Verbeel jou...pappa praat wit leuens

akkreditasie
Dit is soms nodig om vir jou kinders te jok – anders sal hierdie wêreld van ons darem ’n baie vaal plek wees.

Dit is ontsettend belangrik om vir kinders te jok. En dis boonop groot pret. Nee, ek bedoel darem nie die lelike soort jok nie.

Ek praat van die soort jok waar jy jou kleuter in die middel van ’n groot ketting winkel oortuig jy weet hoe om kinders onsigbaar te maak. Ek en Mia (4) en oupa wag dat mamma, ouma en Emma (1½) klaar inkopies doen.

So ’n gewag kan lank raak, maar dit is die perfekte geleentheid om ’n kind onsigbaar te maak.

“Is jy seker jy wil onsigbaar wees?” vra ek vir Mia. “Dit kielie so ’n bietjie as ek die towerwoorde sê.” “Pappa jok,” sê sy agterdogtig. Sy is dalk net vier jaar oud, maar sy het reeds ’n goeie dosis skeptisisme onder lede. “Ag, nou kom ons los dit dan maar eerder,” sê ek. “Jy’s buitendien nog ’n bietjie jonk om onsigbaar te wees.

Dalk kan ons probeer as jy vyf is.” “Nee, ek wil nóú onsigbaar wees!” dring sy aan. Ek sug. “Nou maar goed.” Ek laai haar in die winkeltrollie en knipoog vir oupa.

Ons ry ’n ent weg, tot voor die parfuumrak. Die verkoopsvrou staar my verbaas aan terwyl ek my asem stadig uitblaas en ewe dramaties ’n klomp vreemde woorde begin opsê. “Pappa, hoekom kyk daai tannie so vir ons?” val Mia my in die rede. “Ag nee, Mia!” sê ek teleurgesteld. “Nou moet ek weer van voor af begin.

Daardie tannie het seker nog nooit gesien hoe ’n kind onsigbaar gemaak word nie,” voeg ek by, hard genoeg dat die parfuumverkoopsvrou kan hoor.

Ek begin weer met my string nonsenswoorde

Hierdie keer sit Mia tjoepstil en grootoog. Eensklaps val my mond oop. “Dit het gewerk!” sê ek ingenome. “Jy’s heeltemal onsigbaar. Moet net nie uit die trollie klim nie, anders gaan ek jou nooit weer kry nie.” Mia bekyk haar hand. “Is nie.

Ek kan myself dan sien!” Ek rol my oë. “’n Mens kan sien jy weet nie veel van onsigbaar wees nie. Natúúrlik kan ’n mens jouself nog sien as jy onsigbaar is.

Hoe anders gaan jy jou tande borsel? Oukei, ons gaan nou verby ’n klomp mense ry – kyk maar, nie een van hulle gaan jou raaksien nie.” Ek stoot die trollie in die toiletware­ gangetjie af.

Niemand gee enige aandag aan ons nie. Almal is te besig om tandepasta en spuitgoed en toiletpapier te koop.

Mia giggel verbaas. “Sal oupa my kan sien?” vra sy op pad terug na die bankie waar oupa sit en wag. “Natuurlik kan hy jou nie sien nie,” sê ek, hard genoeg dat oupa kan hoor. “Jy is dan onsigbaar.

Pa, het pa dalk vir Mia iewers gesien?” My skoonpa het gelukkig genoeg gehoor om te kan saamspeel. “Nee, sy was dan nou net daar in die trollie?” Mia straal.

Teen die tyd dat mamma, ouma en Emma terugkom, is Mia weer sigbaar – en sy kyk elke paar minute met so ’n sameswerende vonkel in haar oë na my.

Ek weet dis belangrik om jou kind se brein te laat ontwikkel; haar van kleins af aan opvoedkundige programme en speelgoed bloot te stel.

Ek besef dis belangrik om jou kind se liggaamlike ontwikkeling kleintyd reeds deur middel van oefening en spel te bevorder. Maar wat doen jy om jou kind se verbeelding te stimuleer?

Ek onthou nog die verbeeldingspeletjies wat ek kleintyd gespeel het

Op ons plaas was ’n spesifieke telefoonpaal waar ek altyd ure lange gesprekke met my denkbeeldige maats, die Dansters, gevoer het. Wanneer ons langpad gery het, het ek en my sussie die tyd omgekry deur vir mekaar te vertel watter kammadiere ons langs die pad sien.

My oupa het op ’n kol vir my vertel dat die skilpaaie in die Karoo elke Sondag bymekaarkom om kerk te hou. Ek het Sondae ure lank in die veld na daardie skilpadgemeente gesoek.

Wys my die TV­program of toep wat daardie soort verbeeldingspeletjies aan die gang kan sit.

En dit is waarom ek soms vir Mia en Emma probeer oortuig dat ek op ’n keer ’n dogtertjie genaamd Giggeltjie geken het wat ontplof het nadat sy te veel gelag het; dat ’n blom wat Mia op ’n sypaadjie opgetel het, slegs in ’n walvis se agterstewe groei; en dat ’n mens heeltemal blou kan word as jy te veel borrelgom­melk drink.

Hopelik help dit hulle om te besef dat die wêreld nie net ’n vervelige plek is waar jy sieldodende dinge moet doen soos parfuum smous of tandepasta en toiletpapier koop nie.

Dinge wat maak dat jy die wêreld miskyk. Dinge wat jou laat vergeet dat daar om elke hoek en draai ’n onverwagse avontuur kan wag. As jy jou verbeelding gebruik. En soms so ’n klein bietjie jok. 

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees