Kort voor Eran se eerste verjaardag was ons in ’n splinternuwe land, stad én huis sodat my man, André (35), verder kon studeer. Min het ons geweet van al die storieboek-oomblikke en werklikhede wat op ons wag.

Ons is bevoorreg om in ’n Unesco-wêrelderfenisgebied te bly, ’n deel van Leuven wat jou met sy klipstraatjies en prentjiemooi huise na die 13de eeu terugvoer. Hier woon ook ander nagraadse studente en hul gesinne van oor die wêreld heen en Eran word aan ’n magdom kulture blootgestel.

Toeriste is ’n algemene gesig en Eran het sy eerste treë hier gegee. Die strate van ronde klip beteken egter ook dat ons nie regtig ons babawaentjie tot by ons voordeur kan stoot nie. Ons woon op die tweede verdieping en die huisie het nie ’n hysbak, wasmasjien of oond nie. Gelukkig klim Eran nou al goed trappe en wasgoeddag beskou ek as ’n goeie gimsessie.

Leuven het ’n goeie openbare vervoerstelsel, maar die busse kom hier soms ook maar laat en die treine wag vir niemand nie! Ons gunsteling-vervoermiddel bly ons fietse. Eran het ’n stoeltjie voor op my fiets sodat ons lekker kan gesels terwyl ons rondry. Almal hier is baie gesteld op omgewingsbewaring en selfs die heel kleintjies ry al van vroeg af fiets of word in ’n fietskar of bakfiets gekarwei. Ons het beslis ’n baie meer aktiewe leefstyl gekweek!

Ek is bevoorreg om bedags by Eran te kan bly en ons het heerlike avonture saam. Soggens begin ons met ’n huis-skoonmaaksessie (ons het nou eers besef hoe bederf ons in Suid-Afrika was!). Daarna gaan speel ons in een van die pragtige speelparke of binnenshuise speelkamers wat so mooi vir kinders ingerig is. Dis ook ’n ideale plek om ander (meestal internasionale) mammas te ontmoet. Die meeste Belgiese ma’s werk en hul kinders gaan al van vroeg af crèche toe.

Van twee jaar en ses maande af kan jou kind na ’n openbare kleuterskool gaan. Skooltyd is van 8:30 tot 15:30. Naweke is daar baie aktiwiteite en feeste wat deur die munisipaliteit aangebied word en as die son skyn, is almal buite!

Dit help baie dat Vlaams so na aan Afrikaans is (Nederlands is die geskrewe taal). Ons kan mekaar verstaan. “Baie”, “kuier” en “vinnig” is egter glad nie deel van die spreektaal nie, en “verskoon my” moet liewer nie gebruik word as jy van die tafel af opstaan nie. Dít gebruik hulle wanneer ’n baba se doek geruil word, iets wat hulle beslis nie vir jou wil doen nie!

In Europa kan ’n mens die seisoene behoorlik beleef. Ons het in die herfs hier aangekom en dan is pampoene, appels en die mooiste rooi, geel en bruin blare in oorvloed. Die winter was ysig en dis nie maklik om elke keer ’n jas, stewels, mus en handskoene vir ’n eenjarige aan te trek voor jy jou voete by die deur kan uitsit nie. Teen einde November verskyn daar oral Kersliggies in die strate, almal drink glühwein of warmsjokolade, en elke dorp of stad het ’n wondermooie Kersmark. Die tradisie van Sinterklaas bring ook groot vreugde. Hy kom middel November met ’n boot in Antwerpen aan en bring dan omtrent twee weke in die land deur waar hy skole en hospitale besoek om nartjies, pepernoot-koekies en sjokolade uit te deel. Die oggend van 6 Desember besoek hy en sy assistent Swarte Piet (wat deur die skoorsteen moet klim en so swartgesmeer word) elke huis. Die kinders los hul skoene by die kaggel en dié wat soet was, kry dan presentjies. Kersdag word gewoonlik rustig saam met familie gevier en geskenke is dan nie die fokuspunt nie. Dit was werklik spesiaal om ons eerste koue Kersfees hier te vier. Die sneeu het eers later in Januarie geval en Eran het heerlik in die sagte wit vlokkies gespeel! Die lente word met ’n karnaval ingelui en dan moedig al die winkels jou aan om tuin te maak en blomme te plant.

Een van ons gunsteling-plekke is ’n botaniese tuin en in die somer verander die groen grasperk in ’n fraaie pers prentjie van net blomme. In die somervakansie hou almal piekniek in die koel woude, of selfs barbecues. Dis pret, maar glad nie ’n plaasvervanger vir ’n regte Suid-Afrikaanse braai nie. Frietjes (of slaptjips soos ons dit ken) het in België ontstaan en die mense besoek graag die frituur, waar alles onder die son in olie gebak word. Dit word natuurlik met ’n Belgiese bier geniet en met ’n heerlike Belgiese wafel afgerond. Ander tradisionele kos is stowevleis, waar vleis saggekook word in ’n geurige biersous. Ondanks al die koolhidrate bly die mense mooi maer!

Ons geniet ons sprokie-avontuur in België. Ons gesin het soveel nader aan mekaar gegroei, al heerlik in Europa rondgereis en wonderlike vriende van oor die wêreld heen gemaak. Ons harte verlang egter na ons familie, ons land, ons mense en ons kos! 

GAAN LOER
Nické, ’n pediater van beroep, deel haar kennis uit ’n ma se oogpunt op haar blog pediatricsandplaydough.com.