Ouers het ’n groot verantwoordelikheid om hulleself dop te hou, glo Willemien Viljoen van Forest Town in Johannesburg, ma van vyf besige bytjies tussen twee en 14 jaar oud.

“En dis ’n goeie ding! As ons weet klein ogies hou ons dop, raak ons nie laks oor die uitlewing van ons waardes nie. Huisgesinne leef nader aan mekaar as wat hulle besef – niks gaan ongesiens verby nie.”

Hierdie wete behoort ons aan te spoor om ons beste self – ware rolmodelle – voor ons kinders te wees.

Willemien vertel watter rolmodel haar pa vir hulle vyf boeties en sussies was. “My pa het baie hard gewerk om twee meestersgrade en ’n doktoraal te voltooi. Ons kinders het nie juis geweet wat dit beteken nie, behalwe dat my pa homself kwalik geneem het dat hy te min by die huis was.

“Ons het dit nie so beleef nie, want daar was genoeg tyd om saam met hom in die tuin te werk, perskes in te lê, vleis te gaan verwerk in die Vrystaat, soggens om die blok te draf, naweke te gaan kamp. My pa was óf by die werk óf by ons. Hy het nie ander stokperdjies gehad nie. Ons was vir hom belangrik.

“Ek het eers as student besef watter aansien hy in sy beroep geniet het. Sy studente het baie respek vir ho gehad, hy was departementshoof, voorsitter van die Veterinêre Raad, en sy kollegas het steeds ’n hoë dunk van hom.

“Maar nooit het sy prestasies hom as mens verhoog bo die mense om hom nie. Hy is een van die nederigste mense wat ek ken. Iets wat my denkpatrone vir altyd verander het, was toe my pa in die jare tagtig, terwyl apartheid hoog gebrand het, ’n swart sekuriteitswag as ‘meneer’ aangespreek het.

Hy was gerespekteer omdat hy respek vir ander mense gehad het. Die manier waarop my pa met mense omgegaan het, ongeag hul status in die samelewing, het my siening van my en ander vir altyd gevorm.”

Kragtige ouerskapgereedskap

Soos in die geval van Willemien se pa, stel ouers se voorbeeld kinders bloot aan die moontlikhede wat hulle in die lewe kan nastreef, sê die Dullstroomse sielkundige Karin Steyn. Kinders leer so spontaan in die ouerhuis wie hulle is en eendag kan wees, wie ander mense is en hoe die wêreld werk.

Lizette Erasmus beaam: “As jy wil hê jou kind moet sekere dinge doen, moet jy seker maak dat jy self aan daardie verwagtinge voldoen,” sê dié sielkundige van Pretoria.

Ouers moet bewus wees dat kinders deur hul voorbeeld van dink en doen, leer. Karin stel die “geen spyt”-plan voor: Vra jou af watter soort mens jy wil hê jou kind eendag moet wees, en wat jy vandag kan doen om jou kinders te inspireer om dit te bereik. Vra jou nou al af waaroor jy eendag sal spyt wees as jy na jou huidige ouerskap kyk, sodat jy jou nie oor 10 of 20 jaar hoef te verwyt nie.

Karin waarsku: Ouers se gedrag is dikwels ook die toestemming wat kinders nodig het om te weet wat hulle mag doen, of dit nou reg of verkeerd is. Dit sluit in rook en maniere om geskille te hanteer.

“As jy in jou ouerhuis leer om deure te klap en mekaar nare dinge toe te snou, sal dit vir jou aanvaarbare gedrag wees. In ’n huis waar enige uitdrukking van emosie ongewens is en afgekeur word, sal kinders leer om geslote en na binne toe te leef.”

Lizette sê ook: “As jy slordig is, sal jou kind verseker nie netjies wees nie!” ’n Pa wat met sy kinders raas omdat hulle nie hul speelgoed optel nie, kan nie sy eie wasgoed of skoene laat rondlê en verwag dat die kinders dit nie gaan raaksien nie.

Die teenpool is natuurlik ook waar: “Jou kind leer wat dit beteken om ordentlik te bestuur deur te sien hoe jy dag ná dag die padreëls nakom en hoflik teenoor ander bestuurders is. Jy hoef nie vir jou kind ’n direkte bestuursles te gee nie – herhaalde voorbeeld is genoeg,” sê Karin.

Onthou dat jou eie geesdrif en geloof oordraagbaar is. As jy passievol oor enigiets van mense, geregtigheid, musiek, die natuur of sport tot jou loopbaan voel, sal dit niemand verbaas as jou kinders ook jou waardes en belangstellings deel en navolg nie.

Wanneer 'n rolmodel ontbreek

Ouers sal altyd modelle vir die gedrag van hulle kinders wees, al is dit nie noodwendig positiewe rolmodelle nie. Die afwesigheid van goeie rolmodelle kan baie skade aanrig en kinders se potensiaal inperk deur hulle ongewenste gedragsen lewenspatrone te leer.

“Kinders kan leer dat dit aanvaarbaar is as pa vir ma slaan, en sal dalk eendag ook dié gedrag as toestemming gebruik om geweld in hul eie verhoudings te gebruik.

“Meisies wat in die familie seksueel of emosioneel mishandel word, sal dalk eendag ook mans aantrek wat hulle siek of emosioneel mishandel omdat hulle verwag dat dit deel van die lewe uitmaak. Vir hulle is dit maar net hoe die wêreld werk,” sê Karin.

Hierdie kinders word nie blootgestel aan opbouende alternatiewe nie. Dis belangrik om te onthou dat ons vroeë lewenservarings, wat in die eerste sewe jaar van ons lewe vasgelê word, die draaiboek word waarop ons die res van ons lewe baseer.

“Ouers het ’n groot aandeel aan die “programmering” van hul kinders se outomatiese gedrag en denke – daardie gedrag waarop hulle gaan terugval in enige onbekende situasie.

Lizette wys daarop dat ’n rolmodel siek kan ontbreek as gevolg van egskeiding of die voortydige dood van ’n huweliksmaat.

“Enkelouers kan hul kinders baie suksesvol alleen grootmaak, al is daar baie uitdagings. Ouer ondersteuningsgroepe en kerkgroepe kan vir sulke ouers van onskatbare waarde wees.”

Ondersoek jouself

Hoe maak ’n mens seker jy en jou man is goeie rolmodelle sonder om soms voor te gee? Hoe behou jy jou integriteit en opregtheid, al is sekere optredes wat jy vir jou kinders wil leer, vir jou self baie moeilik?

Willemien meen jy kan dit nie volhou as jy nie self heeltemal daaraan toegewy is om die haakplekke in jou eie persoonlikheid reg te stel nie.

“As jou strategie is om dit weg te steek, gaan jy misluk. Wees eerlik met jou gesin oor jou worstelinge en vra om verskoning, baie kere. Die erkenning van en belydenis oor waar jy misluk het, het ’n groter impak as die kere wat jy dit reg gedoen het.”

Die gesin moet ’n veilige plek wees waar ons vergifnis ontvang en gee, sê Willemien. “Dit kweek kinders met moed om hulleself te vorm, nie noodwendig na die ouer nie, maar na iemand meer volmaak.” Om hierdie rede is Lizette ten gunste van wat sy noem “bewuste ouerskap”.

“Elke ouer kan baat by ’n besoek aan ’n sielkundige om hul unieke ouerskapsprofiel te bepaal. So word jy bewus van dit wat vir jou natuurlik gaan wees en dit waarop jy moet fokus om jou kind aan ’n gebalanseerde ouerskapstyl bloot te stel.”

Dis nie genoeg dat ouers net vir hulle kinders sê wat om te doen nie – hul dade moet ook daarvan getuig, sê Karin. Dit wat jy dink, sê, glo en doen moet ooreenstem.

Verbale kommunikasie maak die kleinste deel van die kommunikasie met jou kind uit (net 7 persent). Van veel groter waarde is jou nieverbale kommunikasie soos liggaamshouding en oogkontak (55 persent) en stemtoon (35 persent).