Ons is baie opgewonde, want ons vliegkaartjies vir ons jaarlikse kuier in Suid-Afrika is reeds bespreek. Klein Ruan het al klaar begin vra hoeveel slapies daar nog oor is tot ons by oupa en ouma gaan kuier. Almal kry ’n WhatsApp om die datum waarop ons land, op hul kalender aan te teken.

Vakansies in Suid-Afrika word met erns beplan en ons probeer ons bes om die mooie land in daardie tyd ook te verken. Ons woon al 11 jaar in Taipei, Taiwan. Ons kan dié vreemde land hier in die Verre Ooste met sy vreemde taal en vreemde kos nou al huis noem. Ná ’n somervakansie van vyf weke in Suid-Afrika begin ’n mens so stukkie vir stukkie terugverlang na jou huis hier in die Verre Ooste.

Die plan was om vir twee jaar hier te kom werk en dan weer terug te gaan, maar hier is ons nog steeds … soveel jare later. My man, Herman, en ek is albei onderwysers by openbare skole en geniet ons werk geweldig baie. Ons het in Taiwan verloof geraak, maar gedurende ’n somervakansie in Suid-Afrika getrou.

In Januarie 2014 is ons seuntjie, Ruan, hier in Taipei gebore. Toe my water vyfuur die oggend breek, besluit ons toe om sommer die kilometer hospitaal toe te stap. Dit was ’n heerlike koel winteroggend. Ons het ’n wonderlike dokter gehad en gelukkig kan alle dokters hier Engels praat. Die meeste van die susters in Taipei kan ’n klein bietjie Engels praat, maar hardloop gou om die dokter te gaan haal as hul nie regkom nie.

Die medies in Taiwan is baie goed. Met ’n keisersnee moet jy ses dae in die hospitaal bly en met ’n normale geboorte net drie dae. Ek kon net vyf weke kraamverlof kry, maar was baie gelukkig dat my ouers en skoonma na ons seuntjie kon kom kyk toe ek terug werk toe moes gaan.

In Taiwan gaan bly die nuwe mamma en baba op ’n plek wat hul die Mommy Hotel noem. Daar sien die susters en dokters na hul om. Die mammas volg ’n spesiale dieet en word mooi geleer hoe om hul baba te bad, masseer en voed. Die mammas hier kon nie verstaan dat ek direk ná Ruan se geboorte huis toe wou gaan nie, waar dit net my man, ek en my baba sou wees.

Vandag is my seuntjie vier jaar oud en in ’n Chinese preprimêr waar al sy klasse in Chinees is. Hy het een Engelse klas per dag. Ons praat Afrikaans in die huis, en klein Ruan kan dus op die oomblik drie tale praat. Ons is baie dankbaar dat hy so gou geleer het.

Ruan is vreeslik gelukkig by sy skool en baie lief vir sy juffrou en maatjies. Die skooldag hier is lank. Hy gaan skool van agtuur die oggend tot halfvyf die middag. Gelukkig geniet hulle middagslapies by die skool.

Elke dag wanneer ek vir Ruan ná skool gaan haal, gaan speel ons ’n bietjie in die parkie. Hier is so baie parkies in die stad waar die kinders na hartelus kan speel. Daar is tot oefenmasjiene vir die oupas en oumas. Dis te lekker om te sien hoe die klein kindertjies in die parkies speel en die oupas en oumas dan ook met hul gesels.

Die mense is verstom om te hoor hoe Ruan gesels. Dan wil hulle net weet hoekom hy so vlot Chinees kan praat. Naweke ontmoet ons vriende by ons distrik se swembad, binnenshuise speelplekke (en daar is vele) of by groot parke waar kinders heerlik in die sand kan speel, gly of swaai. Die meeste parke het ook ’n baan waar Ruan kan rolskaats. Hulle kan by die skool aan ekstra aktiwiteite deelneem. Ruan het besluit om rolskaatsklasse te neem.

Sommige naweke haal ons die trein (spoed of gewone) om by vriende op ’n ander dorp te gaan kuier. Die openbare vervoer hier is fantasties. Ons haal elke dag die bus skool toe en terug, en my man haal die moltrein. Met treine kan jy die hele eiland verken, of sommer met jou poegie as jy wil. Dan is hier ook taxi’s wat jy kan gebruik en jy kan ook ’n fiets, oftewel uBike huur. Daar is fietsstasies oral in die stad waar jy ’n fiets kan huur en weer iewers kan laat staan.

Herman is baie lief vir braai en ons sal gewoonlik op ’n Saterdagaand sommer op ons balkon skaapvleis braai wat meestal uit Australië of Nieu-Seeland ingevoer is. Ons maak ook heerlike aartappelslaai en selfs roosterkoek. Savannah koop ons sommer by ons supermark oorkant die straat. Ons is lief vir van die Taiwannese kos hier soos stoomkluitjies, biefnoedelsop en gebraaide rys. Ons is glad nie lief vir stinkerige tofoe nie en ná 11 jaar ook nog nie gewoond aan die reuk nie. Ruan kry Taiwannese kos by die skool en eet alles met smaak.

Die niggies en nefies kan soms gril vir al die lekkernye wat hy saam Suid-Afrika toe bring. Dit is nou weer tyd dat ons winkel toe gaan om al hierdie “lekkernye” te gaan koop. Ons verlang vreeslik na oupa en ouma, die susters, niggies en nefies en ons mooie land, maar ons is dankbaar dat ons elke jaar Suid-Afrika toe kan gaan om te gaan kuier. Ruan dink hy is ’n klein Taiwannees, maar ons voed hom soos ’n klein Suid-Afrikanertjie op!