My dogtertjie is ses jaar oud en baie traag om haar self in die bad te was en self aan te trek en tande te borsel. Hoe kan ek haar aanmoedig en motiveer om hierdie takies self aan te pak sonder dat dit elke dag in ’n tranedal ontaard?

Lenmarie Stanton antwoord: Dit kan taamlik uitdagend wees om sesjariges te oortuig om dinge te doen wat hulle juis nie wil doen nie. En om hulle te oortuig om dinge op te hou doen, kan selfs nog moeiliker wees.

Hier is ’n paar wenke.

1. Oorweeg belonings In studies is gewys dat die positiewe gevolge van belonings van korte duur is. Belonings kan kinders natuurlik tydelik help en motiveer, maar hulle kan van die belonings afhanklik raak en hul gedrag sal ook ophou wanneer die belonings ophou. Terwyl omkopery vir kort rukkies nie skadelik is nie, bou eksterne belonings nie jou kind se karakter nie en leer dit haar ook nie waardes nie. Wat behoort jy dus te doen? Moedig jou dogtertjie aan om haar te laat lei deur wat haar goed in haar binnekant laat voel, soos die bevrediging van ’n nuwe vaardigheid aanleer of betyds klaar te wees wanneer julle skool toe ry. Dit sal haar op lang termyn meer suksesvol, gelukkig en geïnspireerd maak. Die gevoel van bemeestering kan geweldig motiverend wees.

2. Betekenisvolle gesprekke Een-tot-een-gesprekke met jou ses-jarige is belangrik om jou te help bepaal wat haar intrinsiek motiveer. Kinders is nuuskierige wesens en as jy haar uitnooi om te verstaan waarom sekere dinge sin maak, kan dit dalk haar belangstelling prikkel. Probeer ook begryp waarom sy weier of huiwerig is om sekere take aan te pak. Vermy woorde soos “moet”. Vra ook hoe sy oor sekere take voel terwyl sy dit uitvoer: "Hoe voel dit om so vinnig te kan bad?” Dit kan jou dogtertjie ’n insig in haar eie vaardighede laat ontwikkel. ’n Ander strategie is om empatie te wys en te vra hoe jy kan help.

3. Aanvaar haar tekortkominge Die meeste kinders geniet sekere take as die standaarde vir hoe vinnig of goed dit verrig moet word, ’n bietjie verslap. Fokus liewer daarop dat jou dogtertjie haar tande wel geborsel het, pleks van daarop dat sy nie die wasbak agterna skoongespoel het nie. Gee ook waar moontlik keuses, soos dat sy voor of ná badtyd kan tande borsel. Dit kan jou dogtertjie ’n gevoel van outonomie gee; ’n belangrike komponent van motivering. As jy jou kind probeer beheer kan dit in elk geval tot ’n onnodige magstryd lei, soos dat sy skree: "Jy kan my nie dwing om dit te doen nie", en jy antwoord: "Ja, ek kan!". Onthou – niemand hou daarvan om beheer te word nie, veral nie kinders nie. Laat haar eerder dink dit was haar keuse as dat dit ’n verpligting is.

4. Neem vermoëns in ag Beloning en straf is irrelevant as jou kind nie die vermoë het om te doen wat jy wil hê sy moet nie. As ek soms met ouers werk wat kla dat hul kinders nie huiswerk wil doen nie, wonder ek dikwels of daar nie ’n vaardigheidsleemte of leergestremdheid is wat die kind laat voel dat die taak onmoontlik is nie. Vra dus jou dogtertjie of daar iets is wat haar verhinder om sekere take te voltooi. As jy meer antwoorde nodig het, gesels met haar onderwyser, ’n pediater of ’n sielkundige.

5. Verwoord waardering Gestel jou dogtertjie word wakker wanneer die wekker lui en kry haar self sonder enige hulp vir skool gereed. Maak dan seker dat jy haar laat weet hoeveel jy haar poging waardeer. Voeg sommer op pad skool toe by hoe gelukkig jy is omdat julle nie te gejaag het nie. Onthou, kinders wil hul ouers tevrede stel, en dit kan baie motiverend wees. Prys egter jou kind se poging meer as die gevolg en slegs as jy dit eerlik bedoel.