’n Mens sou dink dat iets so eenvoudigs soos ’n A4-bladsy oral in die wêreld dieselfde is. Maar moenie glo nie!
Ons gesin se dinamika en leefwêreld het ’n bietjie meer as twee jaar gelede verander toe my man, Callie, deur sy werkgewer verplaas is na Chicago in die Verenigde State van Amerika. Ek was geskok, maar ook opgewonde. Ek was bitter geheg aan my ouers, vriende en die bedryf waarin ek al meer as 17 jaar lank met wyn gesmous het. Verandering is altyd ’n groeiproses, sê almal. Maar dit was wraggies nie maklik nie. Callie is in Julie 2019 al Chicago toe en ek en ons kinders, Amelie en Daniël, het sowat twee maande later gevolg.
Dit was tóé heerlik somer. Ons het die stad platgeloop en dit was vir ons ’n luukse om regtig veilig te kon stap. Ons het ons verkyk aan al die dekades se argitektuur, ongelooflike museums, mooi straatblombakke en restaurante wat ons voorheen net in flieks gesien het.