VRAAG:

My kind se hond is deur ’n motor raakgery. Sy het dit gelukkig nie gesien gebeur nie. Ek weet nie hoe om die nuus aan haar oor te dra en hoe om dit te hanteer nie.

ANTWOORD:

Lenmarie Stanton antwoord: Troeteldiere leer kinders belangrike lewenslesse en verskaf baie plesier, maar ook hartseer. Dood is ’n deel van die lewe wat ons moet aanvaar.

Troeteldiere kan kinders baie daaroor leer. As jou kinders leer om die dood van ’n troeteldier te verwerk, sal dit hulle help om ander verliese ook te hanteer. Dit kan moeilik wees om hierdie nuus oor te dra. Kies ’n stil tyd, weg van ander afleidings, in ’n bekende omgewing en laat jou kind jou lei deur die vrae wat sy vra. Laat dit jou lei oor watter en hoeveel inligting jy sal deel. Probeer so kalm en eerlik moontlik vertel wat gebeur het.

Jy hoef nie noodwendig die besonderhede te deel nie, tensy sy vra. Moet nooit vir jou kind vertel dat die troeteldier weggeloop het nie. Dit kan vals hoop skep dat die dier kan terugkom en sy kan jou later verwyt as die waarheid uitkom.

Begrawe haar troeteldier met ’n spesiale seremonie. Dit sal haar help om die proses af te sluit. Laat haar toe om die seremonie self te beplan:

Sy wil dalk ’n briefie skryf en dit saam met haar troeteldier begrawe, of ’n boom plant op die troeteldier se gunsteling-plekkie in die tuin.

Skep geleentheid om met haar te gesels oor die spesiale tye wat hulle twee saam deurgebring het – julle kan selfs ’n plakboek ter herinnering skep. Ondersteun haar en stel haar gerus dat dit natuurlik is om allerhande emosies te ervaar wanneer iemand spesiaals sterf.

Praat ook met haar oor emosies wat met die dood te doen het. Beklemtoom dat dit natuurlik is om oor die dood te gesels en dat jy ook hartseer is. Jy kan selfs die ervaringe deel van troeteldiere wat jy self as kind verloor het.

Verduidelik dat jy dit ook moeilik gevind het om te groet en dat haar hartseer met verloop van tyd minder sal word. Gesels dikwels en met liefde oor haar troeteldier en koester saam die gelukkige herinneringe.

As jy kan sien dat haar hartseer minder word en dat sy minder geskok is, is dit moontlik tyd om ’n nuwe troeteldier vir die gesin te kry.