Om saam met babas of kleuters met vakansie te gaan, is nie altyd ’n vakansie nie. Om die waarheid te sê, die vreemde omgewing kan jou kind dalk in ’n skreeuende, vloermoergooiende duiweltjie verander. Beteken dit dat julle alle hoop moet laat vaar om ooit weer uitgerus van ’n vakansie terug te keer? Beslis nie. Maar dis belangrik dat jy die regte houding in jou vakansietas pak: Vergeet van elke dag laat slaap, lang uitspansessies langs die swembad of heeldag deur winkelsentrums drentel. Pas jul verwagtinge aan by jul kleinding se behoeftes, beskou elke uitdaging as ’n avontuur en julle kan ’n onvergeetlike vakansie vol kosbare herinneringe hê ... en rus.

MAAK SEKER! Sorg dat jy die nommer van ’n noodapteek en ’n dokter in die omgewing byderhand het. Neem jou mediesefondskaart saam of hou ’n foto daarvan op jou selfoon.

DIT BEGIN BY BEPLANNING

Hoe beter jy tuis beplan, hoe groter is die kans van sukses. Dink mooi watter soort vakansie jul hele gesin die beste sal pas. ’n Goeie beginpunt is ’n kindervriendelike blyplek. Is die swembad omhein en die balkonne goed beveilig? Is daar ’n kampkot, eetstoeltjie en so aan? Dit kan ’n groot verskil maak. As jou kleinding sy slegste voetjie voorsit, sal julle dit in die blyplek kan hanteer? Dalk is ’n selfsorgeenheid met meer ruimte ’n beter keuse as ’n hotelkamer of karavaan.

Getty Images
Getty Images

Wat om te pak

’n Uitstappie winkels toe is met babas of kleuters al klaar ’n enorme onderneming – hoeveel te meer nie ’n vakansie nie? Slim beplanning is ekstra belangrik as jul ruimte beperk is. Kyk wat julle elke dag by die huis gebruik: Dit moet waarskynlik saam. Met die res moet jy meer kieskeurig wees.

KLERE Die sleutel is om dit eenvoudig te hou, geskik vir jul omgewing. Gemaklike T-hempies en broeke of rokkies wat vinnig droog word wanneer jy dit uitspoel, werk goed by die see. Kyk na die weervoorspelling, maar sorg dat jy minstens een stel klere vir kouer weer pak. Rol die klere op eerder as om dit te vou wanneer jy pak; so kry jy baie meer ingepas.

Kinders leef in die vakansie dikwels in hul swemklere; sorg dus vir minstens twee stelletjies. ’n Bikini lyk skatlik aan jou japsnoet, maar in die warm Suid-Afrikaanse son is ’n eenstuk of sonbeskermingshempie wat die grootste deel van die lyfie toemaak en UV-beskerming bied ’n beter belegging as jy nie met sonbrand wil sukkel nie. ’n Goeie sonhoed (wat verkieslik UV-bestand is en ook die nek en ore bedek) en sonbril is noodsaaklik. 

Pak ’n aparte oornagsak met al jul toiletware, nagklere, handdoeke en een stel klere vir die volgende dag. As julle iewers langs die pad moet oornag of laat by jul bestemming aankom, hoef jy nie alles uit of af te pak nie, maar kan julle net die een sak vir die nag aflaai.

Pak vir elke kind sy gunsteling-kombersie en sagte speelding in wat ’n vreemde omgewing ’n bietjie meer bekend kan laat voel.

HULPMIDDELS ’n Stootwaentjie bly ’n wenner as ’n baba of kleuter saam vakansie hou. As die ruimte te beperk is, kan jy dalk ’n goedkoop weergawe koop wat klein kan opvou en steeds help om jou kind van punt A na punt B te karwei. 

Nog idees is ’n babadrasak of rugsak. ’n Kampkot kan ’n dubbele doel dien as slaapplek en veilige speelplek. Vou die beddegoed vir die kampkot saam met die kot op as jy dit pak.

MEDIKASIE Maak seker jou noodhulptassie bevat al die noodsaaklikhede vir jou kind. Dit sluit in ’n koorspen, parasetamol vir pyn en koors, pleisters, ontsmetting­salf, salf vir insekbyte en iets vir brandwonde en sonbrand. Vra raad by jou apteker. Selfs al is daar ’n apteek, word kinders dikwels in die middel van die nag siek en dan wil jy die nodigste by jou hê.

SPEELGOED Neem ’n rugsakkie met jou kind se gunsteling-speelgoed saam. Die bekendheid daarvan sal hom minder vreemd laat voel, en dis nuttig wanneer julle rustig by julle blyplek wil ontspan.

Moet in die geval van beperkte ruimte nie dinge soos ekstra doeke pak wat jy in elk geval by jul bestemming kan koop nie, maar onthou dat goedere op baie vakansiedorpe heelwat duurder in die vakansieseisoen is as in die loop van die jaar.

By jul bestemming

Maak seker presies wanneer jul blyplek gereed is sodat julle nie agtuur die oggend met moeë kinders by jul bestemming aankom, maar dan tot twaalfuur moet wag voor jul kamers gereed is nie.

Voor julle begin uitpak, moet julle ’n vinnige ondersoek doen om seker te maak die blyplek is kinderveilig. Dit kan help om heel eerste die kampkot op te slaan en jou woelige kleinding daarin te laat speel sodat hy veilig is tot julle klaar afgepak het.


’n Vakansieroetine

  • Ontwikkel jul eie vakansieroetine Kinders hou daarvan om te weet wat om te verwag en roetine help om hulle gelukkig te hou. Jul vakansiebeplanning hoef nie in sement gegiet te wees nie, maar dit help as julle vooraf ’n lys aktiwiteite vir die dag gereed het. Probeer om elke dag ’n balans te handhaaf tussen hoë-energie-aktiwiteite (soos uitstappies) en om rustig by jul blyplek te speel. Moenie te veel in een dag probeer indruk nie.
  • Beplan strand- en ander uitstappies vir vroeg in die dag (julle is in elk geval douvoordag wakker met kleingoed in die huis!) voor die son te warm word en die wind dalk opsteek. Sit die vorige aand alles reg sodat julle net kan gryp en ry. Bou elke dag “rustye” in. Al wil jul kleinding nie slaap nie, moet hy rustig in sy kamer wees. Dit gee die hele gesin kans om hul batterye te herlaai.
  • Maak seker jy het speelgoed en aktiwiteite soos legkaarte, plakkers, boekies, blokkies, diertjies of karretjies waarmee die kleinspan hulle kan besig hou. Of sit ’n klein opblaasswembadjie in die skaduwee (selfs op die sitkamervloer!) met ’n bietjie water in neer, gee jou kleinding bakkies en bekers en kyk hoe sy haar ure lank geniet sonder dat jy haar besig hoef te hou. Hou egter toesig.
  • Bly buigsaam Dis belangrik om te beplan, maar nog belangriker om buig­saam te bly as jy sien dinge loop nie volgens plan nie. Onthou, julle is met vakansie!

Kry die ontspanbalans 

Een van julle sal altyd ’n oog oor die kleingoed moet hou, maar as julle saamwerk kan almal dié vakansie dinge doen wat hulle help ontspan. 

Hier is ’n paar idees:

  • Maak diensbeurte en laat jul paaie soms skei. Vandag kan pa dalk die kinders klouterkasteel toe neem terwyl ma haar eie ding doen, en môre kan sy hulle weer vir melkskommels neem terwyl pa gaan visvang. So kry elkeen ’n ruskans en bindingstyd met die kinders. Selfs al is julle bymekaar, kan julle mekaar steeds aflos deur pligte te delegeer. Pak jou telefoon weg sodat jy jou onverdeelde aandag aan jou kinders kan gee. Nie net is dit goed vir julle as gesin nie, dit sal jou ook help om te voel dat jy werklik afskakel van jou werk en ander wêrelddramas.
  • Skep klein vakansierituele soos dat julle elke dag nadat julle op die strand was, by ’n sekere plek roomys koop.
  • Behou die grense: Net omdat julle met vakansie is, beteken dit nie jou kleingoed kan nou doen net wat hulle wil nie. Toon begrip vir die invloed van die vreemde omstandighede, maar maak seker jou kind verstaan nee beteken steeds nee. Hy het juis hierdie grense nodig om hom veilig te hou en te laat voel.
  • Gebruik ’n stil ruimte in jul vakansie om as gesin ’n bietjie te gesels oor jul drome vir die nuwe jaar. Dit sal hoof­saaklik jy en jou maat wees, maar selfs die kleingoed kan ’n bydrae of twee lewer. Skryf dit in ’n boek of maak ’n prettige plakkaat met julle emmerskop­lysie vir die volgende jaar.

SLAAPDRAMAS

Die onbekende vakansie-omgewing kan jou kind se slaappatroon ontwrig en soms moet jy die slaapreëls ’n bietjie buig as jy ook wil rus. ’n Titsel omkopery (slaap nou soet, dan gaan ons môre see toe!) is soms al wat nodig is.

  • Hou waar moontlik by jul gewone slaaptydroetine en slaaptoestande. As hy tuis met ’n nagliggie aan slaap, sorg dat hy hier ook een het. Lees stories voor jy nag sê. Stel hom gerus dat jy naby is.  
  • As jou kleinding in ’n kampkot moet slaap, kan dit help om ’n paar weke voor die vakansie daaraan gewoond te begin raak. 
  • Onthou dat die omgewingsklanke by jul vakansieplek van dié tuis verskil. Rustige musiek of witgeraas (soos van ’n waaier) kan agtergrondgeluide demp sodat jou kleinding makliker aan die slaap raak. 
  • As niks anders wil werk nie, oorweeg dit om jou kleinding in sy karstoeltjie tuis te maak en ’n entjie te ry tot sy oë toeval.

OULIKE IDEE! Giet jogurt in dik Ziploc-sakkies en vries dit. As dit by die strand begin ontdooi, druk dit fyn en knip die een hoek van die sakkie af sodat jou kind die jogurt daardeur kan uitsuig. So raak sy jogurt nie vol sand nie en bly hy koel met ’n voedsame happie.

Maklik met kos

Al het die grootmense hul eie spyskaart, moet jy seker maak daar is altyd ’n vinnige maaltyd vir die kleinspan gereed. Dis dalk vir die volwassenes lekker om rustig om die braaivleisvuur te kuier, maar as jy nie met ’n moeilike kleuter opgeskeep wil sit nie, is dit belangrik dat hy moet eet wanneer hy honger word. As jy dus sien dit word laat, moet jy ’n plan maak om die kleinspan se maaltyd vroeg gereed te hê. Spek en eiers, toebroodjies met gesonde vulsels, gekookte eiers en vrugtestokkies maak magies gou vol.

Pak genoeg eetgoed vir jou kleinding in as julle uitstappies aanpak. Vingerkosse soos droëvrugte, ryskoekies en kaasblokkies is prakties. Verpak dit in klein verseëlbarehouers wat jy een vir een kan aanbied. So keer jy dat al die kos op een slag vol sand word of vir ’n diertjie gevoer word. Moenie vir jou kinders suikerprodukte gee as jy van hulle gaan verwag om rustig te wees nie.

Getty Images
Getty Images

Goggabestand

Brand saans sitronella-kerse terwyl julle buite sit om die muskiete en ander goggas weg te hou. By kinders jonger as ’n jaar moet muskietweerders wat DEET bevat liefs vermy word; skaf dus liewer ’n natuurlike muskietweerder met bloekomolie, sitroengras of sitronella-olie aan. As jou kleinding eers in die bed is, kan ’n muskietnet gebruik word. Dit werk ook goed om bedags vlieë en ander goggas weg te hou en kan vir jou kind ’n heerlike ‘speelhuisie’ vorm. ’n Waaier kan ook help om die muskiete weg te hou. As julle in die veld gestap het, kyk of die kinders dalk bosluise of bytplekke het.

Dokters beveel nie aan dat kinders onder vyf in ’n malariagebied vakansie hou nie. Dis in elk geval in die somer bloedig warm daar; kies liewer ’n koeler bestemming vir jul somervakansie.

Vir die langpad

  • As julle ver per motor moet reis, kan julle die grootste deel van die reis aflê terwyl die kinders slaap. So voel die pad heelwat korter as wanneer hulle elke vyf minute wil weet hoe ver dit nog is.
  • ’n Tablet of draagbare DVD-speler is ’n lewensredder op die langpad. Maak seker al jou kleingoed se gunsteling-flieks is gelaai. Kindervriendelike oorfone (gaan net die volume na!) sorg ook vir vrede.
  • Trek swartsakke oor die sitplek voor jy die kinders se motorstoeltjies installeer. As hulle mors of siek word, is die skoonmaak maklik.
  • Pak vir elke kind ’n ”verrassingspakkie” vir die langpad in saam met ’n klein skinkbordjie waarop hulle kan speel. Die pakkie kan speelgoed soos karretjies, diertjies, maklike legkaarte, speelklei, plakkers en selfs gesonde peuselhappies (vermy lekkers, tensy jy hoë energievlakke soek!) bevat. Ná elke dorp kan die kinders nog ’n ”verrassing” uit die pakkie haal.
  • Geniet gesinstyd: Sing saam met ’n kinderliedjie-CD of speel speletjies soos “Ek sien met my kleine ogies.” Vra vrae soos: Wat kies jy: roomys of Smarties? Appels of piesangs? Blou of rooi?
  • Hou stil. Ons wil almal gou by ons bestemming kom, maar klein lyfies is gou moeg gesit. Beplan vooraf om iewers langs die pad stil te hou en ’n kindervriendelike aktiwiteit te doen of plek te besoek. Dit gee almal kans om bene te rek en laat die rit korter voel.
  • Hou die volgende in die motor byderhand: jou doeksak met al die benodighede insluitend doeke, ’n ekstra stel klere, nat afveelappies (dit werk vir baie goed!), ’n plastieksakkie vir rommel en naarwordpille vir ingeval iemand karsiek voel.
  • ’n Honger kind is ’n moeilike kind; pak dus gesonde peuselhappies in verskeie klein houertjies wat jy een-een kan uithaal en vir die kinders kan gee. Maak seker hulle bly gehidreer met genoeg water (maar nie te veel nie, anders gaan julle kort-kort moet stilhou). Vermy gaskoeldrank.

As julle vlieg

  • Koop en pak vooraf genoeg eetgoed in. Moenie dink jy gaan dit op die lughawe koop nie. Behalwe dat dit geld spaar, verloop dinge soms anders as wat jy beplan het en dis ’n nagmerrie as jy op die vliegtuig is sonder die nodige.
  • Kinders kan soos die blits verdwyn. Skryf jou selfoonnommer met ’n viltpen op jou kinders se hande in geval van ’n noodgeval. ’n Kinderleiband is ook nie ’n slegte idee as jy meer as een kind het nie.
  • Pak kleiner sakke in een groot sak sodat julle minder stukke bagasie het om in te weeg en rond te karwei.
  • Hou handsteriliseerder en nat afvee­lappies in jou handsak vir ongelukkies, asook ekstra doeke.

Familie

Vir baie van ons gaan somervakansies gepaard met familiekuiers, maar met kinders is dit ’n aks meer ingewikkeld as voorheen. As jy ’n dikker vel ontwikkel, kan familiekuiers jou wel help om ’n bietjie meer ontspantyd te geniet!

Probeer om kommentaar van familie oor jou kinders nie persoonlik op te neem nie, en om self ook nie ander se ouer­skapstyl te kritiseer nie. As julle ’n klomp gesinne met kinders is wat saamkuier, is dit ’n goeie plan om vooraf grondreëls uiteen te sit, veral wat dissipline betref. Werk ’n goeie skeut humor in. As jul benadering tot kind grootmaak baie verskil, probeer om vir ’n paar dae buigsaam te wees. Soms moet ’n mens op jou tong byt ter wille van ’n groter doel.

Moenie alles as familie saam probeer doen nie. Sommige mense het meer stil tyd nodig as ander. Kies eerder net ’n paar aktiwiteite om as familie saam aan te pak.

As julle wil hê oupa en ouma moet babaoppasser speel terwyl julle ’n bietjie grootmenstyd geniet, bespreek dit vooraf met hulle. Onthou, dit is ’n voorreg, nie ’n reg nie. Moenie net aanvaar hulle moet regstaan vir jul kinders nie. Ontspan, neem baie foto’s en geniet elke oomblik!

OULIKE IDEE! Gee jou ouer kleuter ’n koplampie wat hy snags kan gebruik om toilet toe te gaan of mee kan speel. Dit kan hom veilig help voel.

Getty Images
Getty Images

Pak die strandsak

Gaan vroeg strand toe voor die ergste hitte toeslaan. Daar is dan ook minder wind en minder mense op die strand. 

Moenie te veel dinge saam strand toe piekel nie sodat julle in ’n krisis (soos as jou kind op ’n bloublasie trap) vinnig kan oppak. Beplan liewer korter strand­sessies en gaan huis toe terwyl almal nog vrolik is.

In jou strandsak(ke) moet jy minstens die volgende hê: genoeg sonskerm, sonhoede, sonbrille, swemdoeke as jou kind nog doek dra, waterbottels met koue én gevriesde water, kos vir die kleinspan, ’n geldjie vir roomys en ander strandkopies, nat afveelappies, plastieksakkies vir nat klere en vuilgoed, ’n handdoek waarop julle kan sit (oorweeg ’n Turkse handdoek) en handdoeke vir afdroog. Hope strandspeelgoed is onnodig, maar ’n grafie en emmertjie of bekertjies van verskillende groottes verskaf ure se plesier. 

Skaduwee op die strand is noodsaaklik, hetsy ’n sonsambreel of babatent. Maak seker alle sambrele is goed geanker. 

Bied gereeld vir jou kleinding iets te drinke aan sodat sy gehidreer bly. As jou kleinding baie sweet en kopseer het of naar voel, kan dit wees dat sy te warm kry. Neem haar na ’n koel plek, draai ’n nat handdoek om haar en gee haar iets om te drink.

Hou ’n sak met ekstra doeke, klere, handdoeke, water en peuselhappies in die motor vir die pad huis toe. As jy nie parkeerplek in die skaduwee kry nie, gooi ’n handdoek oor die karstoeltjies voor julle strand toe gaan, anders kan dit jou kleinding brand wanneer julle later huis toe wil gaan. 

SUPERWENK Materiaalpleisters is in ’n noodgeval uitstekende muurprop­bedekkers.

Wees sonveilig

Hou die kleinspan uit die son tussen soggens elfuur en smiddags drieuur. Onthou dat ’n mens op ’n bewolkte of winderige dag steeds erg kan brand. Maak seker jou kleinding is goed ingesmeer voor jy hom in die son laat kom. Gebruik ’n breëspektrum-sonskerm wat hom teen UVA- en UVB-strale beskerm. 

Die Kankervereniging van Suid-Afrika beveel aan dat babas jonger as ’n jaar glad nie in die direkte son kom nie omdat hul vel nog baie sensitief vir sonbrand is, wat die risiko vir latere kanker verhoog. Jy kan ’n klein bietjie babaveilige sonskerm met ’n sonbeskermingsfaktor (SBF) van 30 tot 50 smeer op klein dele van jou baba se lyfie soos sy gesig, agterkant van die hande en bokant van die voete. Vir kinders ouer as ses maande word ’n sonskerm met ’n SBF van 30 tot 50 ook aanbeveel.

Smeer jou baba se eerste laag sonskerm reeds by die huis aan voor jy hom aantrek. Dit maak dit makliker. Daarna kan jy elke uur op die strand ’n nuwe lagie aanwend. Stel jou selfoonalarm om jou te herinner dis sonskermtyd.

As jou kind ’n besonder sensitiewe vel het, onthou dat sonskerm met titaandioksied of sinkoksied jou baba se vel waar­skynlik minder sal irriteer. 

NOG WENKE VIR DIE STRAND

  • Gebruik mielieblom om die sand van jou kind se lyfie te help afkry. Dit absorbeer die vog, wat help dat die sand minder vasklou.
  • Trek vir jou kleinding helder klere aan sodat jy hom vinnig tussen ander mense kan raaksien. Kinders kan vinnig wegraak!
  • ’n Paslaken kan ’n baie lekker sandvrye speelhoek op die strand wees. Pak ’n koelboks of sak op elke hoek om die laken te help om sy vorm te behou en voilà!
  • ’n Spuitbotteltjie met water koel almal vinnig af as ’n uitstappie te warm word.
  • ’n Sarong neem min plek op en werk wonderlik as jy nog borsvoed en baba op die strand dors word.
  • Vleg jou dogtertjie se hare voor julle in die see swem. Dit maak dit makliker om agterna enige koeke uit te kry.