Lees jy die ADT (aanbevole dieettoelaag) op kosverpakking?

akkreditasie
Twee dieetkundiges vertel wat die aanbevole dieettoelaag (ADT)-waardes van voedsel vir jou kan beteken.

Die Aanbevole Dieettoelaag is g’n foefie van voedselvervaardigers om hul produkte verkoop te kry nie. Dié stel waardes, wat in Afrikaans as ADT afgekort word en in Engels as RDA (vir Recommended Dietary Allowance), bepaal hoeveel van ’n sekere voedingstof genoeg is om aan jou behoeftes te voldoen en is al sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog in gebruik.

Dis veral ’n belangrike hulpmiddel vir dieetkundiges. Die eerste stel ADT’s is in 1943 deur die Food and Nutrition Board van die Amerikaanse Medisyne-instituut bekendgestel.

Die oorspronklike doelwit was om standaarde te stel wat voedingsgebreke kon voorkom, veral in die vroeë 1940’s toe kos skaars was weens die oorlog, sê Mariza van Zyl, ’n dieetkundige verbonde aan die Beter Eet-voedselkonsultasiegroep in die Paarl.

“Die doelwit van die standaarde het mettertyd verander om optimale gesondheid te verseker en die risiko vir siekte as gevolg van gebrekkige voedingstofinname te verlaag", sê sy.

Soos die meeste ander lande gebruik Suid-Afrika ook ADT-waardes wat in Amerika bepaal is. Sommige lande soos Australië het hul eie verwysingswaardes. Hier is ’n paar feite oor ADT-waardes:

Dit neem geslag, ouderdom en lewensiklus- verskille in ag. Die ADT-waardes vir die hoeveelheid vitamien C wat ’n 30-jarige vrou nodig het verskil van dié wat ’n 30-jarige man nodig het, asook van dié van ’n sewejarige kind.

Wat kinders betref is die waardes van geboorte tot agt jaar oud dieselfde vir dogtertjies en seuntjies. Dit is eers van nege jaar af dat daar onderskeid getref word tussen hoeveel meisies en seuns van ’n sekere soort vitamien of mineraal nodig het.

Nie alle voedingstowwe het ’n ADT nie. Dis omdat daar nie altyd genoeg inligting is om ’n hierdie waardes te bepaal nie. Vitamien D, vitamien K, vitamien B5, fluoried, kalium, natrium, vesel en vet is van hierdie voedingstowwe.

Die uitbreiding van verwysingswaardes

Om voorsiening te maak vir ’n gebrek aan die ADT van sekere voedingstowwe en om die stel verwysingswaardes verder uit te brei, is ’n nuwe groep verwysingswaardes, saam bekend as die Dietary Reference Intakes (DRIs), in 1994 ontwikkel. Hierdie waardes sluit onder meer Adequate Intake (AI) in en is gebaseer op waarnemings of skattings van voedingstofinname deur ’n groep gesonde mense.

AI word slegs ingespan wanneer daar nie genoeg navorsing is om die ADT van die voedingstof te bepaal nie. “Alle waardes vir babas van geboorte tot 12 maande is AI en nie ADT nie, sê Charlene Goosen, ’n dieetkundige by Nicus, die Universiteit van Stellenbosch se voedingsinligtingsentrum. Een van die ander nuwe waardes is Tolerable Upper Intake Level (UL). Dit is die hoogste gemiddelde daaglikse vlak van voedingsstofinname wat waarskynlik geen risiko vir jou of jou kind inhou nie.

Charlene sê dié waarde behoort só vertolk te word: Namate jy meer van ’n sekere vitamien of mineraal bo sy UL inneem, neem die risiko vir ’n nadelige uitwerking ook toe.

’n Ander metode is vir elke voedingstof gebruik, om te bepaal hoeveel genoeg is om te voorkom dat jy of jou kinders daaraan tekort skiet. Hoeveel koolhidrate jy, jou man of jou kinders nodig, het is byvoorbeeld bepaal op grond van die gemiddelde hoeveelheid glukose wat die menslike brein daagliks
gebruik. Die rede? Ons brein is die enigste orgaan wat werklik afhanklik is van koolhidrate.

Hoeveel vitamien C gesonde mense nodig het, is weer vasgestel volgens die hoeveelheid van dié vitamien wat jy nodig het om skeurbuik te voorkom.

Te min of te veel?

Sommige gesondheidskenners beweer dat die ADT‘s net-net genoeg is en nie eintlik voldoende is vir optimale groei en ontwikkeling nie.

Is dit waar?

Nie noodwendig nie, sê Charlene. “Die ADT is ’n minimum behoefte van gesonde mense om basiese liggaamlike funksies te ondersteun en om ‘n tekort te voorkom.” Dié riglyn beteken dus nie dat ons nie meer as die ADT mag inneem nie. Kinders wat ’n gebalanseerde dieet vol verskeidenheid volg, neem heelwat meer in as die minimum vereiste, veral ten opsigte van koolhidrate, proteïene en vette, reken Charlene.

As jy dan meer kan gee as die ADT wat vir jou kind se ouderdomsgroep bepaal is, hoe weet jy as jou kind te veel van ’n sekere vitamien of mineraal inkry? Dit is hier waar die UL-waardes as riglyn gebruik kan word, veral tydens keuse van aanvullings, sê Charlene.

“Maar, die kos wat ons eet oorskry gewoonlik nie die UL nie tensy ’n baie groot hoeveelheid van slegs een produk ingeneem word. Selfs dan sal dit vir ’n taamlike tydperk moet geskied voor newe-effekte volg.”

Wat moet jy weet oor ADT’s?

Ma’s hoef besis nie ingestel te wees op hoeveel mikro- of milligram van elke voedingstof haar kind inneem en hoe dit bydra tot die ADT nie, sê Charlene. “Die ADT is ’n nuttige verwysingsraamwerk wanneer produkte gekoop word omdat die voedingstabelle op die verpakking gewoonlik voedingstowwe volgens hul ADT-persentasies aandui.

Jy kan dus maklik met een oogopslag sien aan hoeveel persent van die ADT onderskeie voedingstowwe in die produk voldoen.

Jy behoort egter nie op grond van die persentasie ADT koskeuses te maak nie. Maak liewer net seker jou kind kry ’n wye verskeidenheid voedselsoorte in.” Hou ook in gedagte dat die ADT vir kinders gewoonlik net te sien is op verpakkings van produkte wat spesifiek vir kinders ontwikkel is. In sulke gevalle sal daar uitdruklik genoem word dat die waardes vir kinders in ’n sekere ouderdomsgroep is.

Kyk uit vir ’n asterisk langs die “% ADT”, wat gewoonlik aandui watter ouderdomsgroep ter sprake is. As daar geen aanduiding is nie, is dit gewoonlik die ADT vir volwassenes.

Goed, beter, beste

As jy graag na die persentasie ADT van die produkte wat jy wil koop kyk, moet jy jou nie laat mislei deur hoë persentasies nie.

“Hoewel dit nuttig is om te sien dat ’n produk tot 75 en selfs 100 persent van ’n sekere voedingstof verskaf, beteken dit geensins dat ’n ander produk wat 10 of 20 persent verskaf minderwaardig is nie.

“Iets soos ’n verrykte ontbytgraan, wat in die eerste plek geëet word vir sy koolhidraat- en veselinhoud, kan dalk 25 persent van verskeie vitamiene en minerale se ADT ook bevat, wat ’n goeie bydrae lewer tot die daaglikse inname van hierdie voedingstowwe," verduidelik Charlene.

Die persentasie ADT op voedseletikette is inligting wat goed is om te weet, maar wat nie gaan bepaal wat jy vir jou kind koop om te eet nie.

Wat is die nut van ADT’s dan? Charlene sê dit word meer algemeen gebruik om eetgewoontes te evalueer of om maaltyd-planne op te stel, veral vir kinders in laer sosio-ekonomiese gemeenskappe waar ’n minimum hoeveelheid voedselsoorte bekostig kan word.

Ekstra bronne: www.betereet.co.za, www.scienceinafrica.co.za, www.sun.ac.za/nicus, www.health24.com/dietnfood/, www.nhlayisa.co.za, www.nap.edu

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees