Hewig hardlywig

akkreditasie
My 16 maande oue dogtertjie is kwaai hardlywig. Soms gaan tot vier dae verby voor sy ’n stoelgang het en dan is dit baie seer. Soms kry sy ’n anale skeur as gevolg hiervan. Sy sweet, lig haar linkervoet en skree van die pyn wanneer haar maag wil werk. Ek het ál die raad in die boeke op my rak probeer, maar niks lyk na ’n permanente oplossing nie. Op die oomblik kry sy twee tot drie bottels 250 ml Nan Pelargon-formulemelk per dag. Sy is ’n kieskeurige eter en ek weet nie of dit iets is wat ek haar voer wat haar so hardlywig maak nie. Sy drink elke dag omtrent vier bottels water met bruinsuiker in, sy eet Cerelac en ek gee haar ook vrugtesap, Milo en rooibostee. Ek gee haar ook soms lakseerstropies en sy kry vyf druppels probiotikum elke dag. Sy kry nou ook 5 ml kasterolie een keer per week, wat net help op die dag wat sy dit inkry. Haar pediater het al ’n operasie voorgestel, maar gesê dat dit die laaste opsie behoort te wees want babas ontgroei gewoonlik hul hardlywigheid. Sy het aambeie ontwikkel wat ek met boudroom behandel. Sal sy oor haar hardlywigheid kom of moet ek die operasie oorweeg? Is daar enigiets anders wat ek vir haar kan doen?

Dr. Simon Strachan (pediater) antwoord:

Die mate van hardlywigheid wat al ’n anale skeur en aambeie veroorsaak het en nie op verskillende behandelings reageer nie, is kommerwekkend.

Die belangrikste dinge wat ek kan uitlig is:

  • ’n Goeie dieet is absoluut noodsaaklik vir normale stoelgange en jy moet werklik baie hard probeer om jou dogter sover te kry om ’n gesonde, gebalanseerde dieet te eet. Op 16 maande kan sy enige ding eet. Ek sou die formulemelk staak en haar na koeimelk laat oorskakel (300 ml per dag). Moedig haar aan om kosse te eet wat normaalweg ’n mens se maag laat werk, soos vrugte en groente. Staak alle babapap en gebottelde vaste kos onmiddellik. Sy gaan die eerste paar dae rebelleer en moontlik baie hardkoppig wees, maar vir haar eie beswil moet jy hierdie geveg wen.
  • Rooibostee en probiotika op sigself help glad nie vir hardlywigheid nie. Dis die volume vloeistof eerder as die soort vloeistof wat hardlywigheid teenwerk.
  • Die lakseerstrope wat laktulose bevat moetin groot dosisse gegee word (3 ml per kilogram
    liggaamsgewig) as ’n enkeldosis elke dag. As dit werk, sal jy hierdie dosis daagliks minstens drie maande lank moet herhaal om seker te maak dat die stoelgang elke dag baie sag is sodat die anus gesond kan word en sodat sy oor haar vrees vir ’n stoelgang kan kom.
  • As niks anders werk nie, sal die operasie nodig wees om die anus te strek en om die letselweefsel te verwyder. Ná die operasie sal die dosis lakseermiddel en dieetmaatreëls selfs strenger toegepas moet word, want ’n operasie is nie die oplossing nie en as die stoelgang nie sag genoeg is om uit te druk nie, sal die probleem weer voorkom en die operasie sal ’n mors van tyd wees.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees