natuur grootword en dit kan sy persepsie van die wêreld raak deurdat hy byvoorbeeld dink dat melk iets is wat jy net in supermarkte kan koop.

Omseil die nadele

  • Vra jou baas of jy ¬eksietyd kan werk sodat jy nie so lank in die verkeer hoef te mors nie, of oorweeg ’n werk van jou huis af.
  • Kies doelbewus om stadiger te leef: jy hoef nie by die Jones-hulle by te hou nie. Gehalte-gesinstyd is ’n keuse.
  • Tref die nodige veiligheidsmaatreëls, maar kies terselfdertyd om nie jou lewe in te perk uit vrees vir geweld nie.
  • Doen moeite om uit te reik na jou kinders se maats se ouers – dit ís moontlik om ’n ondersteuningsnetwerk in die stad op te bou en ’n omgee-gemeenskap in die kleine te vorm.
  • Benut naweke om die natuurskoon buite (en binne) julle stad te geniet en verken deur staptogte of saam te kamp.