Dis moeilik om te weet of jy ’n goeie ouer is, want jy het jou goeie dae, en jou slegtes. En wat presies is die maatstaf? Teen wie of wat meet jy jou nou eintlik? Ander pa’s? Is jou grootste mededinger dalk eerder jy self en jóú tekortkominge?

Dis ’n bietjie soos gholf, reken ek. Net omdat jy die reëls breedweg ken, beteken dit nie jy gaan goed speel nie. “Dis ’n proses. Moenie te kwaai met jouself wees nie,” sê die ou wat tans teen betaling iets probeer doen aan my volslae onbeholpenheid met ’n gholfstok.

Jy’t jou goeie dae en jou slegte dae, sê hulle ook. Maar so oor die 18 putjies van pa-wees heen pas jy die reëls breedweg toe – en probeer ’n betaamlike voorgee opbou. Sonder ’n afrigter, sonder dat jy regtig weet wat jy doen of hoe dit gaan uitwerk, tree jy elke dag aan op die eerste bof en probeer weer.

Silence please!

Putjie 1: Liefde vir hul Ma Wel, dis ’n skaflike begin. Om die ding op eie houtjie te doen, is ongetwyfeld baie moeiliker. Maar jou baljoggie ken haar storie. As jy na haar omsien, gee sy jou die gereedskap, raad en steun wat nodig is om die 18 putjies van pa wees met ’n plan aan te pak.

Putjie 2: Etiket Dis die reëls wat jy by jou kinders probeer tuisbring, dalk soos jy dit eens geleer is. Lyk netjies. Hou die wêreld om jou soos jy dit gekry het, of mooier. Respekteer ander mense. Speel regverdig. As jy buite perke beland, aanvaar die strafhou en kry jou ronde terug op koers.

Putjie 3: Geduld ’n Pa se geduld word getoets. Sonder ’n goeie temperament word die uitdaging aansienlik groter. Asem in, asem uit. Moenie oorhaastig wees nie. Beplan rustig. Mik … en swaai deur om te sien hoe jou kinders vlieg.

Putjie 4: Handhaaf dissipline Dis nie maklik nie en nooit lekker nie. Maar jou vermaning vind plaas met ’n doel. Die punt is om uiteindelik ná baie oefening (en ’n bietjie roskam) op te hou om die fout te herhaal. Selfs al weet jy die kinders gaan onvermydelik weer en weer in die ruveld van die lewe beland.

Putjie 5: Laat foute toe Want die kleines weet nie altyd hoekom die reëls is soos dit is tot hulle dit nie op die moeilike manier geleer het nie. Dit het eens met jou ook gebeur. Ervaring: Die begrip van oorsaak en gevolg soos oor jare heen aan eie bas gevoel.

Putjie 6: Wees beskeie Net ná jou eerste voëltjie van die dag is dit maar alte gereeld nag op die volgende gat. As pa’s ken ons die reël: Die oomblik dat jy dit waag om voor ander oor jou selfstandige kleintjie te spog, sal hy jou gou terug aarde toe bring. Murphy is ’n Ierse van. Hulle hou van gholf daar.

Putjie 7: Bly pro-aktief O, die behoefte om die bal net so hard as wat jy kan, sorgeloos, te moker. Maar beplan jy nie die plasing van jou eerste hou nie, is die tweede, derde of vierde dalk moeiliker. Die pa dink dus vooruit, want hy weet waar die vlagstok staan, al kan hy hom nog nie sien nie.

Putjie 8: Waardering As hierdie putjie verby is, sien jy hom nooit weer soos hy nou is nie. Geniet die oomblik. Speel die bal soos hy lê. Jy en jou gesin, hier en nou, so goed as wat jy kan.

Putjie 9: Teenwoordigheid, betrokkenheid Wanneer jy by die halfpadmerk kom en middagete wink, weet jy dit was net moontlik omdat jy in die eerste plek opgedaag het om te speel. Die afwesige pa is die een sonder ’n voorgee. Hoe kan hy pa wees sonder dat hy dit oor en oor, met oorgawe, probeer het?

Putjie 10: Lei deur voorbeeld Om net te praat, gaan immers nie die bal in die gat kry nie. Weet dat kinderoë jou dag vir dag dophou op soek na leiding. Jy speel voor ’n grootoog-skare wat wil sien hoe dit gedoen moet word, want eendag gaan hulle dit self probeer.

Putjie 11: Beteuel jou humeur En dan word dit skielik onhoudbaar moeilik en jy tuimel eensklaps ver oor baansyfer. Maar moenie kop verloor nie. Asem in, asem uit. Woede is jou vyand. Beheersdheid en kalmte is jou vriend, jou nugter kant. Die kant wat kinders bereid is om uit eie keuse te volg.

Putjie 12: Lojaliteit Wanneer die ander ouens hul joggies verjaag omdat hulle sukkel, bly ’n pa by sy gesin staan, ongeag. Sy tuiste is sy plaaslike baan. Hy leer hom ken, hy sorg vir hom. Lojaliteit word wederkerig. Dit word ’n spanpoging, en skielik is jou eie voorgee stukke beter.

Putjie 13: Eerlikheid Want al word dit laat in die dag, wil niemand saam met ’n verneuker speel nie. Selfs wanneer niemand jou sien nie, moet jy opreg wees. ’n Lastige gewete haal die vreugde van verdienstelikheid uit die oorwinning. Eerlikheid word beloon.

Putjie 14: Dankbaarheid Om steeds hier te kan wees, in hierdie spel van kinders grootmaak. Om die groot oomblikke te waardeer – want hulle is so min soos voëltjies, en so kosbaar soos arende.

Putjie 15: Opoffering Klim in die langgras in, gaan swoeg in die sand. Kry jou broekspype vuil. Dis al manier waarop jy die bal weer terug op die setperk kry. Doen wat gedoen moet word, al is dit nóú swaar, al is dit nóú seer.

Putjie 16: Deursettingsvermoë Agttien putjies is ’n lang pad – en ons kan nie almal gholfkarretjies bekostig nie. Waar ander ouens opgee, hou jy – geboë met die sak oor die skouer – eenvoudig aan. Jou kinders kyk vir jou. Probeer weer, probeer harder. Dís ’n pa!

Putjie 17: Finansier die toerusting Daar is inskrywingsgeld te betaal in hierdie lewenskampioenskap, dit weet ons voor ons begin het. Hoe groter jou insette, hoe beter jou toerusting; hoe beter jou prestasie, hoe groter jou loon. Jy is die een wat jou gesin moet toerus om uiteindelik selfversekerd en ongedeerd tot by die laaste putjie te vorder.

Putjie 18: Beskerm Maar al is jou oog op die bal, is dit ook voor jou, agter jou en eintlik oral. Pa’s is paraat, sien die gevaartekens raak en tref die nodige voorsorg. In onweer is hulle die weerligafleiers, ore altyd gespits vir die waarskuwende sirene om almal tog weer onder een dak te kry. Want daar is môre en oormôre ’n nuwe ronde wat begin; baie moontlik moeiliker as vandag s’n. En alles begin dan mos weer heel van voor af op die eerste bof.

Silence please!