Monica du Plessis-Heyns en Eugene kort voor sy ver
Monica du Plessis-Heyns en Eugene kort voor sy verdrinking (hier is hy 2 jaar en 4 maande oud).

Vrydag 1 Maart 2019 was ’n mooi, sonnige dag – die perfekte dag waarop gesinne die laaste somerhitte kon geniet voor die herfs in alle erns sou begin. Dit was ook die dag waarop die Heyns-gesin van Pretoria se lewe vir altyd verander het. 

Monica du Plessis-Heyns (37) het vroeg van die werk af gekom en kon haar seuntjie Eugene (amper 3) vroeër as gewoonlik by die kleuterskool gaan haal. Hy was vreeslik opgewonde om sy mamma so vroeg te sien en kon nie wag om by die huis te kom nie. 

Die ouer seuns, Schalk (12) en Morné (10), was by skoolgeleenthede en die oppasser het na hul jongste seuntjie, Righardt, omgesien. Righardt was toe nog vyf maande oud. 

Die gesin bly op ’n groot hoewe in die ooste van Pretoria en vir hulle is gesinstyd en die buitelewe sinoniem. 

Hulle het die swembadnet afgehaal en Monica en Eugene het lank geswem en gespeel terwyl pa Richard (40) in die tuin doenig was. Eugene het later saam met sy pa gery om hul werkers af te laai en oudergewoonte met ’n pakkie lekkergoed teruggekom. 

Hy het sy pakkie wyngommetjies vir sy ma gewys en trots vertel dat hy nie vir nog lekkergoed in die winkel gevra het nie. 

Die swembad was nog oop, want die gesin wou weer swem. Righardt het geslaap, maar toe Monica hom hoor huil, het sy gou gaan inloer. 

Pa Richard vertel: “Eugene het sy mamma die huis in gevolg en ek onthou hoe hy nog in die deur gestaan het – maar toe ek die sproeiers skuif en terugkom, het ek Eugene onderstebo in die water sien lê. Ek het vir Monica geskree en het dadelik ingespring en Eugene uitgehaal.” 

Richard en Monica het mond-tot-mond-asemhaling toegepas en hartdrukke gedoen, maar geen reaksie gekry nie. Hulle het in hul bakkie gespring en was binne 12 minute by die hospitaal. 

“Ná sowat twee uur het die personeel vir ons gesê dat Eugene oorlede is. Hy kon nie langer as ’n minuut in die water gewees het nie. Richard was nooit meer as 5 m weg van die swembad nie, maar tog was hy dood. Weens die lekkergoed in sy mond en die skrik van die val het hy verstik en verdrink. Ek en Richard was nog in ons swemklere en moes van die hospitaal af sonder ons geliefde seuntjie terugry.” 

Vandag het hierdie gesin net mooi herinneringe aan Eugene en werk hulle onverpoos om bewustheid oor verdrinking te verhoog. 

Monica en Richard is by die Reinhardt Drewel-stigting (RFDSA) betrokke, ’n niewinsgewende organisasie wat op die voorkoming van verdrinking fokus. 

“Mense dink dat kinders lank in die water kan wees en steeds gered kan word, maar dit kan sekondes duur voor hulle verdrink en ’n kind kan in net 6 cm water verdrink,” vertel Monica.

Hulle is passievol daaroor om ’n verskil te maak en is besig om ’n gholfdag te reël vir kinders wat verdrinking oorleef en breinskade het. 

Hulle werk ook saam met die Lewensreddingsvereniging van Suid-Afrika en wil lewensredding as ’n skoolsport vestig. 

“Ons sal baie graag wil hê dat kardio­pulmonêre bybringing deel van die skoolleerplan uitmaak. Verdrinking is die grootste oorsaak van dood by kinders vier jaar en jonger,” sê Monica. 

“Eugene was ’n lewenslustige seuntjie wat mal daaroor was om in die grond te speel. Hy kon weggevoer raak terwyl hy speel en het graag met sy karretjies en trekkers gespeel. Hy was gek oor dinosourusse en ons moes oor en oor na sy gunstelingfliek oor dinosourusse kyk. Hy was ’n ongelooflike kind, het op nege maande al geloop en op ’n jaar oud al 10 tande gehad. Hy was mal oor lekkergoed. Hy het ’n sagte hartjie gehad. Ek onthou nog hoe ek op ’n dag moedeloos was en ’n traan weggepink het. Hy het op my skoot kom sit en gevra: ‘Mamma, het ’n T-Rex jou gebyt?’ 

“Ons lewe het ongelooflik verander nadat Eugene dood is. Die leemte in die huis en in ons hart is tasbaar sonder sy grappies, glimlag en sêgoed. 

