Uit my hart

akkreditasie
Hierdie mamma skryf 'n brief oor haar pa en hoe sy haar seun, Ruan, sal grootmaak.

Ek skryf hierdie brief om heel eerste aan God dankie te sê vir n pragtige en gesonde seuntjie wat gebore is op 1 September 2015. Wat 'n totale wonderwerk! 

Ek beskryf hom as 'n wonderwerk want ek dink nie enige iemand het 'n idee hoe moeilik my swangerskap was nie. Ek wil glad nie die "kry-my-jammer-kaart" speel nie maar dit het letterlik alles van my geneem om seker te maak ek bly kalm gedurende my swangerskap. 

Ek was twee keer baie siek met boonste lugweg ontsteking en het met elke keer 'n sewe-dag antibiotika kursus voltooi. Dis niks in vergelyking met my pa wat in die begin van Mei 2015 gediagnoseer is met nero-endokriene kanker nie. 'n Baie rare kanker wat slegs 3 uit 100,000 mense beïnvloed.

Dit was 'n groot skok aangesien my pa so 'n gesonde mens was. Hy was nooit siek nie en het omtrent nooit nodig gehad om 'n dokter te besoek nie. Die kanker het so vinnig versprei dat sy liggaam te swak geword het om chemoterapie te kon ondergaan. Hy is op 31 Mei 2015 op sy 65ste verjaarsdag oorlede. 

Van sy laaste woorde aan my was: "my skat, ek gaan die ding oorwin en ek gaan nog my kleinseun sien". Die gedagte dat klein Ruan nooit sy besonderse oupa sal ken nie breek my hart. Ek en my man sal hom verseker alles leer wat hy ons geleer het.

Hy was n eerlike, opregte, rustige en liefdevolle mens. Ek weet hy kyk van bo en sien sy kleinseun, maar ek wens tog hy was hier om hom te kon vashou en te geniet. Ons mis pa en sal vir Ruan alles van pa vertel! 

Stuur jou stories aan web@babaenkleuter.co.za

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees