Lees en skryf is die twee groot vaardighede wat jou kind in graad 1 moet leer, en dis te verstane dat ouers ontsteld raak wanneer dit lyk of hulle kinders sukkel. Leesprobleme moet egter nie vereenselwig word met ’n kind se intellektuele vermoë nie, aangesien daar geen outomatiese verband tussen leesvermoë en sogenaamde intelligensie is nie.

Verskeie dinge kan ’n invloed hê op jou kind se leesstyl en tekort aan geesdrif vir lees. Dit kan emosionele, fisieke of sosiale faktore insluit. Om ’n ophef te maak van ’n kind wat oënskynlik leesprobleme het waarvan die oorsaak onbekend is, is nie slegs opvoedkundig ongegrond nie – dit kan boonop verdere probleme veroorsaak.

HOEKOM SUKKEL MY KIND OM TE LEES?

Dis belangrik om vas te stel wat presies die oorsaak van jou kind se probleem is. Hier is ’n deeglike gesprek met jou kind se klas­onderwyser baie belangrik. Vind uit waar jou kind se lessenaar is, wie om hom sit en wat tydens ’n skooldag gebeur, veral tydens ’n leesles. Medeleerlinge wat terg, ’n kind wat nie tot voor in die klas kan sien nie, spanning of skaamte, ’n poging om beter of swakker as ’n maatjie te lees – dit is alles faktore wat ’n invloed op jou kind se leesstyl kan hê.

Vertrou ook die klasonderwyser se kundigheid en word bewus van enige spesiale behoeftes wat jou kind kan hê.

Kyk ook indringend na jou kind se huis­werksituasie tuis. Het hy ’n plekkie waar hy rustig kan sit en lees, waar daar genoeg lig is vir huiswerk en waar sy boeke en papiere nie in ’n chaos verdwyn of in kleuters se taai handjies beland nie?

Probeer veral eers alle fisieke faktoreuitskakel. Laat toets jou kind se oë. Sowat 80 persent van leerprobleme by laerskoolkinders spruit uit oogprobleme. Die pro­bleem lê nie noodwendig by swak oë nie, maar by hoe die brein en oë saamwerk. As jy bekommerd is oor jou kind se gehoor, is dit ’n goeie plan om sy gehoor by ’n gekwalifiseerde oudioloog te laat toets, verkieslik een met pediatriese ondervin­ding. Kry gerus besonderhede oor ’n oudioloog in jou omgewing by The South African Speech-Language-Hearing Asso­ciation (086 111 3297 of saslha.co.za).

Disleksie is ’n spesifieke leesversteuring wat behels dat iemand sukkel om enkele woorde van groepe woorde te onderskei of dele van woorde in ’n woord te onderskei. Disleksie kom voor as die brein sukkel om die verbinding tussen klanke en simbole (letters) te maak. Dit veroorsaak spel- en skryffoute en kinders met disleksie sukkel ook dikwels wanneer hulle hardop moet lees. Disleksie het gewoonlik nie ’n uitwerking op ’n kind se verbale vermoë nie.

Kinders met disleksie moet professio­nele behandeling vir woord- en syferherkenning kry. Dit is van die uiterste belang dat hulle ook dinge doen waarin hulle goed is om selfvertroue te bou.

Kinders met disleksie is gewoonlik baie intelligent en hul akademiese resultate is glad nie ’n weerspieëling van hul ware intellektuele vermoë nie. Spelterapie word sterk aanbeveel.

As jou kind toetse moet ondergaan, watter toetse dit ook al mag wees, laat hom ontspanne voel. Sê vir hom die oom of tannie gaan lekker speletjies met hom speel en dat dit normaal is. As hy gereelde sessies nodig het, moenie vir hom sê dis omdat hy swak op skool vaar nie – verduidelik liewer dat jy hom neem vir speletjies of geselsies sodat hy nog beter op skool kan vaar.

Baie ouers hou op om vir ouer kinders voor te lees. Moet dit nie doen nie. Jy kan nog tot in die ouer grade voorlees; dit moedig jou kind dalk aan om self gou die hoofstuk klaar te maak om te sien wat gebeur ...

HOU AAN VOORLEES

Dis belangrik dat ’n kind grootword in ’n taalryke omgewing waar hy gereeld stories hoor of met die inhoud van stories kan omgaan, en kan voorspel hoe ’n verhaal gaan afloop. Hy moet die kans gegun word om self stories te vertel en gesprekke te voer.

As jy voorheen vir jou kind uit boeke voorgelees het, is dit nie nou die tyd om op te hou nie. Menige ouer maak die fout om op te hou om vir hul kinders boeke te lees want hulle reken hul kinders kan self lees en dat voorlesing hulle lui vir lees maak.

Baie ouers is verbysterd omdat hul kinders nie lesers word nie, al het hulle elke aand stories gehoor.

Die geheim is om aan te hou voorlees, selfs al kan jou kind taamlik vlot lees. Solank as wat die voorlesing vlotter verloop as jou kind se eie leespogings, sal jou kind die voorlees verkies – dit kan tot in graad 5 of 6 steeds die geval wees. 

Moet egter nie moedeloos word nie, want dis dan die ideale tyd om ’n ouer kind bekend te stel aan jeug­boeke soos Trompie en Saartjie, of Anna Atoom of Speurhond Willem (Elizabeth Wasserman) of die legio boeke deur Jaco Jacobs. Jou kind gaan eintlik eers self begin lees wanneer hy tot die (uiters belangrike) insig kom dat hy, pleks van tot vanaand te wag vir die volgende hoofstuk, in staat is om daar en dan sélf die hoofstuk kaf te draf. 

En siedaar, die meetsnoere van lees het in lieflike plekke geval!

Bly dus vir jou graad 1’tjie voorlees en betrek hom by die verhaal deur vrae te vra, sinsnedes te herhaal of hom te vra om ’n voorspelling te waag oor die einde van die storie wat jy vir hom voorlees. 


VYF MANIERE OM LEES AAN TE MOEDIG
  • Maak dit 'n gewoonte. Jou kind behoort daagliks te lees indien moontlik. Selfs al is jou kind ’n goeie leser, kan jy steeds voortgaan en hardop vir haar voorlees – studies dui daarop dat dit woorde­skat en begrip bevorder.
  • Maak goeie keuse. Daar is ’n wye verskeidenheid boeke daarbuite. Indien ’n sekere boek jou kind nie boei nie, beproef ’n ander soort boek soos niefiksie-boeke, grappie-boeke, strokiesboeke soos Kuifie of Asterix, en selfs resepteboeke – enige boek wat haar aandag behou.
  • Gee genoeg geleentheid. Die wêreld is vol geleenthede om te oefen om te lees. Moedig jou kinders aan om alles te lees, van spyskaarte tot padtekens en advertensies.
  • Gaan biblioteek toe. Dis ’n wonderlike gewoonte om deel van jou weeklikse roetine te maak.
  • Kry hulp vir probleme. Hoe vinni­ger jy hulp kry vir jou kind se leesprobleme, hoe groter is die kans dat sy ’n goeie leser word. Wees bewus van haar vordering en praat met haar onnie as jy besorg is.


WOORDSPELETJIES VIR GRAAD O EN 1
  • SÊ GEREELD RYMPIES OP of lees dit voor sodat jou kind ’n paar strofes uit sy kop begin ken. Begin met die opening­strofe en laat hy die rympie voltooi.
  • LAAT JOU KIND KREATIEF RYM – begin deur ’n gewone sin te sê en dan moet hy ’n sin sê wat met joune rym. In studies is gevind dat kinders wat blootgestel word aan rym, goeie lesers en selfs beter spellers word!
  • LEES VIR HOM BAIE STORIES, veral boekies waarin sekere frases herhaal word (kyk agterin D.J. Opperman se Kleuterverseboek; daar is ’n paar heerlike lang rymstories). Jy kan hom later vra om elke keer self die herhalende frase te sê. Vra ook vragies oor die verhaal.
  • MAAK JOU KIND BEWUS van hoe klanke gevorm word en watter deel van die mond betrokke is. Eksplosiewe klanke soos p, b, d, k en t werk goed, asook f, g, l, m, n, r en s. Laat jou kind sy hand voor sy mond hou om te voel hoe die letter gevorm word. Laat hom woorde wat hy gereeld gebruik so voel, soos sy eie naam of troeteldiere se name.
  • WYS VIR JOU KIND PRENTJIES en laat hy woorde wat met dieselfde klank begin op die prent soek. ’n Prentjie met diere kan perd, padda en pou hê, of koei, kat en kriek.
  • SPEEL SPELETJIES soos “Met my kleine ogies sien ek iets wat begin met ’n ...”. Beweeg weg van visuele kenmer­ke en fokus op hoe die woord klink of gespel word.
  • GESELS MET JOU KIND. Vra hom ver­al uit oor gevoelens en sintuie wat hy ervaar en voel. Vra uit oor sy dag, stories wat hy gehoor het, en so aan. Moenie ’n groot ding maak van sy onwil­ligheid om te lees nie. Probeer hom eerder betrokke kry by die stories wat hy graag sal wil lees. Gee erkenning aan wat hy kan doen, en moenie net fokus op dit wat hy nie kan doen nie. ’n Kind se hele gevoel van selfwaarde en identiteit word gegrond op sy interaksie met ander.