Eet vette en word slim

akkreditasie
Als wat jy moet weet oor die omega vetsure, poli-onversadigde vette, mono-onversadigde vetsure, versadigde vette en aanvullings.

Daar is ’n klompie baie belangrike vette waarsonder jou kind nie na behore kan funksioneer nie en al klink dit dalk vergesog, kan dié vette selfs ’n invloed op sy intelligensie hê.

Ja, die brein en liggaam maak staat op omega 3- en omega 6-vetsure om behoorlik te kan werk. En omdat ons liggaam dié vette nie self kan vervaardig nie, moet jou kind dit deur sy kos en aanvullings inkry. So nie loop hy die gevaar om onnodig sleg te vaar op skool.

Die laaste paar dekades is ons gebreinspoel om te glo dat alle vette sleg is en vermy moet word. Ons het die vet leuen geglo dat alle vet vet maak en ons hart aantas. En tog is dit baie ver van die waarheid.

In sy boek Optimum Nutrition for your Child’s Mind kan die voedingkundige Patrick Holford byna nie genoeg beklemtoon hoe belangrik die essensiële vetsure (omega 3 en omega 6) is nie.

Waarom omegas?

“As jy water uitsluit, bestaan ’n derde van jou brein uit omega 3’s. Omdat ’n kind besig is om te groei, is ’n goeie voorraad essensiële vette dus nodig om ’n gesonde brein te help bou.”

As die voorraad essensiële vette te min is, beteken dit dat amper niks in jou kind se lyfie goed gaan werk nie. Behalwe dat ’n mens se brein nie goed daarsonder werk nie, tas ’n tekort jou geheue aan, jou hormone raak deurmekaar, jou vel droog uit en daar word onnodig baie spanning op jou hart en are geplaas.

“Omega 3- en omega 6-vetsure help kinders ook om fisiek gesond te bly,” sê Patrick. “Dit verminder die gevaar van allergieë, asma, ekseem en infeksie en boonop bevorder dit geestelike gesondheid. ’n Tekort aan dié vette kan depressie, disleksie, aandaggebreksindroom, simptome van outisme, moegheid, geheueverlies en gedragsprobleme tot gevolg hê.”

Só werk die omegas

Om te verstaan wat die omega-vette presies vir die brein beteken, moet ’n mens eers verstaan hoe die brein eintlik werk.

Intelligensie is as’t ware die verbinding van triljoene senuweeselle of neurone in die brein. Hierdie senuweeselle ontvang onophoudelik inligting van jou sintuigorgane in die vorm van gesproke of geskrewe woorde, prente, beweging, reuke, ensovoorts.

Om ’n boodskap te kan interpreteer, moet die boodskap van een senusel na ’n ander gelei word. Boodskappe verlaat die senusel met die hulp van ’n senuvesel, en om baie van dié senuvesels is ’n vetlagie waarin omega-vette aangetref word. Daar moet dus genoeg van dié vette in die brein voorkom sodat dit na behore kan werk.

Onthou egter, daar is goeie en slegte vette en dis baie belangrik om die vette nie met mekaar te verwar nie. Die goeie vette is die onversadigde vette, terwyl die versadigde vette sleg vir ons gesondheid is. Onversadigde vette word verdeel in mono-onversadigdes en poli-onversadigdes, en die omega 3- en 6-vetsure val in die poli-onversadigde groep. Die meeste mense wat ’n standaard- Westerse dieet volg, eet te veel slegte vette en heeltemal te min onversadigde vette.

Poli-onversadigde vette

Poli-onversadigde vette bestaan uit die twee families essensiële vetsure: omega 6 (of linoleïensuur) en omega 3 (of linoleensuur). Hierdie vetsure moet deur jou kos voorsien word, want die liggaam vervaardig dit nie self nie. Dit is noodsaaklik vir breinfunksie sowel as bloedsomloop, sig, waterbalans en ’n gesonde immuunstelsel.

Bronne van omega 3-vetsure

’n Goeie voedselbron van omega 3-vetsure is olierige vis soos sardientjies, salm, makriel en haring, asook okkerneute en raapsaadolie (canola-olie). Tuna bevat ook omega 3’s, maar dit moet eerder vars geëet word as geblik.

Een van die beste bronne van omega 3 is lynsaadolie. Hennep-olie en pampoenpitte is ook ryk bronne.

Probeer sowat 3 keer ’n week vir jou kind vis gee om sy omega 3-vlak gesond te hou. Omega 3-verrykte eiers is ook ’n goeie bron.

Omega 3-vetsure is veral nodig vir vroeë ontwikkeling van die brein en retina van die oog. Dit verminder ontsteking en bloedklontvorming.

Bronne van omega 6-vetsure

Van al die weefsels in die liggaam bevat die brein die grootste hoeveelheid omega 6-vetsure.
Die gewildste omega-6-vetsuur heet gamma-linoleensuur (GLS). Ons liggaam maak dit deur linoleïensuur in gamma-linoleensuur om te skakel. Dit kom ook voor in onder meer moedersmelk en aandblomolie.

Dit wil voorkom asof GLS met sekere leerprobleme kan help.

’n Goeie voedselbron van die omega 6-vetsure is groenteolies, veral mielie-, saffloer-, sonneblom-, sesam-, okkerneut- en soja-olies.

Hierdie vetsure is veral nodig vir gesonde groei en ontwikkeling en ’n tekort kan groei en die werking van die immuunstelsel belemmer. Dit lei ook tot velkwale en bloedklonte.

Mono-onversadigde vetsure

Mono-onversadigde vette staan ook bekend as die omega 9-vetsure en word ook as goeie vette beskou omdat hulle geen negatiewe uitwerking op die gesondheid het nie en blykbaar hartgesondheid bevorder. Olyfolie, wat 80 persent uit linoleïensuur bestaan, is boaan die lys van mono-onversadigde vette. Die beste olyfolie wat smaak en voedingswaarde betref, is koudgeparste, ongeraffineerde olie uit ’n enkele bron.

Versadigde vette

Dis dié vette wat eintlik die booswigte is en wat vermy moet word sover dit kan. Dit sluit in die diervette (botter, kaas, room, vetterige vleisprodukte, verwerkte vleis) asook palm- en klapperolie (wat in baie gekoopte koekies en beskuitjies voorkom). ‘n Selfs gevaarliker nefie van versadigde vette is transvette, wat in veral harde margarien en kookvette voorkom. (Sommige sagte margariens se transvette is in die vervaardigingsproses verwyder.)

Dit is nie nodig in die dieet nie, want die liggaam kan dit self maak, maar mense eet dit graag omdat dit kos smaak gee. Te veel versadigde vet kan lei tot vetsug, hartsiektes en kanker.

Is ’n aanvulling nodig?

As jou kind nie drie keer ’n week olierige vis eet nie en ook nie daagliks ’n porsie van die bogenoemde sade inkry nie, behoort jy vir hom ’n aanvulling van essensiële vetsure te gee. Daar is hope produkte op die mark beskikbaar, maar kyk uit vir iets wat GLA (omega 6), DHA en EPA (wat die belangrikste omega 3-vette is) bevat.

Die belangrikste vetsuur vir ontwikkeling is omega 3-vette en daar is verskeie vorme spesiaal vir kinders beskikbaar, van pastas en drankies tot klein kapsules.

Lees op die etiket wat die regte hoeveelheid vir jou kind se ouderdom is.

Volgens Amanda Weber, ’n dieetkundige van Greenside in Johannesburg, kan jy vir ’n bottelbaba van ses maande af al omega 6- en omega 3-aanvullings gee – ’n lynsaad-aanvulling is ideaal.

“Borsbabas kry dié essensiële vette deur borsmelk in, mits die ma voldoende olies inneem. Vir bottelbabas kan jy sommer met ’n spuitnaald vlassaadolie uit ’n kapsule trek en in hul mondjie spuit. En terloops, seuns het meer omega 3-olies as meisies nodig,” sê Amanda.

Gesond sonder aanvullers

As jy die natuurlike roete wil volg met sade en vis, kan jy gelyke dele sesam-, sonneblom- en pampoensade by drie gelyke dele lynsaad voeg in ’n lugdigte houer. Hou dit in die yskas, weg van lig, hitte en suurstof. Maak dié sade almal saam fyn en strooi ’n opgehoopte eetlepel elke oggend oor jou kind se ontbyt.

Daarby kan jy drie maal ’n week vir hom 100 g olierige vis gee (dit is min of meer die grootte van ’n blikkie sardientjies of ’n makrielfilet).

Saadolies soos vloeibare lynsaadolie is vrylik te kry by groot apteke en gesondheidswinkels en kan oor slaaie en ander koue of warm kosse gevoeg word. (Moet dit egter nie verhit nie, dan verdwyn die gesondheidseienskappe.) Koop ’n olie wat gelyke hoeveelhede omega 3- en omega 6-vette bevat, koudgepars is, verkieslik organies is en verkoel is voor jy dit koop.

Sommige kinders sal ’n lepel hiervan sommer skoon afsluk.

Hennepsaadolie is ook nie ’n slegte plaasvervanger nie.

Vir swanger en borsvoedende ma’s

Swanger vroue en dié wat borsvoed moet ekstra omega 3- en 6-vette inneem.

Die bekende Amerikaanse pediater William Sears, medeskrywer van The Baby Book, sê dat ma’s wat genoeg van dié essensiële vetsure ingeneem het, se babas oor die algemeen gesonder én slimmer is.

Hy beveel ’n gram omega 3-olie per dag aan (1 000 mg) en dit is rofweg die hoeveelheid wat jy van enige van die volgende sal kry:

  • 2 teelepels okkerneutolie
  • 2,5 teelepels canola-olie
  • 1/3 teelepel vlassaad-olie
  • 500g haring
  • ’n porsie salm (so groot soos ’n pakkie speelkaarte)
  • ’n blikkie tuna
  • ’n hand vol okkerneute

Twee omega 3-verrykte eiers bevat die helfte van die hoeveelheid noodsaaklike vette wat jy nodig het.

Vinnige vetfeite

Martie de Wet, ’n dieetkundige van Johannesburg, deel die volgende vetfeite:

  • Essensiële vetsure verbeter die gemoed, intelligensie en gedrag, en is ook belangrike boustene van die senustelsel.
  • Dit verhoog energie en stamina, help spiere bou, keer die afbreek van spiere en help jou lyf herstel ná oefening.
  • Dit verbeter die immuunstelsel, verlaag die risiko van hartsiektes en is ’n natuurlike bloedverdunner.
  • Dit versnel genesing en is noodsaaklik vir selgroei en -verdeling.
  • Dit verbeter spysvertering en verlig hardlywigheid.
  • Dit help om bene sterk te hou, beskerm genetiese materiaal en verlaag infeksie.
  • Dit verlig premenstruele spanning en bevorder ’n mooi vel, hare en naels.
  • Die waarde van omega-vetsure is ontdek toe navorsers in 1977 besef het die Inuit (Eskimo’s) eet baie vetterige vis maar ly nie eintlik aan hartsiektes, artritis en asma nie.
  • Parmalat se langlewe-melk is volgens Martie die enigste omega-verrykte melk wat op die mark beskikbaar is.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees