book-icon Uitgawe Oktober & November 2018

Toe my kinders klein was

akkreditasie
Baba & Kleuter
Baba & Kleuter

Oktober is verjaardagmaand in ons huis en my oudste dogter sou gek gewees het oor die brandweerpartytjie en my jongste sou weer gesmelt het oor die roomyspartytjie. Ek het aanvanklik gedink dit sou lekker wees dat hulle presies ’n week uitmekaar verjaar. Ek het gedink ek sou kon wegkom met net een groot partytjie, maar dit werk glad nie so nie. Elke kind wil haar eie verjaardag vier. Dis mos háár dag. Hoewel ek natuurlik baie graag wil hê dat my twee baie dinge deel (sien die artikel oor deel) moet ek met hulle saamstem oor die verjaardae. Eerlikwaar, ek hou eerder twee partytjies as wat ek probeer bemiddel tussen hulle vir een, want die twee verskil soos dag en nag. Selfs Salomo sou nie ’n tema kon vind wat vir albei werk nie. Mens moet mos maar as ma mooi kies watter gevegte die moeite werd is, en watter jy maar net laat gaan. Daar is raad hieroor ook in die artikel oor sibbe wat die heeltyd vassit.
Ek dink dis net tweelingma’s wat kan wegkom met een partytjie, maar selfs dan moet hulle dikwels twee temas op een dag uitvoer. Ek haal my hoed af! Dis beslis in baie opsigte taaier om ’n tweeling te hê, maar ek het ook al opgelet dat tweelinge as peuters makliker deel en sosialiseer, en mooier met mekaar speel as gewone broers en susters. Of hoe, meerlingma’s? Kyk net hoe pragtig sit hulle bymekaar op ons lieflike meerlingfotoblaai.
In my huis was dit ’n gesukkel om só ’n foto te neem toe my jongste gebore is, want oudste het geweier om op dieselfde rusbank as die baba te sit. Sy het verkies om om die huis te hardloop. Op foto’s van my toe ek klein was, kan ek ook sien hoe my sibbe glad nie lus was om by die baba (dit was nou ek) te sit nie.
Ons twee slaapartikels, oor die gesinsbed en die skuif van kot na bed, sou ook 100 % relevant gewees het in my huis. So ook die kennersvraag oor bednatmaaken die artikel oor maagpyn. In ons geval was daar ’n verband tussen dié twee ook. Dis nou eers genoeg nostalgie vir vandag.
Ek hoop jy kan tyd afknyp om alles te lees hierdie maand, want dis ’n bielie van ’n tydskrif!

Groete Helen

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees