Vier jaar gelede het ek en my man, Thomas, die geleentheid gekry om na Aboe Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate te verhuis en hier te kom werk. Ek het ’n pos as Engels-onderwyseres vir die regering aanvaar en Thomas is ’n sport- en motoriese bewegingsafrigter vir kinders onder sewe jaar.

Ons het die geleentheid met albei hande aangegryp aangesien dit nog altyd ons droom was om te reis en die wêreld te sien, en dié kans sou dit vir ons moontlik maak! Ons het ook uitgesien na die nuwe uitdagings. Ons het besluit dat ons ’n jaar of twee wil wag voor ons kinders kry sodat ons ’n bietjie kon gaan reis. Ons het na verskeie lande gereis soos Thailand, Turkye, Katar en die Filippyne. Ons vakansies was meestal regte rugsak-vakansies met baie avontuur, see, strande en lekker kuier saam met die plaaslike mense.

Ná sowat twee en ’n half jaar in Aboe Dhabi en 18 maande van probeer, het ons uiteindelik swanger geraak. Dit was ’n baie groot verrassing toe ons dit op een van ons reise na Parys en Spanje uitvind. Ek was gelukkig en het ’n goeie swangerskap gehad met geen groot komplikasies nie, net ’n bietjie sooibrand. Ons het ’n goeie mediese fonds en van die beste dokters in die wêreld werk hier in Aboe Dhabi.

Ons seuntjie, Tristan, het ons lewe kom verander. Met Tristan se geboorte het ek net 45 dae kraamverlof gekry. Die regering het dit wel onlangs met drie maande verleng – hierdie wet het in werking getree net 15 dae nadat my kraamverlof verby was! Ek en Thomas was alleen met Tristan se geboorte omdat omstandighede ons ouers gekeer het om hier te wees.

Die eerste paar weke was moeilik! Ons het niemand naby gehad om ons te help nie, en ek moet sê dat jy in sulke omstandighede ’n ander kant van jouself leer ken. Ek dink nie ek was al ooit tegelyk só moeg en só bang, maar tog ook só gelukkig nie. Ek en Thomas moes saamstaan en alles was ’n spanpoging. Thomas het vir niks teruggedeins nie en was met elke aandvoeding saam met my en met elke bad aan my sy. Ons het ook wonderlike vriende gehad wat kos aangedra het, wat natuurlik van groot hulp was.

Namate my kraamverlof einde toe gestaan het, moes ons besluit wie na Tristan sou omsien wanneer ons werk. Ons moes besluit of ons ’n oppasser sou aanstel of vir Tristan dagsorg toe sou stuur. Albei is ongelooflik duur. Ons het eindelik op dagsorg besluit omdat ons gedink het dat dit die beste opsie vir Tristan is. Die dagsorg wat ons gekies het, bied taalklasse in Arabies en Frans aan en daar word ook babamasserings- en sportklasse gegee. Jy ontvang ook elke dag ’n verslag van die dag se gebeure soos die aantal doeke wat geruil is en hoe laat jou baba geslaap en gedrink het. Tristan is toe as baie klein baba dagsorg toe. Hy is vandag ’n regte besige lyfie en is gek oor sy maatjies!

Ons gesin is baie lief vir die buitelewe, veral vir die strand en see. Ongelukkig is dit meer as helfte van die jaar hier in die woestyn net te warm om buite met kinders te wees. In temperature van sowat 50 grade Celsius moet ’n mens innoverend raak om jou kleingoed besig te hou. Winter is heerlik! Die temperatuur is tussen 22 en 34 grade Celsius en dis dan die ideale tyd om buite te wees. Ons gaan dan graag met Tristan strand of swembad toe, want hy is mal oor water!

Ons woonstelgebou het heerlik geriewe, soos ’n privaat strand en swembaddens. Thomas kan ook natuurlik nie wag om Tristan in die veldvoertuig saam op ’n woestynrit en -kamp te neem nie. Een van die grootste voordele hier is natuurlik die veiligheid. Ons gaan stap enige tyd van die dag of nag met Tristan. Hy word vinnig verveeld in die huis en is dus mal oor sy uitstappies. Ons gaan stap en speel gereeld in die parke wat laatmiddae vol kinders is.

Baie mense kry oppassers om na hul kinders om te sien sodat hulle naweke kan laat slaap of ’n bietjie kan uitgaan, maar ons verkies dit om eerder tyd saam met Tristan deur te bring of hom saam te neem wanneer ons uitgaan. Dit is juis om dié rede dat ons reeds seweuur op ’n naweekoggend by Starbucks staan om koffie te kry! Ons braai en kuier graag met ons vriende by ons onderskeie woonstelle of villas. Uitgaan en uiteet is ongelooflik duur, dus verkies ons dit om soos in Suid-Afrika eerder bymekaar te kuier.