“Nog ’n dag is verby / nog ’n week, nog ’n maand / waar loop die tyd met ons heen?” So sing Laurika Rauch in haar bekende lied “Nostalgie”. En ek wonder self: Waar is die tyd heen? Is ons al werklik 10 jaar in Korea?

Suid-Korea word dikwels as die stiefkind van Asië gesien, veral omdat die boetie in die noorde so dikwels amok maak. Baie mense was op hul senuwees toe hulle hoor ek is op pad Korea toe. “Noord of Suid?” het hulle verbaas gevra.

Korea is ’n land ryk aan kultuur en vol verrassings as ’n mens dit eers leer ken.

Ons het die land die afgelope 10 jaar leer liefkry. ’n Skawingsproses was tog nodig omdat Korea so anders is as die vir ons bekende Westerse kultuur.

Ek het op die jong ouderdom van 22 besluit om die Ooste te trotseer. Soos baie ander het ek, plattelandse aksent en al, kom Engels gee.

Min het ek geweet wat op my wag. Aanvanklik was alles vreemd. Die motors was anders, die sampioene het snaakse vorms gehad, die mense het my aangestaar en gedink ek is Russies, en ek onthou die obskuurste geure het in die lug gehang. Dis snaaks hoe dinge wat eers vreemd was later tweede natuur word.

Ek onthou dat ek nie my mond aan die branderige en aardige kos kon sit nie. Ek kon nie gewoond raak aan die vreemde teksture en die seewier wat soos herkousel lyk en ruik nie. Dit het ’n volle jaar geduur voor ek die kos begin geniet het.

Ons is nou al so dapper dat ons seewiersop eet en kimchi – daardie eg Koreaanse, branderige, gefermenteerde kool – mis wanneer ons met vakansie is.

In 2012 het ek my man, Ben, by die jaarlikse Modderfees ontmoet. Dis een van vele feeste wat in Korea gehou word. Die lewe werk op interessante maniere. Ons het mekaar ontmoet op die regte plek, op die regte tyd en in die verre Ooste – en dit terwyl ons albei van die Kaap af kom.

Die meeste buitelanders in Korea is Engels-onderwysers. Die regering stoot ’n magdom geld in die land se Engels-onderrig in. Ben en ek werk saam by die Foreign Language Center in Yeosu. Elke dag sien ons ander studente van omliggende skole in die omgewing. Ons leerplan is van so ’n aard dat al die klasse op aktiwiteitsleer gerig is. Die kinders het baie pret en ons word vriendelik verplig om te sorg dat hulle dit net geniet. Of hulle nou iets leer of nie – solank daar ’n glimlag op die bakkies is, is alles reg.

Ons dogtertjie, Anouk, is al meer as ’n jaar lank by Koreaanse dagsorg. Dis ’n wonderlike skool wat fantasties ingerig is. Elke onderwyser mag na net drie babas omsien.

Die eienares van die dagsorg was baie skepties oor die inneem van ’n buitelander, maar Anouk se juffrou het dadelik verlief geraak op haar ligte haartjies en potblou oë. Dis ongewoon in Korea, waar omtrent almal diepbruin oë en donker hare het. Die blou oë is vir hulle volksvreemd. Haar juffrou noem haar inyeong, wat pop beteken.

Anouk-pop is dolgelukkig. Sy speel graag met die Koreaanse maatjies en verstaan die taal. Sy word ongelooflik gestimuleer en word aan die Koreaanse kultuur blootgestel.

Koreane buig wanneer daar gegroet word. Dis ’n simbool van respek. Anouk buig ook nou as sy ander mense groet. Ons is dankbaar dat sy hierdie Koreaanse wortels kan hê.

Naweke is altyd propvol opwinding. Daar is altyd ’n fees iewers.

Verlede naweek het ons die Geobukseon Skip-fees bygewoon, waartydens hulle generaal Yi Shun-sin vereer. Hy is alombekend in Korea omdat hy die Japannese in die 16de eeu met slim strategieë uitoorlê het. Daar was natuurlik ’n optog en ’n uitbeelding van die generaal en sy bemanning. Almal was vrolik en daar is gedans en gelag. Die ou mense het in hul hanbokke gepronk, die tradisionele Koreaanse kleredrag wat van egte sy gemaak word. Dis baie bont en onvleiend, maar iets besonders en eg aan die Koreaanse kultuur.

Ons het al aan die lekkerste straatkos gesmul. ’n Gunsteling is hot teok, ’n pof-pannekoek met kaneel en neute. Dis ’n heerlike versnapering in die ysige winter.

Die winter kom nou vinnig nader en herfsblare versier die strate. Die natuurskoon is iets wat ons verseker eendag sal mis. Korea se wortels lê diep in ons hart. Ons is bevoorreg om hier te woon. Korea, ons sê gamsahabnida (dankie) en ek groet met ’n vriendelike annyeonghi gaseyo tot siens) voor my seewiersop koud word.