“Al wat ons deur elke dag dra, is God en die hoop en geloof dat ons met ons kind in die hemel herenig sal word. 

“Ek praat ook met ander ma’s wie se kinders verdrink het – en daar is baie. Ons bemoedig en bid vir mekaar, want dis net ons wat verstaan waardeur ons leef.” 

Monica en Richard se boodskap is dat ouers elke oomblik saam met hul kinders moet koester, want alles wat jy “ken en droom, kan in ’n oogwink verander”.

“Dit duur regtig net ’n oomblik, ’n minuut, en dan is jou kosbare kind nie meer daar nie. Moenie kinders lekkergoed naby of in water gee nie. Hulle skrik dalk net of die lekker beland in die verkeerde gaatjie. Dit kan fataal wees.” 

HET JY GEWEET?

Sowat 600 kinders verdrink elke jaar in Suid-­Afrika.


Claudette Ainslie en Miané (5), wat serebraal gest
Claudette Ainslie en Miané (5), wat serebraal gestrem is nadat sy in ‘n opblaasswembad beland het.

Oorleef – maar met komplikasies

Miané Ainslie (5) is serebraal gestrem, maar eens op ’n tyd was sy ’n gesonde blinkoogdogter­tjie. Haar en haar ma, Claudette, se lewe het op 9 November 2015 ingrypend verander. 

“Miané was 19 maande oud en haar ouma in Witbank het haar opgepas. Sy het wasgoed opgehang en Miané het by haar gespeel,” vertel Claudette.

“Ouma se bedlêende man het haar geroep en sy het na die kamervenster gegaan om met hom te praat. Sy het daarna die laaste wasgoed opgehang en Miané geroep. 

“Dis toe dat sy haar in die opblaas­swembad sien dryf het. Sy het haar skreeuend uitgehaal. ’n Buurman het haar gehoor en gaan help. 

“Hy het mond-tot-mond-asemhaling toegepas terwyl hulle vir die ambulans gewag het en hulle het lank by die hospitaal gespook om ’n hartklop te kry.” 

Miané het om haar lewe geveg in die neonatale waakeenheid. Sy het oorleef, maar het breinskade opgedoen. Daar is nie hoop op verbetering nie, maar haar ma bid steeds vir wonderwerke. 

“Dis nie maklik as ’n enkelma nie, maar ek probeer Miané help met intensiewe terapie sodat sy weer ’n normale lewe kan lei. Nuwe breinpaadjies word herbou, sy kry chiropraktisynsessies, spraakterapie, sensoriese speelklasse en arbeids-, fisio- en hidroterapie,” sê Claudette.

HET JY GEWEET?

Verdrinking is die derde algemeenste oorsaak van dood en besering by jong kinders. Meer as 372 000 mense verdrink jaarliks oor die wêreld heen.


Vir elke kind wat verdrink, word 5 tot 10 kinders in die hospitaal opgeneem as gevolg van nie-fatale verdrinking.



Swembadveilig

Waterveiligheid is die belangrikste aspek van swem, sê Mimette Salter, eienaar van Royal Swimming Academy op George in die Suid-Kaap. 

Verdrinking is die hoofbeseringsverwante dood by kinders van een tot vier jaar oud.

“Gelukkig is daar voorsorgmaatreëls wat ouers kan tref om die gevaar van verdrinking te verminder. Waterbronne wat nie omhein is nie (al is dit hoe vlak) moet as gevaarlik beskou word. As peuters in of naby die water is, moet daar permanente toesig wees,” sê Mimette. 

“Die meeste verdrinkings van jong kinders vind plaas by hul ouerhuis of in die swembad van vriende of familie. Dis dus baie belangrik om hierdie swem­baddens te beveilig. Begin deur ’n heining reg rondom die swembad te span en ’n hekkie aan te bring wat kinderbestand is. 

“Die heining moet minstens 1,5 m hoog wees en van so ’n aard dat ’n kind nie daaroor kan klim nie. Oorweeg miskien vertikale latte wat nie wyer as 10 cm van mekaar af is nie en wat ook aan die onderkant van die heining is sodat ’n kleuter nie daaronder of -deur kan klim nie. 

“Dit is ook ’n goeie idee om veiligheidshulpmiddels in en om die swembad aan te bring. Moet nooit in die water spring om iemand te help as jy nie self kan swem nie. As speelgoed in die swembad gelaat word, kan dit ook jong kinders aanmoedig om dit in die hande te probeer kry. Pak dus speelgoed weg nadat julle geswem het.”

HET JY GEWEET?

Die Nasionale Bouregulasies vereis dat die eienaar van ’n terrein met ’n swembad toegang tot die swembad beheer. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Buro van Standaarde bepaal dat ’n swembad ommuur of omhein moet wees. 


Kuiers om die water

“Desember is die tyd van groot kuiers. As ’n paar gesinne om die water saamtrek, kan julle gerus iemand as wateropsigter aanstel,” is Mimette se raad.

“Hy of sy kan die kinders dophou en gereeld deur ander volwassenes afgelos word. Die wateropsigter moenie alkohol drink of op sy selfoon besig wees nie.”

Mimette sê kinders huil of skree nie altyd as hulle in die water val nie en daarom moet hulle die heeltyd onder oë wees. In en om die huis moet jy seker maak dat houers of emmers leeggemaak word nadat dit gebruik is. 

“Toiletdeure kan ook gesluit word as daar peuters in ’n huis is. Moet nooit kleintjies alleen ’n bad los nie, selfs al is dit in ’n badstoeltjie. 

“Ouer boeties of sussies moet ook nie in beheer gelaat word as daar ’n baba in die bad is nie.”

Mimette raai ouers aan om hul peuter so vroeg moontlik te leer swem.

“Swemlesse beskerm ’n kind nie noodwendig teen verdrinking nie, maar dit gee jou kind ’n beter kans as hy per abuis in die water beland. Kies ’n swemskool wat deur Swem Suid-Afrika geakkrediteer is.” 

HET JY GEWEET?

Jou swembad moet ’n hek of deur hê wat gesluit kan word om toesig te beheer. 

Ekstra beskerming soos swembadnette en waarskuwings­toestelle kan ook gebruik word as dit aan die SA Nasionale Buro van Standaarde se vereistes voldoen. 


Sorgeloos by die strand 

Mzi Mayedwa, direkteur van verdrinkingsvoorkoming by Lifesaving South Africa, deel die volgende wenke: 

  • Dit is altyd belangrik om ’n strand te kies waar lewensredders teenwoordig is. 
  • Swem net tussen die rooi en geel vlae. Wees bewus van wat al die strand­vlaggies beteken.
  • Moenie alleen swem nie. 
  • Die veiligheid van ’n kind bly die verantwoordelikheid van sy ouers en daarom moet kinders die heeltyd onder hul ouers se toesig wees. 
  • Lees meer oor die strand wat julle besoek en vind meer uit oor die gevare van sleurstrome. 
  • Meld enige verdagte aktiwiteite by die lewensredders aan.

Nog waterwyse wenke

  • ’n Volwassene moet altyd binne ’n armlengte van kinders of peuters in die water af wees. 
  • Moenie op jou selfoon fokus terwyl jy by die swembad is nie. ’n Ongeluk gebeur baie vinnig. 
  • Moenie jou kind se swemvermoë oorskat nie. 
  • Moenie jou kind toelaat om met ’n skopfietsie om die swembad te ry nie. 
  • Moenie dat kinders duik as die swembad nie diep genoeg is nie. 
  • ’n Mens kry deesdae geoutomatiseerde swembadbedekkings. Dit moet egter van so aard wees dat ’n kind glad nie daaronder kan ingly nie. 
  • Tegnologie is vandag beskikbaar wat kan help, soos ’n swembadalarm.

As jy op jou kind in die swembad afkom . . .

  • Haal die kind dadelik uit die water. Kry hulp as jy nie kan swem nie. 
  • Laat iemand die ambulans bel. 
  • As jou kind nie asemhaal nie, plaas hom op sy rug op ’n ferm oppervlak. Begin met mond-tot-mond-asemhaling. 
  • Kyk of sy lugweg oop is: Druk sy kop saggies terug met een hand en lig sy ken met jou ander hand. Plaas jou oor teen sy mond en neus en luister of daar tekens van asemhaling is. 
  • Kinders onder een wat nie asemhaal nie: Plaas jou mond oor sy neus en lippe en blaas twee keer. Elke ”blaas” moet sowat ’n sekonde duur. Kyk dan of sy bors beweeg.
  • Kinders van een jaar en ouer wat nie asemhaal nie: Seël jou lippe oor die mond en druk die neusie toe. Blaas twee keer stadig en vol in vir een tot twee sekondes. Wag vir die bors om te beweeg voor jy die tweede keer blaas. Hou aan as daar geen beweging is nie en voel die pols. 
  • Voer kardiopulmonêre bybringing uit met kompressies op die bors. 
  • As jy dink dat jou kind ’n nekbesering opgedoen het, moet hy op sy rug bly. Stut sy nek en skouers met jou hande en voorarms om te keer dat sy nek beweeg.
HET JY GEWEET?

’n Kind kan binne 30 sekondes verdrink en 6 cm water is al wat nodig is om ’n jong kind te laat verdrink.